Naas die Afrikaanse byname waaraan professor Jansen ten onregte 'n politieke en selfs rassistiese konnotasie toeken, soos Dana Snyman reeds uitgewys het, is daar 'n kernaspek van Afrikaanse byname wat vir ons identiteit as Afrikane nie uit die oog verloor moet word nie.
Ek noem dit die besondere kleurvolle en beeldende skeppingskrag van Afrikaans wat spontaan die rykgeskakeerde werklikheid van Afrika konkreet voor die oog en op die oor laat leef in die name van mense, plante en diere.
Slegs een voorbeeld van hierdie uitsonderlike ingebore metaforiese instink van Afrikaans-sprekers sal my stelling staaf, naamlik die konkreet-sintuiglike trefkrag van die woord "verkleurmannetjie" teenoor die abstrakte betekenis van die Frans-ontleende "chameleon" in byna alle Europese tale en in die besonder Nederlands.
Die Hobson-broers het hierdie kollektiewe skeppingsdrang en -krag van Afrikaans in sy wydste sin, soos ons dit in alle Afrikatale maar ook in San en Khoi aantref, as uniek aangeprys teenoor die verlies van sintuiglik- en konkreetheid in die verhouding tussen die benoemde voorwerp en taalteken in Europese tale (vergelyk maar net Marais se Dwaalstories met die karakters soos Klipdas-Eenoog, Klein Riet-alleen-in-die-roerkuil, Krom Joggem-konterdans, Vaalvlerk of name en woorde soos Mabalel om die outentieke klanksfeer en sintuiglik-gelaaide spanningswoorde te suggereer ; CM van den Heever se "Die gevalle Zoeloe-indoena" en Van Wyk Louw se "Klipwerk". Maar die Franse, Duitse, Nederlandse, Engelse en ander Europese name en veral in die gebruik van die uitheemse vanne soos Malan, Durand, Cloete of Du Toit wat vir die Afrikaan so vaag en betekenisloos was dat die leemte noodwendig in die geval van byvoorbeeld Du Toit aangevul is met byname soos "Oom lokomotief" of "Bull Pickard" en "Salty" Durand. Roux het tot die spontane byname soos "Mannetjies" aanleiding gegee en op ons dorp was Tom Roux se naam "Rooisous Roux" bloot op grond van die sigbare kleur van sy hare en sonder kennis van die betekenis van die Franse "Roux" as rooi.
En, met inagneming van die latere besef van die kwetsing, was daar, glo ek, geen rassistiese bedoeling aanwesig om iemand met die van Swart die bynaam, en ek verwys nou histories daarna met die nodige sensitiwiteit en apologie, ''K..tjie." te noem of dat 'n geliefde blas Afrikaans-onderwyser se bynaam "Piet-H..." as 'n erenaam bedoel is nie.
Die byname van Swartes vir Wittes was in soverre die vorige geslagte die swart tale magtig was, uit die aard van die paternalistiese verhoudings gewoonlik veel meer vriendelik en selfs aanprysend, wat later in die hooggety van Apartheid egter ook weer verander het soos in die geval van die sogenaamde Blankes se gebruik van beledigende skuilname soos "groenes", ensovoorts en andersom soos "Jou Boer se m..."
'n Nuwe skoolhoof van ons skool en latere adjunk Superintendent van Kaaplandse se Onderwys Departement: Keulder was summier as "Killer" bekend, terwyl 'n soms briesende en maklik-kwaadwordende taalonderwyser met die bynaam "Lammetjie" moes saamleef. My vangenoot "Riempies" het op 'n vraag van mnr "Koekie" de Witt in die wetenskapklas om 'n voorbeeld van 'n alkali te gee, sonder skroom geantwoord: "De Witt's poeier! En wee die een wat onder die rottang van mnr "Terry" Terblanche (vgl mnr lekota se gevoeligheid vir die bynaam "Terror") deurgeloop het.
Ek het te veel voorbeelde vir die beperkte ruimte van hierdie rubriek en noem dus bloot in die verbygaan die tradisie om 'n hele familie broers byname soos Adoons tot by klein Kesie te gee; hoendername soos ou Haan, Hennetjie en die jongste Kapokhaantjie.
Toe oom "Cash" de Witt se kleinseun na ons dorp verhuis, was hy dadelik bekend, tot vandag toe, as "Petty-Cash" en die broers Sumner se byname van die oudste "Os" (soos later "Os du Randt van ons tegniese buurskool) tot by die jongste as "Kalfie" het die tradisie voortgesit. En wie sou vir "Pen" Hattingh die latere hoofmagistraat of sy broer "Donkie" en ‘n neef "Smash" de Beer vergeet of "Pieter Pote" en "Skêr" Delport?
Ek sluit af om die geskiedenis van die beroemde Lomax-familie van ons dorp van Nerve Pain Spesifiek, Borstol en Voortrekkersalf-faam in herinnering te roep. Toe die familie se medisynefabriek weens die dood van die pioniers aan 'n nasionale groep verkoop en gesluit is, het 'n onbekende lid van 'n latere geslag van elders wat die likwidasie behartig het, die bynaam "Crime" by die lokale gholfklub gekry. Die rede? Hy was elke middag by die klub en het aanbiedings van die lede vir 'n drankie aangegryp maar het self nooit iemand vir een genooi nie. "Crime" verskyn dus ook in ons woordeboek van byname as toespeling op hierdie omstandigheid: "Crime" does not pay! Nee prof Jansen, u siening het in hierdie geval erg tekort geskiet!
Humphries du Randt


Kommentaar
Skrywe geniet.
Dankie.
Ryk tradisie, dankie vir die deel daarvan.
Renée