- Agterstories is Johan Fourie se maandelikse rubriek oor die ekonomie van die alledaagse.
Die Nobelpryswenners Abhijit Banerjee en Esther Duflo vertel ’n fassinerende storie oor die inwoner van ’n klien Marokkaanse dorpie wat hulle tydens ’n navorsingsekspedisie ontmoet het. Ten spyte daarvan dat hy duidelik gesukkel het om sy gesin te voed, het daar ’n groot televisie met ’n satellietskotteldverbinding in sy huisie gestaan. Toe die navorsers wou weet waarom hy soveel spandeer het op ’n TV, was sy antwoord verbasend: Daar was eenvoudig niks anders om te doen nie. In ’n dorpie met nul werksgeleenthede, min openbare geriewe en beperkte sosiale geleenthede het die televisie nie net sy en sy gesin se aande gevul nie, maar ook die lang, leë, vervelige ure van elke dag.
Hierdie storie beklemtoon ’n feit wat ekonome dikwels miskyk – verveeldheid is ongelyk versprei. In welvarende samelewings is verveeld-wees so skaars dat dit selfs verromantiseer word. In armer plekke bly dit ’n konstante teenwoordigheid. Maar hoekom tref verveling sommige mense meer as ander? En wat sê ekonomiese teorieë daaroor?
As jy in die klassieke werke gaan soek, sal jy Marx sien skryf oor eentonigheid en vervreemding, maar nie heeltemal oor verveeldheid soos ons dit vandag verstaan nie. Sy argument was dat kapitalisme werkers vervreem deur hulle te dwing tot herhalende, sinnelose arbeid. Vervreemding is die verlies van ’n doel, ’n gevoel van afstand tussen die mens se sin van self en hul werk. Vir Marx ontstaan verveling uit ’n oormaat van kapitalistiese dissipline, nie uit die afwesigheid daarvan nie.
Die Marokkaanse voorbeeld kompliseer egter hierdie siening. Dáár ontstaan verveeldheid nie uit uitbuiting nie, maar uit ’n algehele gebrek aan markaktiwiteit: geen werk, geen kreatiewe uitlaatkleppe, geen bronne van stimulasie nie. Dit is nie die eentonigheid van fabriekwerk nie, maar die leegheid van ekonomiese uitsluiting. Marx se verwagting dat die verwydering van kapitalistiese strukture betekenis en kreatiwiteit sou herstel, geld nie in plekke waar daar feitlik geen markaktiwiteit is nie.
Om eerlik te wees, werp hoofstroom- ekonomiese teorieë nie veel meer lig op die onderwerp nie. In standaard mikro-ekonomiese modelle is individue rasionele agente wat hulle tyd en hulpbronne aanwend om hul bevrediging te maksimaliseer. Verveling word eenvoudig weggewerk. As iemand verveeld is, behoort hulle eintlik net na meer lonende aktiwiteite te soek. Gary Becker, ’n Nobelpryswenner wat die ekonomiese vakgebied uitgebrei het na die domein van tydgebruik, het hierdie idee geformaliseer. Hy klassifiseer tyd as ’n skaars hulpbron wat versprei moet word tussen ’n mens se werk, ontspanning en ander aktiwiteite om die hoogste moontlike bevrediging te bereik. Volgens hierdie siening sou volgehoue verveling dus ’n teken wees van mislukte optimalisering – ’n irrasionele uitkoms.
Becker se model berus wel op ’n belangrike aanname, naamlik dat mense toegang het tot betekenisvolle alternatiewe. Soos die man in die klein Marokkaanse dorpie illustreer, is dit dikwels nie die geval nie. Wanneer werk skaars is, word verveeldheid ’n strukturele beperking, nie ’n persoonlike tekortkoming nie. In só ’n geval is verveeld-wees nie die gevolg van swak beplanning nie, maar van ’n gebrek aan keuses.
Empiriese navorsing ondersteun hierdie siening. In ’n onlangse internasionale studie het Sergio Pirla en sy kollegas bevind dat mense uit laerinkomstegroepe verveeldheid meer gereeld en meer intens ervaar. Verveling is ook nie al wat hulle ervaar nie, dit gaan dikwels gepaard met gevoelens van angs, eensaamheid en hartseer. Vir die armes is verveeldheid ’n merker van sosiale en ekonomiese uitsluiting. Hierdie bevindings daag sowel Marx se fokus op kapitalistiese eentonigheid uit én die ortodokse aanname dat die mens rasionele keuses tussen talle alternatiewe kan maak. Verveling is dus ’n werklike beperking, gevorm deur dieselfde kragte wat armoede dryf.
Hierdie resultate staan in skrille kontras met die onlangse romantisering van verveeld-wees in welvarende samelewings. Ek het opgemerk dat daar veral onder skrywers en bloggers op platforms soos Substack ’n groeiende nostalgie oor verveeldheid is. Die waaghals Riley Harber merk in April op:
Verveling lyk nou soos ’n luukse. Een wat van ons weggeneem is. Iets wat die algoritmes meesterlik gesteel het. Maar ek mis dit. Ek mis die sloerende middae, die doellose wandelings net om te stap, die vryheid om nie te reageer nie, nie te scroll nie, nie te verbeter nie.
En die tekstielkunstenaar Jordan Storm Louise in Februarie:
In ’n wêreld wat konstante stimulasie vereis, het verveeldheid iets geword om te vermy, iets om glad te stryk. Maar wat as verveeld-wees nie iets is om voor bang te wees nie, maar eerder ’n poort na iets nuuts?
Ook die romanskrywer Haley Ahern ’n jaar gelede:
Menswees hang af van verveling, en ons het dit ver uit ons lewens gestoot asof dit ’n probleem is om op te los. Ons moet verveeldheid nie as negatief beskou nie – verveeld wees is wonderlik, dit is noodsaaklik.
Ek dink hierdie nostalgie weerspieël iets nader aan Thorstein Veblen se teorie van opvallende ledigheid. Vir dié met permanente werke, stabiele lewens en volop hulpbronne, word die vermoë om verveeldheid te verdra ’n statussimbool – ’n teken van outonomie en selfbeheersing. Om te kies om verveeld te wees, of om af te skakel, veronderstel toegang tot ’n wye reeks alternatiewe aktiwiteite.
Suid-Afrika bied ’n insiggewende voorbeeld. Ons land is ’n wêrelduitblinker as dit kom by beide internetgebruik en werkloosheid. Die grafiek hierbo wys daaglikse internetgebruik teenoor BBP per capita. Suid-Afrika sit ver bokant die tendenslyn. Ons spandeer byna 10 uur per dag aanlyn – aansienlik meer as wat inkomste alleen sou voorspel. Ek dink nie dis ’n bewys van luukse ontspanning of digitale oorvloed nie, maar eerder van strukturele verveling. Met jeugwerkloosheid bo 60% en baie gemeenskappe sonder veilige en/of bekostigbare ontspanningsruimtes, word die slimfoon ’n lewenslyn. En dis nie net jongmense nie. ’n Vriend vertel my dat sy ouma, nou in haar tagtigs en steeds op die plaas, haar dae op haar selfoon deurbring. As die battery pap raak of die sein verdwyn, voel sy geïsoleer en verlore. Haar storie sou vir die Marokkaanse man baie bekend klink.
Kritici van sosiale media fokus dikwels op die gevare van verslawing, misinformasie en angs. Dít is beslis geldige bekommernisse. In kontekste soos Suid-Afrika is die alternatief, om nie aanlyn te wees nie, dikwels veel erger: chroniese eensaamheid, ongestruktureerde tyd en sosiale isolasie.
Die werklike les is dat ons versigtig moet wees waarvoor ons wens. Ons voorouers het nie na verveling gehunker nie; hulle het desperaat maniere gesoek om dit te vermy. Hulle het stories vertel, speletjies uitgedink en rituele geskep, juis omdat verveeldheid ondraaglik was. Die Marokkaanse man het broodnodige borde kos verruil vir ’n skerm, omdat verveling vir hom ’n groter honger was. Die geslag net vóór vandag se oumas sou verstom gewees het oor die oorvloed afleidings wat ons nou tot ons beskikking het – luukshede wat hulle skaars kon indink.
Vir al ons onlangse nostalgie oor die sogenaamde verlore kuns van verveeld-wees, is dit die moeite werd om te onthou dat verveeldheid die historiese norm is wat ons probeer ontvlug het. Moeilike tye gaan nie net oor sonder kos wees nie; dikwels gaan dit oor om niks te hê om te doen nie. Goeie ekonomie behoort oplossings vir albei aan te bied.