Afrikaans weer die sondebok

  • 4

Julius Malema verwerf onlangs sy honneursgraad in filosofie by UNISA met sy tesis oor “Die rol van Afrikaans in die voortbestaan van wit heerskappy” . Die onderwerp hoort na my mening eerder tuis onder moderne politieke (polities korrekte) wetenskap. Filosofie handel hoofsaaklik met die mees basiese kenmerke van menslike denke, rede en die waarheid.

Op sy gradeplegtigheid sê mnr Malema dat “Afrikaans gebruik word om wit heerskappy te laat voortbestaan” en dat “Afrikaans ’n simbool is wat witheid laat voortbestaan”. Hierdie uitlatings pas nie by enige filosoof wat sy sout werd is nie, weens ’n duidelike gebrek aan denke, rede sowel as die waarheid.

Wat laat mnr Malema hoegenaamd dink dat die Afrikaanse taal, wat nie meer in die parlement, ons howe, staatsdepartemente, die besigheidswêreld en by amper al ons universiteite welkom is nie, gebruik kan word om wit heerskappy te laat voortbestaan?

Hoe kan hy logies redeneer dat Afrikaans ’n simbool van witheid is, as die meeste sprekers daarvan in ons land bruin is? Waar pas hy die wit Engelssprekendes van ons land by hierdie verhaal in?

Die waarheid is ook dat al praat ons almal van more af net Engels, sal die witheid waarmee hy klaarblyklik ’n groot probleem het, ongelukkig nie verdwyn nie.

Dit wil my voorkom of die toepassing van sy filosofiese kennis moontlik net so gebrekkig is as wat sy houtwerk in matriek was. Vir ’n man met ’n graad in kommunikasie en Afrikatale is sy verwysing na ’n gedeelte van ons land se bevolking, wat volgens Die Grondwet, een van ons land se amptelike landstale praat en wat terloops ook ’n Afrikataal is, boonop verdelend van aard. Indien iemand soortgelyke opmerkings teenoor sy moedertaal Sepedi op ’n gradeplegtigheid sou maak, sou die hel los wees.

Nee mnr Malema, kom ons vat eerder hande, erken ons diversiteit en hou op om mekaar se tale, kulture en gelowe weg te wens. Om een van die kleure uit ons reënboog te probeer haal, gaan nog moeiliker wees as om die pot goud by die punt daarvan te vind. Die reënboog se skoonheid lê juis daarin  dat daar vir elke kleur onder die son ’n plekkie is. Ons in hierdie land het almal mekaar nodig. Hoe gouer ons almal dit besef, hoe gouer gaan ons uit hierdie gemors kom waarin ons land hom tans bevind.

Marius

 

  • 4

Kommentaar

  • Miskien sou 'n verhandeling oor die rol van Engels in wit heerskappy meer van pas gewees het.

  • Marius ek deel jou siening. Malema het nie die vaagste benul wat hy kwytraak nie, want hy word voorgesê. Ek huldig die mening en pas dit ook toe. Ek gee vet mooi nokkol om wat hy sê en of doen. Dit is 'n reaksie-soekery van eerste water. Sodra jy die siel probeer reghelp is jy die skurk in die verhaal. Ek het agtergekom dat wanneer jy die persone ignoreer hulle vanself weggaan en in die mis verdwyn. Ek klits my nie meer op vir stront nie. Ek is apaties daaroor.

  • Afrikaans is die “sondebok”!
    Onthou daardie ou wat gesê het die Bruines moet gee pad uit die Kaap.
    Jy is reg oor die filosofie-"graad".
    Met 30% vir matriek (en 0% in wiskunde) is als ok vorentoe.
    Raed-na-Gael (met 'polities onkorrekte' graadjie)

  • Slaat my om met 'n veertjie! Vir my het dit altyd geklink of Malema goed dink met houtwerk. Ek het ook nie geweet 'n mens kan 'n graad by UNISA koop nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top