"Age of innocence" deur Carlen Marais

  • 0

Age of innocence

Kan jy nog die skaam dogtertjie
met vuil kniekoppe
en ‘n stokkielekkermond onthou?
Sy was te cute met haar bruin vlegsel
en taai klein handjies
wat so maklik vertrou.

Onthou jy hoe helder het sy
met haar teddiebeer
en kolliehond gelag?
Hoe stil sy die slapies kon omspeel
as sy vir haar verjaarsdag
of Kersfees moes wag.

Sien jy haar nog soms
in ‘n feetjierok op die grasperk
in die rondte tol,
Of die skraal lyfie as sy
op warm somersdae
gillend deur die spreier hol?

Onbesorg het sy elkeen van haar drome
in ‘n hoë boom gehang
en geweet dat Pappa enige nagmerries
in ‘n bottel sou vang
Toe was Liewe Jesus
‘n gawe oom met ‘n lang hairdo
en was dit maklik om in die tandmuis
en forever after te glo

Toe was die lekkerste ding
om kliphard  saam met Wielie Walie te sing
en eerste die sticker in die Nesquick-blik te kry.
Toe was dit  cool om self vir Ouma te bel
en agter op die bakkie te ry
as Oupa gaan skaap tel.
Sukses was om vir Mamma
‘n gekraakte blompot
op die tombola-tafel te wen
en Zet persoonlik te ken.

Koorgedeelte:

Probeer jy nog soms om soos sy
diere en haakneushekse te vind
wat tussen blomkoolwolke bly?
Of het die rat race,
social networks
en teleurstelling in ‘n spookasemwêreld
met spookasemmense
jou totaal verblind –
kyk jy ooit in die spieël
en sien nog hierdie kind?

“Age of innocence” – tyd van onskuld
“cute” – oulik
“hairdo” – haarstyl
“forever after” – gelukkige einde (soos in die konteks van ‘n feëverhaal)
“sticker” – plakker
“cool” – in die mode
“rat race” – die gejaag om die korporatiewe leer te klim
“social networks” – sosiale netwerke soos Facebook en Twitter

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top