Alleen

  • 0

Die skertsery aan tafel verstil toe sy onseker by hulle aansluit. Hulle het haar al by die werk gesien, maar sy is nie een van hulle nie. Sy is nie mooi nie, ’n groot vrou, na aan haar 60’s en dis maar eintlik net haar helderrooi rok en blink juwele wat mens opval.

Tussen die uitdeel van prestasietoekennings en niksseggende toesprake deur smelt die koelheid aan tafel weg in die klank van glase en word sy geleidelik deel van die hulle. Mariaan, die alleenvrou met die helderrooi rok. Wanneer die ligte doof en ’n sensuele donkerkop sanger deur flitsende rookwaas oor die verhoog pols met “You are the Champions”, bruis daar skielik lewe deur haar. Ritmies wieg sy saam ... opeens jonger, mooier en begeerliker as haarself.

Lank na middernag, toe die groepie pad-af casino toe drentel vir ’n laaste koppie koffie, gryp sy die ongesproke uitnodiging aan. Vanaand wil sy net nie weer alleen wees nie.

Die enigste plek met ’n oop tafeltjie is in ’n lawaaierige deurnagkroeg waar ’n langbeensangeressie leepoog kroeggangers met karaoke-treffers verlei. Môre begin die jaarlikse musiekskouspel en heelparty van die kunstenaars het mekaar al deur die loop van die aand hier raakgedrink. Met die instap loop hulle in een van die meer bekende sangers vas, ’n groot man met ’n natgeswete bos hare, hopeloos dronk. In die verbyskuur omhels hy haar in ’n wals.

“Hy het my styf vasgehou,” mymer sy, ’n oomblik asemloos, met hoop wat glinster in haar oë. Mariaan kyk terug na hom en dan weer na die groep: “Dink julle hy sal saam met my kamer toe kom as ek hom vra?”

Sy is stil, afwesig, terwyl die kroegman met vraende oë hul bestellings neem.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top