Allan Bloom (1930-1992) se The Closing of the American Mind (London: Penguin Books, 1988, 392p) is ’n onwaarskynlike kandidaat vir die blitsverkoperlys. Tog het die buitengewone afset van die boek die outeur welvarend gemaak. Die newetitel is: "How higher education has failed democracy and impoverished the souls of today's students". Bloom se vriend en kollega, die Nobel-pryswenner Saul Bellow (1915-2005), het die voorwoord geskryf en ook ’n biografiese werk oor Bloom, Ravelstein (2000). Bellow skryf: "I would not allow myself to become the product of an environment" (p 13), bedoelende dat ’n mens bokant jou omstandighede moet uitstyg en dat opvoeding dit moontlik moet maak. Soos Honoré de Balzac (1799-1850) moet jy kan sê: "The world belongs to me because I understand it" (p 15). Op ’n universiteitskampus sal jy dan besef "I have become able ... to detect the untreated sewage odors of a century of revolutionary rhetoric" (p 17). (Hoe waar is dit nie deesdae van Suid-Afrikaanse universiteite nie. Die ANC is bykans ’n eeu gelede gestig.)
Bellow verskaf die volgende opsomming: "The heart of Professor Bloom's argument is that the university, in a society ruled by public opinion, was to have been an island of intellectual freedom where all views were investigated without restriction. Liberal democracy in its generosity made this possible, but by consenting to play an active or 'positive', a participatory role in society, the university has become inundated and saturated with the backflow of society's 'problems'. Preoccupied with questions of Health, Sex, Race, War, academics make their reputations and their fortunes and the university has become society's conceptual warehouse of often harmful influences ... Increasingly, the people 'inside' are identical in their appetites and motives with the people 'outside' the university" (p 18).
Dink maar aan die gewilde dogma dat ’n universiteit nie ’n ivoortoring mag wees nie en dat hy naas onderrig en navorsing deesdae ’n derde taak het, naamlik gemeenskapsdiens. Dit word plaaslik verkondig deur rektore wat hoofsaaklik om nie-akademiese redes hulle poste beklee. Let op hoe min onderrig- en navorsingsposte en hoe baie allerhande ander poste, sommige waarvan salarisgewys hoër as ’n professoraat geag word, geadverteer word. Wat nodig is, is om te besin oor die aard van die mens se gees, "a meditation on the state of our souls" (p 19), en die vormende bydrae wat die universiteit daartoe kan lewer. Dit plaas die funksie van die universiteit in die konteks van die gees, nie die liggaam nie. "What man has from nature is nothing compared to what he has acquired from culture" (p 190). "The deepest intellectual weakness of democracy is its lack of taste or gift for the theoretical life" (p 252). Die rektor wat met die oog op die plaaslike sokkerwêreldbekertoernooi met groot gebaar aangekondig het dat sy universiteit ’n sokkerstadion gaan kry, het waarskynlik nog nooit daaraan gedink dat ’n universiteit nie sport- of ontspanningsfasiliteite hoef te hê nie; dat elke student dit, soos vir gimnasiumgeriewe of televisie, volgens behoefte uit sy eie sak kan betaal.
Waar Jacques Barzun (gebore in 1907) van "the house of intellect" praat (SêNet, 17.03.2011), noem Bloom die universiteit "the home of reason" (p 22). Sy uitgangspunt is dat alle waarheid nie relatief is nie, maar rasioneel ontdek moet word. Ook dat almal in ’n vrye of demokratiese samelewing nie eenders is nie. Soos Friedrich Nietzsche (1844-1900) dit gestel het: "Inequality among men is proved by the fact that there is no common experience accessible in principle to all" (p 201). "Equality ... has no place for genius" (p 223-224). "In egalitarian society practically nobody has a really grand opinion of himself" (p 250). "A permanent feature of democracy, always and everywhere, is a tendency to suppress the claims of any kind of superiority" (p 329). Waardes en kulture verskil en daar moet hiervan kennis geneem word ter verryking van jou eie. Die verlede is nie noodwendig sleg vanweë slawerny, rassisme, ens, nie. Waarna Bloom mik, is dat daar grootse werke in die literatuur beskikbaar is wat met vrug bestudeer kan word, al is hulle in die meeste gevalle deur wit mans geskryf. "There are great wise men in other places and times who can reveal the truth about life" (p 34). Die opvoedingsmotief is "the search for a good life" (p 34). Wat nodig is, is openheid van gees. Openheid is "the virtue that permitted us to seek the good by using reason" (p 38). "True openness means closedness to all the charms that make us comfortable with the present" (p 42).
Johannes Comestor

