Merkwaardig die waarde wat die term "Afrikaner" steeds het. Selfs mense wat eintlik nie van die term hou nie, wil dit oorvat vir hul eie doeleindes en diegene wat steeds sterk daarop staan dat dit 'n unieke en eksklusiewe groepering aandui, word van 'n kant af uitgeskel en selfs gevloek en vervloek - wat in sigself 'n teken is van die waarde daarvan.
Die afgelope paar weke heers daar 'n taamlike intense debat hieroor op SêNet. Maar 'n baie eensydige een, want dit wil voorkom of dit uiteindelik slegs ek is wat die term vir 'n eksklusiewe volksgroep bekend as die Afrikanervolk gebruik, met Jan Rap wat darem so half-en-half saamstem, maar bietjie lugtig is om andere aanstoot te gee deur hulle duidelik en onomwonde uit te sluit.
Aan die anderkant is daar mense soos Jaco Fourie wat "ou Afrikaners" afskryf as verkramp en 'n Nuwe Afrikaner wil skep wat blykbaar, soos hy, eintlik 'n DA-ondersteuner is! En hy is blatant vermetel om vanuit daardie hoek vir die "Afrikaner" te wil vertel watter opsies dalk vir hom oop is of nie oop is nie. Nodeloos om te sê dat ons Afrikaners ons nie veel aan sy voorskrifte en idees gaan of hoef te steur nie.
Dan is daar natuurlik diegene wat om een of ander rede die konsep Afrikaner so haat en verafsku dat hulle dit nodig vind om ons van allerlei dinge te beskuldig - soos Henn wat nou beweer dat die Afrikaner eintlik al die jare ander groepe haat. Goeie genugtig, waar en hoe het die man grootgeword? My ouers en al my familie, my ganse aangetroude familie en net mooi al my vriende en kennisse oor die jare het geen mense of groep ooit gehaat nie - ons wou net nie deel van hulle wees nie want ons kultuur en geskiedenis en dikwels ons waardes was net anders - al het ons soms dieselfde taal gedeel. Daar was ook ander reaksies van min of meer dieselfde aard wat net wys dat diegene nie die vaagste benul het hoekom mense soos ek volhou, en met trots volhou dat ons Afrikaners is nie.
Afrikanerskap het baie duidelik nog baie "koffiekapitaal". Dit is heeltemal te vroeg om die Afrikanervolk af te skryf - die groot uiteenlopendheid van sieninge en selfs faksies in daardie groepering ten spyt.
Maar dit sal net diegene beskore wees wat deel daarvan WIL wees, om die saambindende elemente te ontleed en onthul en daarop te bou om wel 'n toekoms vir die Afrikaner te skep.
Daarom my versoek aan diegene wat nie deel daarvan wil wees nie - skei NOU af, vorm julle eie groepering - hoofsaaklik in die Kaapse Skiereiland. Noem dit wat julle wil, maar los ons en ons Afrikanernaam asseblief nou uit.
Thys Human (Pta)


Kommentaar
Thys, waar het die Afrikaanse taal volgens jou ontstaan? Waar het Afrikanerskap volgens jou ontstaan? Wat was die Voortrekkers se gevoel teenoor Afrikaans en iets soos een Afrikanervolk volgens jou? Waar bestaan die Afrikaner buite Calvinistiese ideologie? Ek nooi jou heelhartig om jou hoëre kennis hierin met ons te deel. Cornelius Henn.
En o ja Thys, ek kan sien dat jy ander wel so lief het nes jy hier voorgee. Jy kyk immers TV. Ek is ook absoluut oortuig daarvan dat jy selfs met Juju hand om die blaas sal staan as "die span speel".
Soos baie ander moet ek my verlaat op bronne, soos Giliomee se uitstekende "Die Afrikaners". Indien jy ander inligting het wat daardie bronne behoorlik kan weerlê, moet jy dit maar bring.
En nee, Afrikaners het baie jare, dekades gelede al met trots en sekerheid buite die godsdienstige dampkring bestaan – soos te vinde in skrywers, kunstenaars, politici en sommer net gewone mense. Natuurlik is daar nog mense wat dink dat ’n mens slegs ’n Afrikaner kan wees as jy lid is van een van die drie groot kerke, maar die talle Afrikaners wat aan die AGS en ander "sektes" behoort, die ontstaan van die APK en baie wat ander sieninge soos Boeddhisme, Teosofisme ens. aanhang en agnosties/ateïsties is, maak daardie sienings ongeldig en totaal verouderd.
Ek verstaan nie mooi wat jy bedoel met die verwysing na Juju nie. Ek vind sy sieninge en houding amper so belaglik en skeef soos joune.
Hallo Thys,
Hermann Giliomee se hantering van die Boere Republieke en veral ’n Boereleier soos Adam Kok is rêrig, rêrig nie die evangelie nie.
Ek is eerlik van mening dat jy Boer en Afrikaner met mekaar in jou konserwatiewe naïwiteit verwar.
Ek sou egter verwag het dat jy as tegnies gesproke een van die eerste Afrikaner generasie in die Ingelse en Amerikaanse saamgeflanste Unie is, dalk sou verstaan het hoeveel jy vandag in gemeen het met Afrikaners soos Jaco wat op ons reënboog oor Mzansi wil speel en gly.
My oupas kom ’n bietjie voor jou tyd. Een van hulle was ’n Boer tot in sy graf. Hy het net so min van die Unie se Afrikaners gedink as wat jy vandag van Nuwe Suid-Afrikaners dink.
Ek dink dat as jy werklik sinvol rede oor die Boere-Afrikaner wil voer jy dalk net ’n bietjie meer moeite moet doen en die Boere Republieke se geskiedenis en hul burgers se ideologiese aspirasie in jou naaste biblioteek gaan opsoek.
Boeregroete,
Cornelius Henn
(Hahaha ... ek't ook nie gedink jy sal Juju so mooi deur jou oogklappe kan kyk nie...)