Afrikaanse Skryfgids-kompetisie: ‘n Gids om oorlewing

  • 1

Skaduwees bewe vir oulaas teen die muur toe die kers flikker en doodgaan.  Selma tas om haar rond. 

Vat eers niks raak nie, nie eens die muur nie. Sy skree gedemp toe iets harig onder haar hand verby skuur. Twee dierehandjies verken die vorm van haar been en klouter sekuur tot by die drasak wat oor haar skouer hang. Sy versteen. Daar gryp hy sowaar haar selfoon! Sy sien periferaal iets flits in die donker na hy ’n ratse sprong na die deur se opening neem. Die selfoon se nagskerm helder op en weerkaats ’n paar geel bobbejaan-oë. Hy snuif nuuskierig oor die skerm.  Lek daaraan.

“Jou klein pes! Gee terug!”

Hy draai na haar, gee ’n koddige skreeu- lag voor hy uitskarrel en versmelt saam met die kleur van die nag.

Hoe gaan sy nou ooit hiervandaan wegkom?

Sy loer behoedsaam na buite, rem haarself terug na ’n boaardse geluid deur die bosse stuur.

“Hallo?” 

Die mistigheid voorspel ’n tipe onheil.  Sy voel rillings teen haar opkruip na sy die silhoeëtte van ’n mens vanuit die halflig agter ’n boom in beweeg.  Sy klem die blaker wat sy vanaf die houthuis se tafel geneem het vas voor haar bors.

“Het jy seergekry?  Ek kan jou help.”  Die aansteker se liggie flikker flou voor die kers se lont weer vlam neem. ’n Droë tak kraak onder haar skoen.  Iets of iemand wat kortgebakend tree neem beweeg tot by haar. Sy ruk. Asem ontsnap hortend oor haar lippe wat droog aanmekaar plak. Die kers se lig gaan dood.

***

Sy hardloop met roeibewegings terug na die gebou. Probeer die deur toestoot maar dit bly stram vassteek. Sy kry dit betyds toegedruk na ’n hand deur die opening probeer stoot.

“Wie is jy?!” verbuig haar stem om die vrees.

“Docotella, dit is ek.” antwoord die growwe stem.

“Alfonso?”

Sy maak die deur bewerig oop.  Sien die Spanjaard ewe verslae na haar terug kyk.  Sy breë gesig is met sweterige stof besmeer.

Sy kan die taal volg wanneer hy stadig praat. “Jy moet kom. Dit is Maria.” prewel hy.

“Wat is dit, Alfonso? Waar is Maria?”

“Daar agter,” beduie hy. “In die sloot.  Sy het haar been gebreek en die baba gaan kom.”

***

Sy sien Dawid gebuig langs die gaslamp sit.

“Selma! Kon jy enige hulp kry?”

Sy skud haar kop wanhopig . “Nee, daar is niemand nie. Die plek is heeltemal verlate.”

Maria gee ’n skree wat indring.

“Sy het begin ontsluit. Jou gids vir basiese noodhulp bevat geen inligting oor babas nie,” verwyt Dawid en verskuif sodat Selma tot by die vrou kan kom.

“Dit gaan moeilik wees hier in die donker.”

Alfonso staan grootoog nader.  “Ons moet haar tot by die hut kry. Sal julle haar kan dra?”

***

In die vermoeiende ure van die nanag breek  Maria se dogtertjie Avril se eerste gilletjie saam met die strale van die dag deur. Selma maak die baba so skoon as wat sy kan en draai haar versigtig in die linne wat sy in ’n trommel onder die bed gekry het toe.

“Jy was fantasties.” sê Dawid terwyl hy bewonderend toekyk.

“Ek het nie gedink dat ek enigiets vir haar sou kon doen nie,” sê Selma en vee moeg met die agterkant van haar hand oor haar voorkop.“Die baba het dwars gelê. Bevallings is nie juis my spesialiteit nie. Dit is met genade van bo dat hulle albei dit oorleef het. “Jy het self nie te sleg gedoen nie, meneer Grove,"  gee sy met ’n skewe glimlag toe. “Ek sien dat jy Maria se been perfek gespalk het.”

“Daar was ’n illustrasie in daardie boek van jou.” antwoord hy droog.  “Jy moet moeg wees. Gaan rus  solank ’n bietjie. Ek sal wil gaan kyk of ek vir ons iets te ete kan spoor.  Daar was nie veel kos tussen die voorraad op die vliegtuig nie.”

“Moet my nie hier los nie.” keer Selma angstig en klink vir die eerste keer in haar lewe kleiner as as die  titel agter haar naam van top-neuroloog in Pretoria.

“Van nou af bly ons almal bymekaar,” antwoord hy beslis en stuur sy hand oor haar vleklose wang.

“Ek is seker dat dit nie meer lank sal wees voor iemand na ons begin soek nie.”

“’n Bobbejaan het my foon gesteel toe ek kom rondkyk het hier in die hut gisteraand.” sê Selma en raak onverwags emosioneel.

Sy stoppelbaard is grys wanneer hy daaroor krap. “Dit is in elk geval van geen nut sonder enige netwerk-opvangs hier nie Selma. Die hospitaal sal die roete wat ons gevlieg het wel nagaan.  Hulle sal ons kry.  Hou net moed.”

Hy lig haar ken met sy vinger na hom toe op. Die groen poele van sy oë lyk donkerder as gewoonlik maar dit was sy skewe glimlag wat die eerste keer haar aandag getrek het.

Sy kou nadenkend aan haar lip. “Ek kan steeds nie glo dat die vliegtuig geval het nie.”

“Ek ook nie.” antwoord Dawid.  “As ek net betyds kon agterkom dat die meganisme wat die enjin verkoel foutief was." Hy tuur uit oor die bosveld en luister na die geluide van voëltjies en diere wat begin ontwaak.

“Dit maak nie meer saak wat dit was nie,” sug Selma en maak die bruin haarstringe bymekaar in haar nek om dit in ’n netjiese poniestert vas te bind. “Die boekbekendstelling is môre.  Die organiseerders sal gou genoeg agterkom dat daar iewers fout is wanneer ek nie vanmiddag daar opdaag nie.

“Hoe voel jou arm?”

“Alfonso het dit weer terug in pootjie gedruk gekry. Dit is nog effens gevoelig.”

“Dit is goed. Hou dit maar nog ’n rukkie stil as jy kan.” antwoord Selma gedemp en gaap lank.

Die son bak warm deur die ruit.

“Kom lê hier by my. Dalk sal ek tog vir ’n rukkie saam met jou slaap.” fluister Dawid.

***

Die snydende geluid wat teen haar gehoorbeentjie boor is sonbesies.  Sy lê nie meer op die bed nie, maar langs die houthuis duskant die put. Haar bene is styf. Hoe het sy tot hier gekom?  Haar hare voel taai. Sy skrik toe sy haar hand na haar kop verskuif en ’n klam rooi vloeistof waarneem.

Meteens spoel alles met ’n helder skokgolf oor haar.  Sy het alleen in die hut wakker geword en na buite gegaan om te gaan kyk of sy Dawid sien. Maria en die baba was ook nêrens in sig nie. Sy het ’n fluistering gehoor om die hoek en gedwee nader gegaan na waar Dawid en Alfonso besig was om te bespreek hoe hulle kokaïne in haar boeke se omhulsels versteek het. Sy het gesien hoe hulle die bokse metodies in ’n viertrek wat onder ’n seil agter die hut gestaan het begin inlaai. Sy het koketterig agteruit beweeg  en iets omgestamp. Dit was Alfonso wat haar eerste ingehaal het. Die laaste ding wat sy onthou was die harde plofgeluid teen haar agterkop. Daarna was alles swart.

Hoe ironies is dit tog nie dat sy  ’n gids wou saamstel wat mense in staat sou stel om presies te weet hoe om in ’n noodsituasie te op te tree nie; want hier lê sy nou  met geen benul wat sy gaan doen om haarself te red nie. Al haar ledemate voel lam. Die sentrale senuwee in haar periferale lob  moet beskadig wees na die hou oor die kop, diagnoseer sy haarself.  Sonder die nodige kos, water en koelte sal sy sekerlik net hier sterf.  As sy net hard genoeg kan skree, maar  slegs ’n droë kraakgeluid ontsnap uit haar keel wanneer sy haar mond oopmaak.

Trane rol oor haar wange, teen haar nek af en word opgesuig deur die stowwerige aarde onder haar. 

Sy het Dawid vertrou.  Hy het haar verseker dat hy haar veilig in Mosambiek sou kry.

Hoe verkeerd was sy nie. Sy voel lighoofdig, effens slaperig.  Nee, sy moet wakker bly. 

So ... moeilik ... om gefokus te bly. Wakker ... sy moet wakker bly.

’n Kraai vlieg oor haar kop. Sy wens dat hy die stukke van haar hart wil oppik en saamneem. Sy is klaar. Dawid het gesê dat hy haar lief het. Lief!

***

Sy ruk wakker na iemand aan haar arm raak. Hy is eweneens net so verras soos sy en wip oor haar lyf om aan die ander kant plek te neem in die koelte.  Is dit tog nie dieselfde bobbejaan van die vorige aand nie?  Dit is tog onmoontlik, maar daar sit hy net duskant haar voete en vroetel aan die gespe van haar sandaal.

“Los!” blaas sy koorsig oor haar lippe na hom.

Daar is ’n geritsel van die blare en nog drie of vier bobbejaantjies kom te voorskyn. Hulle spring om
haar rond, terwyl elkeen ’n beurt maak om aan haar te tas en weer weg te skarrel. Meteens  ’n ander vreemde geluid,  anders as aap se kind.  Dit is die vibrerende geluid van haar Nokia-selfoon wat iewers hier reg by haar begin lui het.  Die leier van die trop slinger sy nuwe speelding met skok neer sodat die res van die groep hom met haas deur die ruigtes in volg.

Meteens voel Selma sterker; asof sy weet dat sy bo hierdie krisis gaan uitstyg. En dat sy selfs van Dawid Grove met sy skewe glimlag gaan vergeet. Sy moet dit net glo.

  • 1

Kommentaar

  • Weereens, jou stories SO goed vertel! Nooit 'n einde soos mens verwag nie, altyd daardie iets vir die gedagtes los ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top