Agterstories: Waarom belê Afrika in God?

  • 0
  • Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse. 

Tydens ’n onlangse reis na Accra het ek my hotel verlaat en die stad ’n bietjie gaan verken. Só beland ek by ’n doodskismaker – en nie sommer enige kis­maker nie, maar een wat spesialiseer in Ghana se beroemde fantasiekiste. Hierdie skeppings lyk na enigiets behalwe ’n kis: ’n vis, ’n selfoon en my persoonlike gunsteling, ’n krap. Ek was nuuskierig wat hulle kos. Die vakman verduidelik dat ’n plaaslik-vervaardigde kis van inheemse hout die koper sowat $1 000 uit die sak jaag. Vir uitvoerkiste gebruik hulle ingevoerde hout en dan begin die prys by $4 000. Intussen lê Ghana se BBP per capita net oor die $2 000. Waarom, kan ’n mens dus tereg vra, sou iemand byna die helfte van ’n jaar se inkomste bestee aan iets soos ’n doodskis wat net vir ’n paar dae gesien word en dan onder die grond gaan lê en vrot?

Hierdie vraag het ek onlangs gestel aan Paul Seabright – die outeur van The divine economy: How religions compete for wealth, power, and people – toe hy inloer op die Our Long Walk-podsending. Sy antwoord begin by die idee van sinjalering, oftewel signalling, maar dit eindig nie daar nie.

“Die konsep sinjalering,” verduidelik hy, “gaan terug na Thorstein Veblen, wat geskryf het oor hoe mense geld mors as ’n teken van welvaart. Die nutteloos­heid ís die punt. Dit is ’n trotse, amper uitdagende manier om te wys dat jy dit kan bekostig om ’n fortuin te spandeer op iets moois wat binnekort onder die grond gaan verdwyn. Wanneer ons ’n geliefde begrawe, voel dit edel om iets te gee wat saam met hulle vergaan. Dít is hoekom ons blomme by die graf sit: Hulle sal die blomme nooit sien nie, maar ons wil iets moois agterlaat wat net soos hulle verganklik is.”

Seabright vertel verder dat toe hy en sy kollegas vir mense begrafnisversekering aangebied het, dit vir hulle waardevol was. Al hou mense nie van die gedagte om dit uit te neem nie, huiwer hulle nie vir ’n oomblik wanneer ’n geliefde sterf om hul beursies oop te maak nie.

Wat dalk soos ’n vermorsing lyk, kan vanuit ’n ekonomiese perspektief ook verstaan word as ’n teken van solidariteit. As ’n mens daardie logika verder voer, sien jy die breër rol wat godsdiens vandag in Afrika se ekonomieë speel. ’n Onlangse NBER-studie deur Sara Lowes, Benjamin Marx en Eduardo Montero wys duidelik dat godsdiens nie in ontwikkelende wêrelddele afgeneem het soos die klassieke teorieë van sekularisasie voorspel het nie. Inteendeel, dit het bly voortbestaan en in sommige gevalle selfs uitgebrei. Die rede hiervoor is eenvoudig: Godsdiens pas aan by sosiale en ekonomiese omstandighede. Dit help mense om risiko te bestuur en voorsien dienste waar die staat afwesig is.

Die outeurs toon die verskille duidelik aan. Opnamedata oor die afgelope vier dekades wys dat geloof en kerkbywoning in Europa en Noord-Amerika afgeneem het, terwyl dit in groot dele van Afrika, Asië en die Midde-Ooste stabiel gebly of selfs toegeneem het. In Afrika suid van die Sahara word formele Christendom en Islam beoefen, naas tradisionele geloof in voorouers, towery en geeste. Hierdie oortuigings is nie argaïese oorblyfsels nie, maar lewende betekenisstelsels wat mense help om onsekerheid te navigeer. Godsdiens, so blyk dit, neem telkens nuwe vorme aan om dié behoeftes aan te spreek wat markte dikwels nie kan vervul nie.

As ’n mens dit só beskou, is Ghana se uitspattige kis­te nie regtig ’n raaisel nie, maar deel van ’n groter patroon. Hulle is duur sinjale wat die gemeenskap versterk juis in oomblikke van kwesbaarheid. Dieselfde dinamiek verklaar die gewildheid van welvaartskerke en -prediking, genesingsveldtogte en gebedskampe. Godsdienstige instellings dien as platforms wat sowel geestelike troos as tasbare ondersteuning bied. Hulle floreer juis omdat hulle aanpas.

’n Tweede NBER-studie deur Eduardo Montero, Dean Yang en Triana Yentzen stel hierdie idee nog skerper op die proef. Dit kyk na die Sewendedag-Adventistekerk, wat sy lidmate verbied om tabak, koffie of tee te verbou. In streke waar daardie gewasse winsgewend is, beteken kerklidmaatskap dus dat mense hul inkomste prysgee. Deur gebruik te maak van globale prysindekse en kaarte wat wys watter gewasse geskik is vir sekere streke, bereken die outeurs die geleentheidskoste van hierdie kerklidmaatskap, jaar op jaar, regdeur Afrika suid van die Sahara. Die resultate wys dat wanneer die pryse van hierdie verbode gewasse styg, neem die groei in kerklidmaatskap af. Mense huiwer om aan te sluit as die ekonomiese opoffering te groot raak.

Maar instellings pas aan. Plaaslike Adventistekerke belê meer in skole en klinieke en maak só die koste van kerklidmaatskap aanvaarbaarder deur nuwe voordele aan te bied. Hulle versag ook hul boodskappe oor ’n “gesonde leefstyl”. Lidmate in hoë koste-gebiede sê dat hulle minder hoor van streng verbodsbepalings en erken makliker dat hulle tabak gebruik of alkohol drink. Tevredenheid en langtermyn lojaliteit teenoor die kerk neem wel af. Wat egter duidelik word, is dat godsdienstige organisasies nie onwrikbaar vashou aan hulle leerstellings wanneer die ekonomiese realiteit verskuif nie. Hulle maak marginale toegewings om lidmate te behou. Hierdie aanpassing is nie toevallig nie; dit is deel van hul groei.

Wat beteken dit vir ontwikkeling? ’n Oorsigartikel in die Journal of Economic Literature deur Sascha Becker, Jared Rubin en Ludger Woessmann bied ’n raamwerk. Hulle sê godsdiens beïnvloed ekonomiese groei deur dieselfde hoofbestanddele wat in enige ekonomie saak maak: kapitaal, arbeid, vaardighede en tegnologie. Dit kan vertroue, spaarsamigheid en menslike kapitaal bevorder. Godsdiens kan wel terselfdertyd ook hulpbronne wegwys, ondersoek beperk en innovasie aan bande lê. Die uitwerking daarvan is dus voorwaardelik – dit verskil na gelang van konteks en wyse waarop dit geskied.

Kom ons neem menslike kapitaal as voorbeeld. Godsdienstige instellings speel ’n groot rol in die verspreiding van onderwys in Afrika – van negentiende-eeuse sendingstasies tot vandag se geloofsgebaseerde skole. Tog kan hulle ook streng grense stel en leerplanne beperk. In ’n ander Our Long Walk-gesprek verduidelik Olúfẹ́mi Táíwò dit só: Universiteite in Afrika loop die gevaar om dienaars van godsdiensgesag te word eerder as die enjin van wetenskaplike vooruitgang. “Afrika is die enigste kontinent waar die wetenskaplike revolusie geen merk gelaat het nie. Net die universiteite kan dit regmaak. Maar hulle doen dit nie.” Vir hom is die groeiende invloed van geloofsgebaseerde universiteite ’n ernstige struikelblok vir modernisering. Die risiko is nie net dat rituele floreer nie, maar dat dit die stadige begrafnis is van die einste instellings wat die dryfkrag van innovasie moes wees.

Dieselfde goue draad loop van Ghana se doodskiste tot by Afrika se universiteite: Godsdiens pas aan by ekonomiese druk, maar dit stel ook grense. Dit bind gemeenskappe en bied dienste, maar dit kan net so maklik kritiese denke en wetenskaplike vooruitgang vertraag. Die uitdaging vir beleidmakers is om albei kante van die saak raak te sien.

Krapmentaliteit: Hierdie kis is seker maar vir dié wat geniepsig-kompeterend is. (Foto: Johan Fourie)

Drie lesse volg hieruit. Eerstens: Wat na vermorsing lyk, kan in werklikheid sosiale kapitaal wees. Uitspattige rituele help om risiko te dra en gee waardigheid. Ekonomiese denkers moet dus waak daarteen om dit bloot as ondoeltreffendheid te sien. Tweedens: Godsdienstige instellings is aanpasbare verskaffers. Wanneer die koste van lidmaatskap styg, belê hulle in plaasvervangers. Dit maak hulle potensiële vennote vir regerings, veral op die gebiede van onderwys en gesondheid. Derdens: Godsdiens kan groei stuit, veral wanneer dit die wetenskap verdring. Die uitdaging is om instellings te ontwerp wat met geloof saamwerk waar dit nuttig is, maar die outonomie van kennis beskerm waar dit nodig is.

Godsdiens gaan, soos ek al ’n paar jaar gelede genoem het, net soveel oor ekonomie as oor geloof. In Afrika is die ekonomie van godsdiens in wese die maniere waarop gemeenskappe hulleself verseker, opvoed en organiseer wanneer die staat dun gesaai is en moderniteit ongelyk versprei is. Die fantasiekis is dus nie net ’n kunswerk of ’n geloofsimbool nie. Dit herinner ons daaraan dat mense bereid is om hulpbronne te spandeer aan dit wat hulle saambind. ’n Slim beleid werk met daardie menslike feit saam en nie daarteen nie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top