Alister McGrath: Why God won't go away I

  • 0

Ek het voorheen oor die Nuwe Ateïsme geskryf (SêNet, 12 en 30.03.2010). In sy boek, Why God won't go away: Engaging with the New Atheism (London: SPCK, 2011, 118p), sonder Alister McGrath dieselfde vier outeurs uit as die hoofverteenwoordigers van hierdie beweging: Richard Dawkins, Daniel Dennett, Sam Harris en Christopher Hitchens. Dit is nie die eerste keer dat hierdie teoloog ’n boek oor hierdie onderwerp publiseer nie. Ek kan nie beweer dat dit sy jongste boek is nie, want hy het vanjaar minstens drie boeke gepubliseer. Ek het ’n aantal jare gelede sy boek, The twilight of atheism: The rise and fall of disbelief in the modern world (2004), gekoop en gelees (SêNet, 27.01.2011).

Iemand wat so baie skryf, moet feitlik noodwendig reeds gepubliseerde inligting in sy daaropvolgende boeke in herverpakte vorm aanbied. Dit is wat hier gebeur. In laasgenoemde boek beweer McGrath dat ateïsme kwyn en religie herleef. Die hoofrede vir sy bevinding is die mate van religieusheid wat na die val van Sowjet-kommunisme in Oos-Europa en Rusland na die oppervlak gekom het. In eersgenoemde boek grond hy sy optimisme op presies dieselfde verskynsel. Veralgemenend sou ek beweer dat religieuse geloof by ontwikkelde mense afneem. Na mate mense minder ontwikkeld is, neem religieuse aanhang toe, maar dit moet opgeweeg word teen ’n moontlike progressiewe globale toename in ontwikkelingsvlak.

Die arrogante, selfversekerde, dogmatiese, selfs fanatiese trant van die Nuwe Ateïste is ’n maklike teiken vir McGrath se aanvalle. Met sy keuse van gegewens en die manier waarop hy die stof aanbied (bv sy woordkeuse) kan McGrath onkritiese lesers oortuig. Maar sy slegsêery van daardie vier outeurs is dalk net so oordrewe as die oordrywing waarvan hy hulle beskuldig. Hy doen nie Benedictus Spinoza (1632-1677) se riglyn eer aan nie: "I have made a ceaseless effort not to ridicule, not to bewail, not to scorn human actions, but to understand them" (p 11). Wat ek veral bedenklik vind, is dat McGrath die ongefundeerde uitlatings van ongeskoolde skrywers op die Nuwe Ateïste se webwerwe misbruik om hulle te diskrediteer.

McGrath noem dat die "9/11"-gebeure die aanleiding vir die Nuwe Ateïste se skerp kritiek op religie was. Daarna som hy die vier outeurs se standpunte op. Niks hiervan is nuut nie. Wat hy byvoeg, is inligting oor die debatte wat op die verhoog en in die pers aan albei kante van die Atlantiese Oseaan gevoer is. Dit is inligting wat nie so geredelik in Suid-Afrika bekend is nie. Ek stem saam met McGrath se evaluering dat die filosoof Dennett se geskrifte rasioneel meer sin maak as die woordrykheid van die joernalis Hitchens en die emosionele uitbarstings van die bioloog Dawkins en die neuroloog Harris. Hy noem ook dat van die vier dit eintlik net Dawkins en Hitchens is wat bekendheid in Brittanje verwerf het (p 36-37). Dennett en Harris is Amerikaners. McGrath is myns insiens in die kol met sy waardering vir die gematigdheid van Julian Baggini (p 30, 65), wie se Atheism: A very short introduction (2003) van die beste werke oor hierdie onderwerp is. Dit is gepubliseer voordat die Nuwe Ateïste op die toneel verskyn het. Soos McGrath vind ek die gebruik deur Dawkins en Dennett van die term "Brights" as ’n sinoniem vir ateïste verwerplik.

Hy verwys na Mark Juergensmeyer wat beweer "that religion, while rarely being itself a direct cause of war and violence, can provide a potent and persuasive moral justification for violence as a form of resistance to perceived injustices and inequalities" (p 6). Met daardie "rarely" kan kwalik saamgestem word. Ons het natuurlik weens die Kairos-besluit eerstehandse kennis van die geweld wat plaaslik tydens die sogenaamde bevrydingstryd deur kerklikes aangehits en goedgepraat is. Dat McGrath met sulke geweldenaars simpatie het, blyk uit sy waardering vir Martin Luther King (p 21). "One inspiring example of a lived-out ethos of non-violence, grounded in the Christian faith, is that which undergirded Martin Luther King's campaign for civil rights" (p 49). Dit bly vir my onaanvaarbaar dat ’n akademikus respek vir iemand soos King kan hê, terwyl dit ’n onomstootlike feit is dat King plagiaat met sy doktorale proefskrif gepleeg het. Om Jesus as gekant teen geweld voor te stel ("draai die ander wang"), kan ’n halwe waarheid wees, want Jesus het mense met geweld uit die tempel verdryf.

Vervolg ...

Johannes Comestor

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top