Afrikaanse Skryfgids-kompetisie: Om iemand in die donker te lei

  • 0

Om iemand in die donker te lei;  of oor die besige straat.  ’n Kind se hand vas te hou as hy bang is vir vreemde mense of goed.  Of ’n ou mens teen jou vas te druk wanneer hulle weet die dood  hang daar bo in die hoek waar hulle nie hul oë kan weghou nie.  Dalk tussen hulle in te druk en die beeld ’n sekonde lank te verskans.

Gids.  Dis wat jy dan is.  Nie net ma of pa of dogter of dokter nie, maar iemand wat sê “Toemaar, jy hoef dit nie nou dadelik te doen nie.”  Iemand wat troos kom-ek-wys-jou-hoe.  Iemand wat, al weet hulle nie self hoe nie, kan sê:  “Kom ons probeer saam …”

“Jis, jis, jis, ouvrou;  wat maak jy?”  So sê my oudste vanuit die oop deur.  Kaalvoet, hemp net so effens toegeknoop sê sy lyf:    "Jy’s my ma en ek het jou nodig.  Ek hoef nie meer agter jou te skuil nie, maar ek moet nog partymaal in jou skaduwee staan."   Leiding en lyding is soms net ’n grammatikale verskil;  die een so verweef in die ander wanneer jy langs sy stukkende liggaam hurk.  En sy lewe wat hy so voluit geniet het, word jou gids vorentoe.  Dit gooi lig daar waar dit donker word in die hoekies van jou hart en oor hulle wat nog tasbaar is.

Wanneer jy nie meer jou jongste se handjie in joune kan toevou om hom oor die besige straat te help nie;  dan is die noem van sy naam in jou laat-aandgebed genoeg  om jou rustig te laat slaap terwyl hy die Donker Man langs die grootpad ontmoet.   Nie omdat jy sleg ma is nie, maar omdat Iemand anders  eintlik lei.

En môre-oggend as jy die nuus ontvang, troos dit om te weet jou liefde was daar binne die verpletterende slag.  Dan’s jy dankbaar jy het hom paasnaweek teen jou vasgedruk en hom vertel hoe trots jy op hom is.  Onthou jy dat jy sy hand teen jou lippe gedruk het en gesê het:  “Ek is so lief vir jou.”

Weereens word hierdie liefde jou gids na môre toe.  Na die ongebore lewetjie wat hy nie sal sien nie, maar in wie jy HOM uiteindelik weer kan sien en wat vir jou ’n nuwe gids is vir vorentoe – selfs wanneer jou meisiekind haar seerkry in woede oor jou kop uitgooi.

’n Naweekkuier by ouma wat vêr bly,  is nie altyd genoeg nie en soms tog ook te lank om so voor haar bed te sit.  Partymaal sit jy en lees;  soms sit jy net, en soms hou jy die "dooie" hand vas.  Die beroerte het die helfte van haar liggaam en haar spraak gevat, maar haar vir ons gelos.  Ons moes ’n nuwe taal aanleer.  Die een wat sy ‘praat’ sonder woorde en dit het jolig gegaan soos wat ons ’n hond uit ’n bos gesels en die ure om gelag het,  maar dit word al minder.

Eers mog die regterhand nie bestaan het nie.  Toegedraai in ’n sagte lap, weggesteek onder die beddegoed, was sy plek.   Op ’n dag het ek hom uitgehaal – sê eerder uitgeworstel, want ouma het baklei!  Tot ek die handjie teen my bors vasdruk en soen,soen, soen.  Maar net ek kon dit doen, want ek het hom vir my gevat.  Dit is die hand wat my getug het toe ek klein was.  Die hand wat my seerplekke verbind het en my geleer het om te teken,  naaldwerk te doen en te skryf.

Deesdae slaap Ouma die meeste van die tyd.  Partymaal so diep dat sy blou word om die mond.  Dan roep jy “Mamma, Mamma!” tot sy haar oë oopmaak en die blou verdwyn sodat sy jou weer oor die drumpel  kan lei na hoop toe.  Nog ’n paar uur, of dae , of weke, of…

Net nie nou nie, mamma;  nie terwyl ek jou hand houvas nie.  Kom wees my gids.  Ek wil nog eers weer agter jou skuil …

Sondagmiddag se groet word ’n wees-jy-my-gids-vorentoe met haar goeie arm krampagtig om my nek.  Die groot amberkleurige oë het flets geword en lyk meer blou as bruin as hulle my kyk en kyk en kyk asof om te onthou … vir oulaas.  En ek vou my hand om haar rug en tel haar teen my bors op en vra met my oë:  “Hou vas my hand, Mamma; dis ’n donker pad dié.”  Gidse. 

Ons vir mekaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top