Agteruitgang

  • 1

Ek stap nou die dag by die TV verby en daar is die allermooiste meisie – gee die indruk van 'n goud-sepia-tipe foto in 'n goue raam geneem in goue lig in 'n goue raam, te pragtig – besig om dankie te sê vir 'n prys wat sy gekry het. Sy sê dankie vir die mense wat vir haar gevote het; sy het nooit gedink daar gaan so baie mense vir haar vote nie en in dieselfde asem vertel sy hoe lief sy vir Afrikaans is. Maar sy praat van 'vote' in plaas van 'stem',  kan jy glo.

Ek bly toe kyk want Steve Hofmeyr verskyn toe op die kassie; die program blyk toe die uitsending van die Ghoematoekennings te wees. Steve, loof hom, gebruik toe sommer ook die geleentheid om 'n lansie vir Afrikaans te breek. Dis prysenswaardig, Steve is een van die mense wat bereid is om nek uit te steek maar hy gebruik toe onder andere 'great' en 'I love it!'. Maar mens kan hom seker vergewe hiervoor want dit is onbeduidend gemeet teen die energie wat hy spandeer in die stryd vir die behoud van Afrikaans.

Toe kom die ergste: Die krediete dink ek noem hulle dit, die titels en name van die span wat verantwoordelik vir die produksie was, rol oor die skerm en omtrent alles is verkeerd gespel! 'Beligtingsontwerp' spel hulle korrek, een woord, een woord maar 'stelontwerp', byvoorbeeld, spel hulle 'stel ontwerp', twee woorde. Die hele storie was deurspek met sulke spelfoute. Wat gaan aan? Is daar nie taalversorgers by kykNET of Blixemproduksies nie? Wat van Afrikaanssprekende mense op die stel, al is dit die ou wat die kos maak, kan hulle nie die foute uitwys nie?

Dit is 'n groot raaisel en 'n groter verleentheid.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan Rap, wat kan mens nou eintlik verwag van 'n maatskappy wat hulself "blixemproduksies" noem. Hierdie jong mense dink hulle is so "cool" met hulle snaakse woordjies, dat hulle geensins meer enige respek het vir beskaafde Afrikaanse taalgebruik nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top