Rika Vermeulen (SêNet, 11 deser) het dit tereg teen die gehalte van die meeste Afrikaanse musiek, terwyl dit een van die terreine is wat dikwels uitgesonder word as bewys van hoeveel lewe daar (nog) in Afrikaans is. Ek het nie genoeg deskundige kennis om my oor die komposisies uit te spreek nie, maar die lirieke is meesal pateties-herhalende rymelary. Om die rym te laat "slaag" word Engelse woorde, soos in die res van die liriek, dikwels gewetenloos bygehaal.
Vermeulen pleit tereg vir Afrikaanse musiekteater. My laaste besoek aan Brittanje het plaasgevind toe die nuwe Suid-Afrika met mening oor ons ontplooi is. Die SAUK se simfonie-orkes was iets van die verlede en ons groot stede se simfonie-orkeste het een na die ander verdwyn of is afgeskaal en getransformeer. So ook die pragtige teaters in die vier provinsiale hoofstede (bv die Staatsteater) wat toe nog maar ’n kort tydjie ’n verhoog aan Westerse kulturele produkte van onbesproke gehalte gebied het. Op daardie tydstip het al die megastede in Brittanje minstens een moderne operahuis gehad. Waarom dit my so opgeval het, is omdat baie van daardie operahuise toe vernuwing, insluitende omvattende herbouing, ondergaan het. Daar was dus in Brittanje ’n bereidwilligheid om openbare fondse aan iets so voortreflik soos musiekteater te bestee.
Die nuwe Suid-Afrika dank sy (aanvanklike) relatiewe voorspoed aan Westerse invloed, maar van owerheidsweë word net weersin uitgespreek vir alles wat Westers is en net lof vir alles wat kenmerkend van Afrika is. In die ou Suid-Afrika het baie mense saans die tyd verwyl deur winkelvensters te gaan kyk, bv aan Voortrekkerweg van Bellville tot Goodwood. Deesdae gebeur dit nie meer nie, want Suid-Afrika het die status van ’n Afrika-land verwerf. As ons nostalgies oor die goeie ou dae van winkelvensterskyk raak, word gesê ons verlang terug na onregverdige bevoordeling. Dit is omdat Suid-Afrika nie meer ’n beskaafde land is nie dat ek nie meer saans uitgaan en iets soos Vermeulen se musiekteater bywoon nie.
Sy besef dat musiek van hoë gehalte nie by die massa in aanvraag is nie. Tog het sy gehoop dat daar genoeg ondersteuning uit die minderheid sou kom. Misdadigheid in die nuwe Suid-Afrika is een van die dinge wat daardie hoop verydel. Maar daar is ook ’n ander verskynsel. Stellenbosch is nie meer wat hy was nie. Die Afrikaner-elite is verskraal en afgetakel sodat daar nie meer baie indiwidue oor is wat bereid is om hulle aktief vir ’n Afrikaanse universiteit en vir ’n onberispelik uitnemende akademiese inrigting te beywer nie. Afrikaans as voertaal mag maar afgeskaal word en die universiteit mag maar getransformeer en geafrikaniseer word. Aggressiewe verpolitisering word nie met die aandrang op akademiese vryheid en universitêre outonomie teengewerk nie.
In JvNk se brief (SêNet, 13 deser) word tereg beswaar geopper teen die gehalte van RSG-Afrikaans. Dwarsoor die wêreld word die standaardtaalgebruik (grammatika en uitspraak) deur radiostasies en televisiekanale bevorder. In die nuwe Suid-Afrika word sowel Afrikaans as Engels in hierdie opsig gruwelik deur tans bevoordeeldes benadeel. Politiek kry voorkeur bo taalkundige oorwegings. In die vorige eeu het aktiviste onophoudelik vir ’n normale samelewing geagiteer, maar abnormaliteit (gemeet aan Westerse standaarde) het die reël in die nuwe Suid-Afrika geword.
In tradisionele elementêre kommunikasiekunde leer die student twee dinge: (1) Die massamedia (pers, rolprent, radio, televisie) bevorder die standaardtaalgebruik en (2) by laasgenoemde drie moet die vlugtigheid van die inligting in ag geneem word. Plaaslik bevorder die pers nie meer noodwendig standaardtaalgebruik nie. Kyk bv die teks wat die koerant Son aan Afrikaanse lesers opdis. Luister na wat in rolprente en op televisie (bv in sepies soos 7de Laan) as Afrikaans aangebied word.
Daar is bloedweinige aanduidings dat die SABC van die pas genoemde twee sake bewus is. Mans en wit Afrikaanssprekendes mag nie soos in die ou Suid-Afrika al die aanbiedingsposte of selfs die meerderheid poste by RSG beklee nie. Bruines word in al hoe groter getalle geweeg en swaar genoeg bevind. By my is dit nie ’n etniese saak nie, maar ’n taalkundige aangeleentheid. Afgesien van die nie-standaarduitspraak by sommige bruines is daar ook die nie-standaardgrammatika, bv hierdie twee sjibbolets: was ipv is en het ipv hê. Dan is daar natuurlik die toenemende gebruik van anglisismes en onnodige Engelse woorde in Afrikaanse teks. Blanke omroepers pas hulle by hierdie soort loslit-Afrikaans aan deur hierdie slegte voorbeelde al hoe meer na te volg. Wie wil nou ’n ou wit Afrikaanse man, ’n taalbul met grys skoene, in die nuwe Suid-Afrika wees? Die land is onder hulle leiding opgebou, maar nou word hulle verguis.
Marlene van der Hoef van die Universiteit Noord-Wes het pas politiek-korrek beweer dat daar nie rede is om bekommerd te wees oor die afname in die gehalte van Afrikaans nie: "Dit gaan eerder om die veranderde taalbehoeftes. Die manier waarop Afrikaans dit reggekry het om saam met die tyd te verander, wys juis op die lewenskragtigheid van dié taal" (Die Burger, Leefstyl, 13 deser, p 5). Suiwerder Afrikaans sou myns insiens op groter lewenskragtigheid en minder politieke gedienstigheid gedui het.
Jannie Mouton kan trots op sy groot versameling Afrikaanse boeke wees. Onlangs is sy outobiografie gepubliseer. In die Engelse uitgawe is daar nie ’n Afrikaanse woord in die titel nie; net Engelse woorde, soos dit hoort. Getrou aan die nuwe mode is daar in die Afrikaanse uitgawe ’n Engelse woord in die titel. As dit deur die groen-hout-Afrikaners toegelaat word, hoe lekker brand die droë-hout-Afrikaners nie deesdae in die anti-wit, anti-Afrikaner en anti-Afrikaanse vlamme nie. Onnodige Engels in ’n Afrikaanse boektitel en elders is ’n miskenning van die uitdrukkingsvermoë van Afrikaans. Dit dui op ’n gebrek aan taaltrots. Dit is ’n euwel wat nie in die ou Suid-Afrika voorgekom het nie.
Hierdie nuwe inskiklikheid oor nie-Standaardafrikaans berus op politieke motiewe. Om politieke redes word Afrikaners verdoem en een van die doeltreffendste maniere is om hulle taal te minag deur daarmee te mors, bv deur dit met onnodige Engelse woorde te besoedel. Hierdie gesindheid berus ook op die (opsetlike, politiek-korrekte) misverstaan van die geskiedenis van Afrikaans. Daar word beweer dat die bruines die uitvinders van Afrikaans is, want Afrikaans het glo as ’n kombuistaal onder die slawe (wat ’n mens jou in kettings moet voorstel) ontstaan. Eintlik is dit geen (groot) prestasie om Nederlands skeef en krom te praat nie. Afrikaans het nie toe by hierdie bruines sy beslag gekry nie. Inteendeel, Afrikaans het ’n erkende variant van Nederlands en mettertyd ’n taal uit eie reg geword omdat hoofsaaklik wittes dit gestandaardiseer, uitgebou en bevorder het. Dit is hierdie feite wat deesdae weens politieke korrektheid ongewild is.
Let op die aard van die argument. Slawe was die eerstes wat Nederlands verbuig het. Dit word nie vrot Nederlands genoem nie en ook nie voorloper- of proto-Afrikaans nie. Nee, dit was volwaardige Afrikaans en die slawe het dit uitgevind. Die bruines was eerste hiermee, daarom is Afrikaans eerder hulle taal as die wittes s’n. Dit is ’n variasie van ’n ander argument, naamlik dat die bruines eerste in Suid-Afrika (ten minste in die suide en weste) gewoon het en dat die land dus eerder aan hulle as aan die wittes behoort. Hier is die bruines nie (meer) uitheemse slawe nie maar die inheemse Khoisan. Hoewel die Khoisan, anders as die wittes, geen ontwikkelingswerk gedoen het nie, behoort die ontwikkelde Suid-Afrika glo eintlik aan hulle nasate, die bruines.
Vroeër vanjaar, op 16 Maart, is daar ’n RSG-besprekingsprogram oor Afrikaans uitgesaai waarin die gespreksleier en al die deelnemers bruin is. Die bona fides van die deelnemers is nie bevraagteken nie, al is dit bekend dat minstens sommige van hulle hulle kinders Engels opvoed (SêNet, 2 April). Magdaleen Kruger, die hoof van RSG, was in die gehoor. Aan die einde van die program het sy, nadat sy die sprekers se uitlatings vir soetkoek opgeëet het, emosioneel gesê dat die wittes Afrikaans "gekaap" (dus gesteel) het en dat sy sal help om Afrikaans aan die bruines terug te gee. Dit verduidelik die toenemende blootstelling van RSG-luisteraars aan bruin omroepers. Standaardafrikaans swig voor politieke opportunisme.
Harold Nicolson het in 1951 geskryf dat nie-standaard Engels (bv cockney) in BBC-geledere "off-white" genoem word (Diaries and Letters, 1945-1962, London: Collins, 1968, p 208). Dit is die soort Engels wat nie deur die BBC bevorder word nie. Eersdaags word ’n simposium oor Kaaps deur die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland aangebied. Kaaps word gewoonlik ’n variant van Afrikaans genoem; "Afrikaans" wat met Engelse woorde deurspek is en geensins die voortbestaan van Standaardafrikaans bevorder nie. Drie voorspellings kan met redelike sekerheid oor die simposium gemaak word:
* Eerstens, al is dit ongetwyfeld die waarheid is dit hoogs onwaarskynlik dat Kaaps as ’n beletsel vir die voortbestaan van respektabele Afrikaans uitgewys sal word. Daar sal eerder beweer word dat dit die weg vorentoe vir Standaardafrikaans aandui.
* Tweedens sal Kaaps seker nie as "naaswit-Afrikaans" geëtiketteer word nie, al is dit gepas om dit so te noem omdat die bruin sprekers kultureel nader aan die wittes as aan die ander etniese groepe is.
* Derdens sal seker voortgegaan word om Kaaps as ’n variant van Afrikaans te beskou, terwyl dit eintlik ’n sameflansing van Engels en Afrikaans, dus ’n hibridiese taal, is. Kaaps weerspieël die etniese hibriditeit van die bruines, gevolglik word dit in die nuwe Suid-Afrika nie taalkundig/wetenskaplik, of’t wel klinies-eerlik, hanteer nie. Politiek seëvier.
Johannes Comestor


Kommentaar
J C,
Jy is darem een ou wat dink soos ek.
Ek weet nie wanneer laas ek RSG geluister of die SABC kanale gade geslaan het nie.
Darem 'n uitsonderingkie elke Saterdag. Ek skakel in na Fonnie se Boeremusiek klub.
Daar kan ek darem lekker op Afrikaans klop-voetjie klop-voetjie !
Lekker klop
Raed-na-Gael