Met soberheid het Iris Murdoch (1919-1999, SêNet, 22.08.2011) "the human capacity to deceive itself" beklemtoon: "One should go easy on smashing other people's lies. Better to concentrate on one's own" (p 65). Daar is baie religieë. Alle volgelinge maak hulle nie aan geweld skuldig nie. Baie lei voortreflike lewens. Alles wat geglo word, is nie irrasioneel nie. "It wasn't that humanity was originally irrational in believing in God; that just seemed the best way of making sense of things back in the Bronze Age when nobody knew any better" (p 65).
Alle opvattings van ateïste en wetenskaplikes is nie rasioneel nie. Daar is baie dinge wat hulle glo (dus aanvaar in ’n nie-religieuse sin; onderskei "belief" en "faith") omdat hulle dit nie kan bewys nie, bv dat daar môre nog ’n dag gaan wees. McGrath noem in hierdie verband tereg ook Kurt Gödel (1906-1978) se onvolledigheidsteorie (p 67). Selfs Dawkins gee toe dat "Darwinism may eventually turn out to be wrong" (p 74). Soos verwag, hou McGrath van die Oerknal-hipotese: Dit "resonates strongly with the Christian doctrine of creation" (p 85). Maar die Oerknal kan ’n sikliese verskynsel wees (SêNet, 5.03.2010) of die heelal kan sonder ’n begin wees (SêNet, 4.10.2011). Let op hoe vindingryk (of slinks) formuleer William Lane Craig sy hoofpremis: "Whatever begins to exists has a cause" (p 85). As "begins to" weggelaat word, is ons by die moontlikheid dat alles wat bestaan nie ’n oorsaak hoef te hê nie, of dit nou die heelal of ’n skeppergod is.
McGrath hou ook van die mening "that the universe came into being 'fine-tuned' for life" (p 85). "It resonates strongly with the Christian way of thinking" (p 86). Ook hieroor het McGrath ’n boek geskryf: A fine-tuned universe (2009). Maar in die antropiese beginsel is daar dalk nie meer te lees nie as dat lewe (in ’n mate – dink aan die talle plant- en diersoorte wat uitgesterf het) die vermoë het om by die omstandighede aan te pas. Uiteindelik kom McGrath by die volgende vergesogte stelling: "The rise of fantasy writings ... is an important reflection of this loss of confidence in the existential adequacy of scientific rationalism" (p 86).
"One of the reasons Christianity makes such a powerful appeal to humanity is its ability to make sense of our experience" (p 97). Dit geld (in ’n mate) vir christene. Filosowe en wetenskaplikes kan ander maniere gebruik om hulle ervaring sinvol te maak. Volgens Francis Quarles (1592-1644) "our soul is like an iron needle drawn to the magnetic pole of God" (p 97). Maar die bestaan van sowel ’n siel as God word deesdae dikwels ontken, selfs in religieuse kringe. Verwysend na sy boek se titel beweer McGrath "religion will not and cannot disappear". Hy grond dit op die sielkundige behoefte by mense aan onsterflikheid of ’n lewe na die dood. Ten slotte kom hy by "the obvious fact that most people experience religion as liberating and supportive" (p 98). Is dit "obvious"? Geld dit "most people"? Religie kan ondersteunend wees, maar is dit in dieselfde mate bevrydend of is daar eerder gebondenheid? Volgende keer skryf ek oor ’n vorm van religieuse bevryding, naamlik christelike ateïsme.
Johannes Comestor

