Afspraak

  • 3

Daardie oggend. Daardie Saterdagoggend het dit gereën.
My broer. My broer se fiets het gegly. Op die draai
het sy fiets gegly. Reg onder die bult. Ons bult.

Sy ken. Sy ken het oopgeflerts soos ’n wulpse rok.
’n Rooi rok. Soos Chris de Burgh se “Lady in red”.
Hy het sy fiets net daar in die pad gelos.
Die deurklokkie. Die deurklokkie het geskreeu.
Aan-en-aan-en-aanmekaar soos die brandsirene
by die skool. My ma het oopgemaak.
Sy het in dryfsand weggeraak.

My knieë. My knieë het voor my bed geswik.
Ek het gebid. Nie vir hom nie. Nie vir haar nie.
Ek het om verskoning gevra. Ek het
om verskoning gevra omdat ek gebid het.

Die oggend vroeg. Ek het gebid dat iets moet gebeur.
Dat iets asseblief-asseblief-asseblieftog moet gebeur
om ons van die afspraak later die dag te keer.

  • 3

Kommentaar

  • Lanklaas 'n gedig so geniet. Toe ek kom by "Sy het in dryfsand weggeraak" sien ek in my geestesoog my eie ma en broer wanneer hy bebloed by die huis aangekom het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top