Alleen

  • 0

“Ek wil nie so dubbelkajuitvoertuig ͣ hê nie; selfs al het dit ’n outomaties ratkas ...”
“Daai Nissan se agterlig werk nie; ek wonder hoekom is daar deesdae so baie karre wat ’n 'oog' voor of agter verloor het?”
“Ek hoop Hendri’tjie het ’n lekker dag; dit gaan ’n lang dag wees”....

En weer tref die besef my dat ek alleen in die verkeerstrein sit, met ’n horde ander mense in hul blikgedoentes rondom my en dit pla my dat die radio se gesels, alhoewel baie hoorbaar, net ’n kakofonie van geluide ver in die agtergrond van my bewuste is.

Vir oomblikke in my daaglikse rit na die volgende hoofstuk van ’n dag, is dit asof my gedagtes hardop van hulle laat hoor en die onderbewuste die werklikheid in bedwang neem. Terwyl my gedagtes daaroor en dit en dat en die ander met myself gesels (steeds vreemd om só daaraan te dink en nog meer onverstaanbaar wanneer dit op skrif verskyn), word die mense, karre en klanke weggestoot en tot amper ’n wasige veraf beeld verminder.

En dan begin daar ’n bedrading, met aansluitings en oorplasings, erger as ’n Telkomsentrale, tussen die gedagtes van hier en dan; gister en vandag, maar byna nooit van môre nie. Asof verwek en gebore uit hul reg tot ’n eie bestaan, volg die wisseling van my gedagtes dan hul eie roetes, al is dit vir ’n baie kort tydjie, soms selfs sekondes ...

Terwyl my oë na die rooi ligte van die Toyota voor my staar, hoor my ore die geknars van die metaal en voel my wang die viniel van die sitbank waar my liggaam instinktief deur ’n ontasbare Hand, platgedruk die stuiplike oomblik van ’n ongeluk invaar. My asem raak kort en my oë skeur hulself haastig weg, weg na die Nissan met die dooie agteroog ...

Ek berispe die onnodige gedagtes en dwangvoed hulle met die soetheid van dankbaarheid; die gerusstellende bewustheid dat dit wat kon wees, nie was nie ... en vir waar ek is.

En ek sug.

Kyk na die grys kar langsaan en wonder: “ Waar werk die ou, dat hy so netjies uitgevat is; nogal das en baadjie en al?”

“Hy is ook alleen in die verkeer.” My waarneming spoed in die rondte en daarmee tref die alleenheid my. “Almal is alleen.”

Vanoggend en soms elke ander oggend, dan gaan kuier ek eers bietjie by die sosiale netwerk. Gaan kyk op die bloubladsy wie verjaar en wie het watter snaaksheid te sê of ’n prentjie of foto vir kommentaar geplaas. Dan gesels ons bietjie.

Vanaand sal ek waarskynlik dieselfde doen. Gaan kyk wie het almal kommentaar op my foto geplaas en wie hou hiervan, daarvan en dat. En weer gesels ons bietjie.
Alles alleen. Geen warmbloedige aarkloppende wese om aan te vat nie; net die skerm en die letters, woorde en prentjies. Alleen. Soos in die grys sedan, die Nissan, die Toyota, my gedagtes, my kantoor en ons kamer.

Ek het alleen leer speel en alleen leer werk. Maar, ek was baie lanklaas eensaam. My gedagtes, verbeelding en eie-wees was altyd daar en noudat die afstand tussen my geboortejaar en die huidige verder raak en die twee al hoe meer vreemdelinge vir mekaar raak, nou soek ek willens en wetens daarna; om die vrug te skep van elke geleentheid waar stilte en stilwees en alleenwees, my gees gaan versterk.

Nou wil ek ook meer alleen wees, saam met jou...

***

Nota: ͣ- Neef Philip sê – mens noem dit ’n Toyota, want ’n hond drink uit ’n bakkie uit!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top