www of te niet, solank Mens se werkstuig doel verrig,
gelankies Mens Mens, idealisties-idillies, ultra-pseudo-
romanties, ultra-onrealisties, -onkund’-ontkennend,
stylvol, na gelang van smaaksgemeendelerdheid,
voortgaan op syspoor, dwaalweg, pad-af, verlore
o Allah, Magtig, Kragtig, kanala, Millennium Drie,
nie eintlik tyd vir sissies, klakouse, rusbankpolitici,
ai, Lief, Moeder Afrika, Uwe Kjenners gaat tekere,
www of te niet, oorlog teen eie, op eie stamgrond
hoe lank al loop mens, onmenswaardig, geweteloos,
sonner enige Gewete, sonner medisyn vir allie skete,
sonner ‘n spiritueel bewussyn, bewusmaking, wording,
van Mens, aan Naaste, fisies, psigies, veral Spiritueel
in bloedspoor, al bly Mens nog lief vir mede-Mens ontmens,
vir altyd in tronk indruk, lewenslank, in nommerslatbank,
op permanent gevangene-lys, Geweteloos, sonner sprake,
van godheid, selfs nie eens “Duiwelspiek”-dissipelskap, ja
Mens oor allie eeue heen, nie juis vyand op hanne wil dra
in enige stryd syn samewerking noodsaaklik, Mens,
hoe Mens, Zabalazaïsties, (r)ewolusionêr, beginne,
wetenskaplik inisieer, tot praktykmaking, kloning,
ideologies implementering, geneties manipulering,
bestraling, agitproppifisering, vergassing, fracking,
aardverwarming, Self-destruksionisties, destruktief,
ruk Self Self, stuk vir stuk, uit Mens se Self, Eie, uit,
kwasi-pseudo-submissief, aan wil en lis, van sjatan,
heerser van onkunde-ontkenningskunde-akademie,
sado-masochisties, Self-gewelddadig, selfvernietigend,
Millennium Drie Mens, Homo Sapiens, se gedrag, nu,
baie vroeg in Millennium Drie, nie na wens, nee, und,
auch, ai, Mens vernietig Self, gee Haar oor aan lis,
smoothifiseerder van oorlogstruktuurgeweldsvrugte,
geweld van een Homo Sapiens versus meeste Ander
wat het dan als van God se Spiritualiteit, Intelligensie,
engele, profete, apostels, wedergeborenes, predikers,
imams, rabbi’s, bemarkers, paparazzi, navolgers, borge,
waar is nou daai naasteliefde, God se Wet Nommer Een,
waarheen vat Mens dan nou sy of haar of hulle sonde,
as Mens dan so mooi weet wat níé goed vir Mens is?
solank instrumente noggul arbeid wetenskaplik verrigte,
gelankies Mens, idillies-romanties, intellektueel, stylvol,
Gewete-herwinningsgesind, waarlik intra-sosio-akademies,
aan medemens, Naaste, ko-Aardling, mede-Planeet-bewoner,
sal tutoriseer, vol Liefde sal internaliseer, agitproplik pro Deo,
flankeer met Vader se Liefde, vir suiwer rym, vir neo-poëtastery,
vir paring, aangetrokkendheid tot, bereid tot amnesie-afskeid,
post-koïtale vrae en antwoorde, interaksie, progressief, oopkop,
loslip, al is’t net via satelliet, van een gebruiker na ’n ander, ja,
al probeer Millennium Drie Mens nie juis poging, duidlik t’verstaan,
t’begryp, retrospektief, inkennend, waaroor dees Krisis eintlik gaan
selfs www of te niet ook maar net ’n vae illusie, hersenskim,
woorde soms net te afstandelik, behoorlik t’kan binnedring,
t’penetreer, tot terrein van Gewete, as Gewete buite werking,
onverklaarbaar, maar waar, in besit van sjatanspiek-ikoon,
guru, maneuvreerder, taktikus, verleider, demoon se hanne,
aan verkeerde kant vannie draad, aan sjatanskwaadkant,
teen Lewe Twee, Paradys, Oorlewing vannie Sterkstes, is,
versus ontluiking van medemenslikheid, o, Almagtigheid,
Waarheid en Geregtigheid, vir meerderheid, inshallah,
streng volgens U Wil, U Begeerte, U Wens, U Behae
www of te niet, Mens’t nie eintlik veel vanne keuse,
verwys al meer webwerwe al meer na U Afwesigheid,
selfs in Afrikaans’t U Gees al gewyk, uit hart, siel, lyf,
soos Eerste Mens, toentertyd, uit eie woongebied uit,
verban na struktuurgeweldkalahari, Self-destruksie,
toegewyd tot “Duiwelspiek”-ikonies neo-lib-apartheid
selfs eie moedertaal se verhaal amnesieus-onvolledig,
al begeer baie Afrikaanses, in suiwer Afrikaans, moer,
vir ewig deel van Groter Geheel, van U Meerderheid,
in Oerkontinent, nes Eerste Mens, uit trauma gered,
te wees, nou, in Lewe Een, net so ook in Lewe Twee
Jacobus Faasen

