Beste Jaco
Dankie dat jy teruggeskryf het.
Ek is nou nie juis seker hoekom jy so half bitsig reageer nie. Ek het bloot, nes jy, my eie opinie gegee hoekom sommige Afrikaners vir jou dalk oorgewig voorkom. Ek stem glad nie met jou saam dat die Afrikaners noodwendig dikker is as die Engelse mense, omrede hulle meer vetterige vleis verkies nie. Ek glo dat die rede ’n tekort aan oefening is, en die redes het ek mos nou mooi vir jou gegee.
Hier in Nieu-Seeland eet ons ook lekker sappige steaks. Die porsies is nog groter en beter as in Suid-Afrika, maar hier ry ons fiets, stap ons orals waar ons wil gaan en besoek die gym op ’n gereelde basis. ’n Aktiewe leefstyl is deel van die Nieu-Seelanders se kultuur, en die Afrikaners hier skakel maklik in. Ek het bloot my simpatie uitgespreek oor die Afrikaners wat vasgevang voel in hulle huise, en dat dit dalk kon bydra tot wat jy as ’n gewigsprobleem beskou.
Oor polities onvanpaste kommentaar, is ek sprakeloos. Ek weet nie mooi wat jy wil hoor nie, maar ek het bloot die feite gegee. Suid-Afrika is nou gevaarliker as ooit vir Afrikaners. Ons het baie lank in veiligheid geleef, en ongeag of die veiligheidsprobleme histories van aard is, of nie, weier ek om my familie daaraan bloot te stel. Dit is my verantwoordelike besluit.
Jou opinie oor Nieu-Seeland is myns insiens verregaande. Ek voorsien feitlik geen probleme in die toekoms nie, en dit is juis hoekom Nieu-Seeland as die vreedsaamste land in die wêreld gereken word.
Jy is geregtig op jou opinies, maar dit is nie nodig om my ervaringe en menings op so ’n wyse af te skiet nie.
Johan du Plooy

