- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Die een voordeel van in Afrika woon, is dat ons almal saamstem dat dit verskriklik is om arm te wees.
’n Malawiese vrou wat tamaties langs die pad verkoop, het nie ’n lesing oor sogenaamde planetêre grense nodig nie. Sy verstaan presies wat ’n hoër inkomste beteken – die kans om dalk skoolgeld te kan bekostig, ’n lekkende dak te vervang of ’n paraffienstoof te koop sodat sy nie oor ’n oop vuur hoef te kook nie. Aan die ander kant van die vasteland bou ’n Nigeriese entrepreneur ’n klein fabriek, hy stel werkers aan en bekom kapitaal. Vir hom is groei nie ’n teorie nie; dit is die fondasie waarop hy sy toekoms bou.
’n Nuwe studie, in die gesaghebbende akademiese tydskrif The Lancet gepubliseer, stel voor dat die Malawiese vrou en Nigeriese entrepreneur verkeerd is. Volgens hierdie artikel behoort hulle nie om te gee oor hoër inkomste, beter infrastruktuur of ekonomiese geleenthede nie, maar eerder oor welstand binne planetêre grense. Hulle behoort ook nie daarna te streef om soos mense in hoë-inkomste-lande te leef nie – dit sou onvolhoubaar wees. In plaas daarvan moet hulle vervulling vind in ’n wêreld met minder. Minder produksie, minder verbruik, minder groei.
Dalk is hierdie interpretasie te kras. Die mees toegeeflike lees van die kwyngroeibeweging1 (“degrowth movement”) soos die outeurs van die studie dit voorstel, is dat hoë-inkomste-lande moet wegbeweeg van die BBP as beleidsdoelwit. Hulle moet dan eerder fokus op herverdeling, universele basiese dienste en verkorte werksure om indiensneming en maatskaplike stabiliteit te behou sonder dat voortgesette vooruitgang noodsaaklik is.
...........
In hierdie weergawe van kwyngroei sal armer lande steeds toegelaat word om te groei, maar net tot ’n “genoegsame” lewenstandaard gehandhaaf kan word.
...........
In hierdie weergawe van kwyngroei sal armer lande steeds toegelaat word om te groei, maar net tot ’n “genoegsame” lewenstandaard gehandhaaf kan word. Ons moet dus almal soos Costa Ricane leef.
Ek is seker Costa Rica is ’n pragtige plek, maar hierdie outeurs se argument berus op ’n fundamentele fout – hulle meen dat vooruitgang en volhoubaarheid twee onversoenbare begrippe is. Hulle dring daarop aan dat ekonomiese groei nie binne omgewingsperke kan plaasvind nie, dat “volledige ontkoppeling” van die BBP, koolstofemissies of hulpbrongebruik wensdenkery is. Dít is egter eenvoudig nie waar nie.
Talle hoë-inkomste-lande het reeds hul emissies van ekonomiese groei ontkoppel. Hulle produseer meer terwyl hulle minder besoedel. Die grafiek hier onder toon byvoorbeeld die jaarlikse koolstofemissies per vasteland. Daar is baie om te sê oor die algemene styging in Asië, veral China en Indië, maar dit is duidelik dat emissies in Europa sedert die 1990’s en in die VSA sedert die 2000’s aansienlik gedaal het.
Die groot les is dat dinge soos hernubare energie, koolstofopvangs, presisieboerdery, ontsouting, kernversmelting en gevorderde energieberging nie die vrugte van stagnasie is nie, maar van innovasie, moontlik gemaak deur welvaart. Hierdie uitvindings kom nie van lande wat hul groei doelbewus beperk het tot die vlak van Costa Rica nie – dit is die produkte van ekonomieë wat in navorsing belê, risiko’s beloon en vooruitgang omarm.
...........
Hoe ryker ’n land word, hoe meer kan hy bekostig om sy nywerhede skoner te maak, in doeltreffendheid te belê en tegnologieë te ontwikkel wat sy impak op die omgewing verminder. Die kwyngroeibeweging ignoreer hierdie werklikheid heeltemal.
...........
Hoe ryker ’n land word, hoe meer kan hy bekostig om sy nywerhede skoner te maak, in doeltreffendheid te belê en tegnologieë te ontwikkel wat sy impak op die omgewing verminder. Die kwyngroeibeweging ignoreer hierdie werklikheid heeltemal.
Die deel waar politieke haalbaarheid bespreek word, verklap boekdele. Die outeurs erken dat “ekonomiese en politieke stelsels afhanklik is van groei vir hul stabiliteit” en dat stagnasie “groot risiko’s inhou”. Met ander woorde: Sonder groei sukkel regerings om legitimiteit te behou. Politieke stelsels wat staatmaak op voortdurende uitbreiding van geleenthede, begin verbrokkel sodra daardie geleenthede opdroog.
En hoe beoog die outeurs om dit reg te ruk? Met groter staatsinmenging, natuurlik. Hulle pleit vir ’n “beplande, demokratiese transformasie van die ekonomiese stelsel” om die ekonomie te herstruktureer sodat dit “groener, gesonder en meer gelyk” is. Maar wie bepaal wat gelyk is? Wie besluit watter nywerhede moet inkrimp en watter moet uitbrei? ’n Komitee van aangewese kundiges? ’n Volksraad van verligtes – dalk uit die outeurs se eie geledere?
Die geskiedenis het hierdie model al beproef. Beplande ekonomieë, van die Sowjetunie tot Maoïstiese China, kon eenvoudig nooit werklike welvaart skep nie. Hulle kon dalk ongelykheid verminder, maar net deur te sorg dat almal ewe arm bly.
Die groot ironie is dat idees soos kwyngroei ontstaan in plekke waar gemak vanselfsprekend is. (Die nege outeurs is afkomstig van Spanje, die VK, Kanada, die VSA, Switserland en Oostenryk.)
...........
Sulke teorieë beskou ekonomiese groei as ’n luukse eerder as die noodsaaklike weg waardeur miljarde mense uit armoede kan ontsnap. Dit is ook blind vir die geskiedenis van menslike vooruitgang – dat welvaart nie net meer goedere, meer “stuff”, beteken nie, maar langer lewens, beter gesondheid en groter vryhede.
...........
Sulke teorieë beskou ekonomiese groei as ’n luukse eerder as die noodsaaklike weg waardeur miljarde mense uit armoede kan ontsnap. Dit is ook blind vir die geskiedenis van menslike vooruitgang – dat welvaart nie net meer goedere, meer “stuff”, beteken nie, maar langer lewens, beter gesondheid en groter vryhede.
Daarom is hierdie idees ook gevaarlik. Dit is ’n ideologie wat perfek inpas by die akademie: Publiseer artikels, bekom navorsingsfondse en lok studente wat gretig is om “’n verskil te maak”. Net soos die sendingbewegings van ouds word dit versprei deur goedbedoelende kampvegters wat oortuig is dat hulle die mensdom red – blind vir die skade wat hulle aanrig.
En soos alle goeie sendelinge word hulle ruim vergoed. In Oktober 2023 het die EU se Europese Navorsingsraad €9,9 miljoen aan drie van die outeurs van hierdie studie toegeken om kwyngroei te bestudeer. ’n Mens neem aan dat hulle, gegewe hul oortuigings, hulself nie meer as die wêreldgemiddelde inkomste sal betaal nie. In daardie geval behoort hierdie ruim beurs vir 541 jaar te hou. As hulle suksesvol is en die wêreldekonomie krimp, kan hulle dit dalk nog sewe of agt eeue rek.
Dit is natuurlik tong-in-die-kies gesê, maar hierdie berekening ontbloot die absurditeit van die hele saak. Die kwyngroeibeweging floreer nie in plekke waar armoede ’n harde werklikheid is nie, maar in goed gefinansierde akademiese kringe waar die werklike gevolge van ekonomiese stagnasie nie geld nie. Soos ’n religieuse orde vrygestel van die ontberings wat hulle verkondig, geniet die volgelinge die voordele van groei terwyl hulle ander beveel om dit prys te gee.
Kwyngroeivoorstanders dink hulle is radikaal. Hulle is inderwaarheid egter eintlik diep konserwatief. Hulle vrees verandering, verwerp risiko en keer die kragte wat die mensdom uit ellende gelig het. ’n Wêreld sonder groei is nie ’n wêreld van balans en harmonie nie. Dit is ’n wêreld van zero-som-afruilings, waar elke wins vir een persoon ’n verlies vir ’n ander beteken.
Die regte vraag is nie óf ons moet groei nie, maar hóé. Groei hoef nie meer besoedeling of vermorsing te beteken nie. Dit kan skoner energie, doeltreffender produksie en oplossings vir die probleme wat kwyngroeivoorstanders beweer hulle pla, insluit. Soos die Malawiese vrou en Nigeriese entrepreneur maar alte goed weet: Welvaart word gebou, nie gerantsoeneer nie.
Eindnota
1 Ook al vertaal as teengroei, maar omdat die teorie ook negatiewe groei in die ekonomie ondersteun en nie net teen groei gekant is nie, verkies ek die term kwyngroei.