“Afrikaanse oom” ’n boelie, nie ’n bul nie

  • 0

As ek so deur die SêNet-briewe blaai, lyk dit my “Afrikaanse oom” skryf nie gereeld nie. Dis ook maar beter so.

Soos net ‘n Afrikaanse oom kan, praat hy meerderwaardig saam (op 16 November 2011, in “Begrip vir die taaldebat, Liana Meyer”) sonder om eintlik iets te sê. Sy bydrae tot die taaldebat is kortliks die volgende:

Regsgeleerdes verstaan nie regte buite die formele struktuur nie, maar eis die regte vir hulself. (Duh?)

Intellektuele voer debatte wat geen doel of einde het nie. (En wat doen oom dan nou?)

Daar bestaan nie enige gronde om taalbulle se motiewe te bevraagteken nie. (Toegegee – dit is ‘n veralgemening … feit bly egter baie taalbulle het verdagte motiewe.)

Liana “copy en paste”, waarmee oom impliseer dat sy argumente oorspronklik is. (Speel die bal, oom, nie die vrou nie.)

Hy wil Stellenbosch hê soos dit voorheen was – nie “suiwer Afrikaans” nie, maar “hoofsaaklik Afrikaans”. (Laat ons nou nie hare kloof nie!)

Die demografie van die Wes-Kaap mag nie ignoreer word nie. (Tog word studente landwyd getrek.)

Afrikaners wat nie sy standpunt oor die taaldebat deel nie, vra eintlik verskoning vir hulle identiteit. (Ja oom, goed oom, regso oom.)

Feitlik al sy Engelse vriende stem saam met hom (wat meer oor “Afrikaanse oom” sê as oor die taaldebat).

Oom, jy probeer jou argument versterk deur goedkoop beskuldigings, afleidings en veralgemenings te maak. Geen wonder daar kom nie einde aan die debat nie.

Hein Walters

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top