Afrikaanse resensies: Nuwe ruimtes?

  • 1

Die nuus dat Media24 sy groot koerante (met die uitsondering van Die Burger) se papieruitgawes gaan sluit en alle inhoud in die kuberruim gaan sentreer, was onverwags, veral vir mense wat by Media24 se koerante werksaam is.         

Dit is ’n besluit wat ’n uitwerking sal hê op baie terreine waar Afrikaans die taalmedium is. Die promosie van Afrikaanse boeke is een daarvan. Dit beteken ook dat resensies oor daardie boeke al hoe belangriker sal word, omdat die publikasie van Afrikaanse boeke steeds in groot getalle onder die groter sambreel van Naspers geskied.         

Dit is te vroeg om nou al te probeer voorspel wat sal gebeur, maar ek hoop van harte dat die verskraling van gedrukte media, en die rol van die kuberruim, op ’n manier nuwe ruimtes vir die resenseer van Afrikaanse boeke sal laat ontstaan. Miskien ’n ydele droom, maar gun my dit. 

Draaie, swaaie en afdwaalpaaie, saamgestel deur Corlia Fourie en Annelize van Rooyen. Resensie: Joan Hambidge. Boeke24.

Cormac McCarthy se raad aan sy vriend Roger Payne is iets wat resensente altyd kan onthou: “As die materiaal van nature aangrypend is … is dit teenproduktief om dit te probeer opdollie of dit 'opwindend' te maak.” Joan Hambidge se bespreking van Draaie, swaaie en afdwaalpaaie het daardie diktum gestand gedoen. ’n Heerlik onderhoudende resensie wat haar reaksie op die verhale eenvoudig en reguit stel. Sy gee aanduiding van inhoud en gehalte, sy wys waar die interessantheid skuil. Twee punte van kritiek: Wanneer sy vra hoekom belangrike reisskrywers in Afrikaans nie ook opgeneem is in die bundel nie, sou die vraag gewig gedra het as sy name van die afwesige skrywers bygevoeg het; stilisties verkrummel haar betoog teen die einde met die oorgang van haar opmerkings oor Kerneels Breytenbach se verhaal na Martie Retief Meiring s’n. Slordige redigering by Boeke24? Ek vermoed hier het ’n oorgangsopmerking weggeval, omdat sy ná die noem van die onderwerp van Retief Meiring se verhaal ’n lys verskaf van onderwerpe en die skrywers wat daarvoor gesorg het. 7/10 

Sewe keer sondig, saamgestel deur Stefaans Coetzee en Anschen Conradie. Resensie: Frederick Botha. Boeke24.

Botha praat nie rondom die probleem soos Annelise Erasmus enkele weke gelede in Rapport gedoen het nie, maar pak dit pront en kom tot ’n onvermydelike gevolgtrekking: Die bundel is nie behoorlik geredigeer nie. Sommige bydraes kry ’n klop op die skouers. Die meerderheid van hulle is aan die ontvangkant van skerp kritiek, met reg. ’n Resensent hoef nie altyd alles uit te spel nie; niemand kan met hierdie resensie onder enige illusie wees dat Botha verwag het dat minstens 80% van die verhale geslaagde samewerkings moes gewees het nie. 7/10 

Sankind lees die wind, deur Wendy Maartens, met illustrasies deur Dedré Fouquet. Resensie: Magdel Vorster. Rapport Boeke.

Daar is sekerlik mense wat die spook van toe-eiening sou oproep by boeke oor San-legendes en -verhale, maar Magdel Vorster het duidelik besef dit is nie relevant by dié verwerking van tien verhale uit GR von Wielligh se publikasies uit die jare 1919 tot 1921 nie. Vorster se geesdrif vir die inhoud is genoeg om mens te oortuig dat jong lesers daardeur bekoor sal word. Een sin in haar resensie het ’n baie aardige weerklank: “Asof daar ’n onderliggende boodskap is dat daar nie te veel gebroei moet word oor die ongelukkige eindes nie.” Soos met wat Suid-Afrikaners deur die jare toegelaat het met die San gebeur? 6/10 

Onder water, deur Henda Olivier. Resensie: Trisa Hugo. Rapport Boeke. 

Trisa Hugo se resensies toon ’n opwaartse kurwe, soos koerantlesers onlangs gesien het met haar bespreking van Theresa Papenfus se memoir. Sy bespreek Onder water eweneens met ’n sterker oordeelstem en dra sorg om nie die volle verhaal te probeer presiseer nie. Haar benadering is nou gemik op die aantoon van die verstrengeling van tema en verhaal. Niks daarmee verkeerd nie, behalwe dat mens soms die gevoel begin kry dat sy té hard probeer om te wys dat sy die verhaal in sy diepste geledinge verstaan het. Ek twyfel nie dat sy het nie, dis net dat sy dit baie bondiger kon saamgevat het en iets vir die potensiële lesers gelaat het om self uit te snuffel. Ek het die lees verveeld gestaak vroegoggend, en toe eers later in die dag hervat. Bondigheid is ’n groot resensiedeug. Die ander hinderlikheid is dat sy vroeg al verklap wat haar verwagtings gaan wees deur ’n huishoudelike noir te definieer: “Dit is donker, lewensgetrou, kompleks en onvoorspelbaar met talle karakters wat met psigiese skade sukkel. Dit speel af in ’n huis wat jou buurvrou s’n kon wees, of jou eie, en jy hoop die goed wat die karakters tref, gebeur nooit met jou of jou naastes nie.” Die eerste deel hiervan sou ook op Chris Barnard se Mahala toegepas kon word, en daar is niks huishoudeliks aan daardie noir nie. Die tweede deel van haar definisie laat mens net besef dat sy eintlik hier van trope praat, en dat dít die raamwerk van haar beoordeling gaan wees. Dalk sou die resensie pakkender gewees het as sy haar uitspel van die trope versluier het. 6/10 

Die nege lewens van mevrou Smit, deur Elizabeth Wasserman. Resensie: Jonathan Amid. Rapport Boeke. 

Ek is bereid om geld te verwed op die waarskynlikheid dat Jonathan Amid nog sal ontwikkel in die éminence grise van die Afrikaanse uitgewerswese, dít terwyl ek weet dat dit harde werk gaan verg – asook ’n poging gaan nodig hê om onder sy stilistiese hebbelikhede uit te ontwikkel. “Ontwikkel” is die kernbegrip en -vereiste. Teenoor die formulistiese raam van sy resensie is daar die pragtige vinding van die knussie; naas die futlose clichés (“lesers se tone behoorlik laat krul van lekkerkry”) is daar ook nege paragrawe waarin mens kan sien hoe Amid sy skryfstyl slyp. Mens sou die hele sesde paragraaf kon oorslaan – dit is waar Amid die verhaal opsom – en steeds die resensie nuttig vind. Dit ís nuttig. 5/10 

Vertellings uit die vergetelheid: Die opkoms en val van Bophuthatswana, 1977–1994, deur Danie Schoeman. Resensie: André Wessels. LitNet.

’n Sterk akademies gerigte resensie wat ’n oorkoepelende beskrywing is van wat in Bophuthatswana gebeur het. Vir die gewone leser wat nie in ons land se geskiedenis belang stel nie, sal dit dorre materiaal wees. Ek het dit interessant gevind, maar kan myself nie help nie. Weggesteek in die enumerasie van inhoud is daar een sin wat uitgebou sou kon word in ’n volledige artikel wat baie meer interessant sou wees, oor “staatskaping wat tot die agteruitgang in Bop gelei het”. Dalk selfs ’n selfstandige boek. 5/10 

Twa die tydloper, deur Anoeschka von Meck. Resensie: Antoinette Coetzee. LitNet. 

’n Resensie wat geskryf is vir uitsending op FMR. Ek is nie een van hul luisteraars nie. Die resensie toon tekens dat dit vir ’n ander soort gehoor geskep is, en begin met drie uitstekende inleidende paragrawe. Navolgenswaardig. Dan ontwikkel dit in ’n taamlik langdradige uiteensetting van die inhoud, en sluit op evaluerende wyse met ’n aanbeveling af. Laasgenoemde is baie voorspelbaar, noodwendig so vanweë die eerste drie paragrawe. 4/10 

Die groot Afrikaanse blokraaiboek, deur Gerda Engelbrecht. Resensie: Estelle Kruger. LitNet.

Hiert! Ek het gedink hierdie resensie sou ’n voorspelbare ene wees, maar toe is dit onverwags een met ’n lading van nadenke oor wat die toekoms van blokraaisels kan wees in ’n digitale era. Een van daardie resensies wat mens enduit lees omdat dit soveel fasette openbaar van enersyds die ervaring van blokraaisels invul en andersyds hoe dit in die tegnologiese era kan verander. Dit is ’n voortdurende problematiek, omdat mediagrense ’n neiging tot vloeibaarheid en verandering het. Hierdie resensie van Estelle Kruger sal voortaan ’n verwysingspunt daarin wees. Ek stel veral belang in die manier waarop Jonathan Ball Publishers dit verder sal voer, noudat Media24 se papierkoerante op een uitsondering na gesmoor word en Netwerk24 die uitweg vir koerantlesers gaan word. 8/10

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top