Alastair Hazell: The Last Slave Market

  • 0

Deesdae word geredeneer dat Europeërs nie iets in Afrika (bv die Victoria-waterval) kon ontdek het nie omdat swartes toe al eeue daarmee bekend was. Tog bied die literatuur oor hierdie ontdekkingsreisigers fassinerende leesstof. Dit is veral die deursettingsvermoë van baie van hulle wat my beïndruk. In Wes-Afrika was daar Mungo Park (1771-1806) wat die loop van die Nigerrivier wou bepaal. In Oos-Afrika het David Livingstone (1813-1873) gepoog om die oorsprong van die Nylrivier vas te stel. Die skilder en tekenaar Thomas Baines (1820-1875) was lid van Livingstone se vroeëre Zambezi-ekspedisie. [Marthinus van Bart verwys na hom (SêNet, 12 deser, p 154).] Henry Morton Stanley (1841-1904) is gestuur om Livingstone in Afrika op te spoor, waarin hy in 1871 geslaag het.

John Kirk (1832-1922) was van 1858 af jare lank deel van Livingstone se Zambezi-geselskap. Van 1866 af was hy die Britse regering se medikus, van 1869 af die waarnemende konsul en van 1873 af tot 1886 die konsul in Zanzibar. Daar het sy paaie met dié van Stanley gekruis. Tim Jeal het omvattende biografieë oor sowel Livingstone (1973) as Stanley (2007) geskryf. Die eintlike onderwerp van my skrywe is Alastair Hazell se boek, The Last Slave Market (London: Constable, 2012, 369p, R175). Daarin is Kirk die kernkarakter: "My book mainly concerns John Kirk" (p 330). Wat opval, is dat Kirk goed en Stanley minder goed in Hazell se boek voorgestel word, terwyl dit andersom in Jeal se boek is. Albei outeurs toon aan dat Livingstone in werklikheid 'n onheilige heilige was. [In die nuwe Suid-Afrika is onheiliges, wat feitlik ten alle koste as heilig voorgestel word, natuurlik nie onbekend nie.] Hazell voer aan dat dit destyds in Brittanje absoluut dwaas van Stanley en Kirk sou wees as hulle enigsins aan Livingstone se oorgunstige beeld probeer torring.

Geografiese oorwegings het meegebring dat Westerlinge vroeër met Wes- as met Oos-Afrika bekend geword het. (Die Suez-kanaal is eers in 1869 geopen.) Geskrifte oor slawerny fokus by voorkeur op Wes-Afrika en die trans-Atlantiese slawehandel (SêNet, 12 deser). Livingstone en Stanley het Afrika egter van die oostekant af benader. Livingstone het hom dikwels teen slawerny uitgespreek, maar hy was van slawe vir die vervoer van sy voorraad afhanklik, asook van die beskerming van slawehandelaars. Wat slawerny betref, is Stanley se beeld selfs minder gunstig. Hy het geskryf: "The savage only respects force, power, boldness, and decision" (Wikipedia). Die groot bate van Hazell se boek is dat dit oor 'n relatief verwaarloosde onderwerp, slawerny in Oos-Afrika, handel. Dit gaan hier om swart slawe, Arabiese slawehandelaars, Indiese befondsers van die slawebedryf, (veral) Arabiese/Moslem slawe-eienaars, asook wittes (veral die Britte) wat die slawehandel (sedert 1807) en uiteindelik slawerny as sodanig (sedert 1833) wou uitroei.

Die Britte het langer as drie eeue veral trans-Atlanties slawerny bevorder. "Britain during that time had become the greatest beneficiary and the most extensive practitioner of the [slave] traffic" (p 11). Dit moet gekontrasteer word met die latere situasie waarin Kirk hom op Zanzibar bevind het: "He represented a country for which slave trading was a particularly loathsome and immoral activity" (p 9). Vanweë religieuse ondersteuning was slawerny in Moslem-samelewings eeue lank die aanvaarde praktyk. "Slavery was intrinsic to Islam itself ... all Mahomedans ... had a right to enslave infidels" (p 23). Die slawemark in Zanzibar dateer terug tot die 18de eeu (p 18). Nadat slawe hulle tot die Moslem-geloof  bekeer het, is hulle vrygelaat, want 'n Moslem mag nie 'n mede-Moslem verslaaf nie. Hierdie praktyk het voortdurend 'n nuwe vraag na slawe gevoed (p 13).

Anders as wat Hazell se boektitel te kenne gee, was Zanzibar nie letterlik die laaste slawemark toe die sultan in 1873 slawehandel verban het nie. In die teks noem Hazell dat Zanzibar in die 1870's bloot "one of the last major sources of slaves in the world" was (p 8). [In Moslem-lande is vroue vir haremdoeleindes uit veral die Balkans en Kaukasië ("Circassian beauties"), verkies.] Die 1873-verbod was egter, ten minste wat Westerlinge betref, 'n belangrike keerpunt. Marthinus van Bart noem dat 'n laaste besending slawe in 1929 deur Murzuk in Libië beweeg het (SêNet, 12 deser, p 52). Hazell verwys na die slawemark in Marrakech, Morokko, wat tot in die 20ste eeu voortbestaan het (p 25). Maar tot op hede is daar steeds slawerny in Afrika-lande soos Benin, Mauritanië, Nigerië en Soedan (SêNet, 6 Nov). Omdat swartes en Arabiere daarby betrokke is en nie wittes nie, het die verontwaardiging oor slawerny egter merkbaar afgeneem.

Die eilande Zanzibar en Pemba, asook die Afrika-ooskus, van Kilwa in die suide tot by Lamu in die noorde, was in die 19de eeu onder die beheer van die sultan van Oman. In 1838 het Seyyid Said sy hoofkwartier van Muscat, Oman, na Zanzibar verskuif (p 15). Kilwa was die versamelsentrum vir slawe uit Oos-Afrika. Hulle is daarna in Zanzibar opgeveil en hoofsaaklik na Arabiese en Moslem-lande, soos Persië/Iran, versprei. Die Britte het in 1807 internasionale slawehandel verbied en toe jag begin maak op skepe wat slawe vervoer. In 1822 het die owerheid in Zanzibar ingestem tot 'n verbod op slawehandel met Westerse skepe (p 14) en in 1845 tot 'n verbod op die uitvoer van slawe uit Afrika (p 24). Daarna is voorgegee dat slawe slegs binne Zanzibar se gesagsone (veral van Kilwa na Zanzibar en van Zanzibar na Lamu), dus binne 'n land en nie internasionaal nie, vervoer word. In werklikheid is die meeste slawe steeds na Arabië en ander Moslem-lande uitgevoer.

Aanvanklik het die Britte hierdie handel magteloos gadegeslaan: "Whitehall did not think that trafficking on the east coast of Africa should be judged in the same way as the Atlantic trade," want by die Britte was daar "reluctance to force western habits on non-European cultures" (p 218). Na 'n gekose komitee van die Britse parlement in 1871 slawerny ondersoek het, het hierdie standpunt amptelik verander. Die uitwissing van slawerny het vir die Britte 'n morele verpligting geword. "Slave trading was wrong and that was all there was to it" (p 235). Bartle Frere (1815-1884) is in 1872 na Zanzibar gestuur om 'n nuwe ooreenkoms met die sultan aan te gaan, maar hy kon nie daarin slaag nie. [Frere was later die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika (1877-1880). 'n Dwase ultimatum aan Cetshwayo in 1878 het tot die Anglo-Zoeloe-oorlog gelei (p 348). Frere het dit teen die "rising of Kaffirdom against white civilization" gehad (Wikipedia).]

Vanweë veral Kirk se ywer, is die sultan in 1873 oortuig om alle slawehandel ter see en in 1876 ook op land te verbied. Met Britse skepe, danksy stoomskepe wat reeds in algemene gebruik was, is die verbod daarna in die Indiese Oseaan afgedwing. Die Arabiese slawehandelaars het toe hulle strategie verander deur die slawe oor land van Kilwa na Somalië (bv die slawemark in Berbera) aan te jaag. Ook op hierdie praktyk het die Britte op die vasteland toegeslaan en dit mettertyd grootliks uitgeroei. Teen die einde van die 1870's was "slave trade for all practical purposes over and done ... Intermittent dealing in small numbers up and down the coast continued until the end of the century" (p 309).

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top