Ek is op my beskeie manier 'n taalpuris. Ek kan 'n paar ander tale ook praat. Ek is trots Afrikaanssprekend, dit is my moedertaal. Ek probeer om my moedertaal en enige van die ander tale op die mees suiwere manier te besig. Ek het een dag my rieme styf geloop om een van die inheemse tale, baie naby aan Zoeloe met iemand te probeer praat. In die geselskap was 'n dame wat haar misnoeë met my poging duidelik te kenne gegee het. Ek het daardie dag besluit ek gaan nie weer die taal probeer praat voordat ek dit goed magtig is nie.
Ek kyk die Afrikaanse kanaal se nuus en ander aktualiteitsprogramme. Ek luister so nou en dan RSG omdat daar nie 'n alternatiewe kanaal in die omgewing is wat die moeite werd is om na te luister nie. Vanoggend om 8h45 is daar 'n jafel wat kamstig verslag oor een of ander gebeure doen.
Wat 'n klomp snert. Ek weet nie hoekom is daar nie 'n radiostasie wat geskep is vir mense wat wil "Kaaps" praat nie. Daar is mense wat nie suiwer Afrikaans kan of wil praat nie maar hou hulle asseblief uit die nasionale uitsaaier se ateljees. Jy sal nie 'n Portugees, Fransman, Indiër en selfs 'n Ingelsman hoor ander tale in sy gesprekke gebruik nie. Wat is fout met die Afrikaanssprekendes wat trots behoort te wees op die taal?
Die persoon wat Afrikaans suiwer praat is nou kamstig nie koel nie, of uit de oude doos. As jy nie trots is oor jou erfenis of jou eie nie is dit donker vir jou. Ek kan ten hemele skree as ek iemand 'n mengelmoes Afrikaans hoor praat. Ek kry amper die stuipe as iemand sê iets is "awesome". Ek is nie 'n lidmaat van 'n charismatiese kerk nie, maar het selfs al in die NG Kerk waarvan ek 'n lidmaat is 'n predikant hoor sê "ons God is awesome".
Wat my ook omkrap is die mense wat onderhoude op 'n Afrikaanse kanaal voer skielik Ingels praat. Ek kan in my beste kouse my bedinges as ek iemand so hoor praat. Wat my egter meer de moer in maak as hulle sê, as jy nie daarvan hou nie sit dit af.
WTF.
Reusedwerg


Kommentaar
Reusedwerg,
Ek voel nes jy oor die saak. Daar is nog enkele programme op RSG waarna ek luister. Gelukkig vang ek nou 'n beter stasie op met behulp van 'n versterker.
Groete,
Et1
Reusedwerg,
Die mees suiwere? Besig jou taal sommer op die suiwerste manier. Stadig maar met die taalpurisme as jy nie eers hierdie basiese taalgebruik reg kan toepas nie. Suiwer, suiwerder, suiwerste, dis hoe dit is.
En dan wil jy bepaal wie in RSG se ateljees moet uitsaai? Kaaps is verkeerd, maar de moer in is reg? En "what the f..k" is ook orraait? Hel maar jy is beskeie met jou "mees suiwerste" taalgebruik.
Dankie meneer Rigter vir jou teregwysing. Neem kennis van jou altyd beterwetige uitnemende bydrae.
Dirk
Moenie skelm wees nie; eers kla jy oor 'mees suiwere' (waarmee grammatikaal nie veel verkeerd is nie) en dan eindig jy jou kommentaar deur 'mees suiwerste' in aanhalingstekens te plaas, so al asof Reusedwerg dit gesê het. Nee man!
Verder, om enigiets te kritiseer hoef mens nie 'n deskundige te wees nie. 'n Resensent, wat nog nooit 'n boek geskryf het nie, kan geldige kritiek lewer. Die betrokke 'Kaaps' waarvan jy, Reusedwerg en ek (op 'n stadium) praat is beslis nie Afrikaans nie, dit is 'n mengsel en sal onverstaanbaar wees vir iemand wat nie Engels kan praat nie.
Laastens, RSG kan uitsaai wat hulle wil maar hulle (en jy) moenie huil as iemand hulle daarop wys dat hulle besig is om droog te maak nie.
Jan Rap
NS 'Kaaps' IS verkeerd en 'de moer in' is wel reg.
Ek sal darem graag gou hier wil intjip. Dirk, met sy tong in die kies, slaan die spyker oppie kop. As jy jou voorgee as iemand wat "suiwer Afrikaans besig" dan moet jy tog nie "mees suiwere" sê nie. Dit is 'n Anglisisme, en jy roei mos Anglisismes uit, nie waar nie?
Kaaps is die moedertaal van seker miljoene Suid-Afrikaners. Hulle hoef glad nie Engels te kan verstaan en praat om hulle moedertaal te kan gebruik nie. Sonder om so danig vaardig te wees in Engels, weet hulle wat dit is om opgafix te word, waar al die shanties is, vir watter gêng jy moet oppas, en jy moenie so worry nie. (So 'n paar woorde wat ek in Adam Small se Kitaar my Kruis gekry het.)
Selfs Afrikaanssprekendes met hulle suiwer Afrikaans en nie noodwendig kennis van Engels nie, weet wat 'n sideboard en 'n plug is. Ek het ook al gehoor die kinders moet in die jaart gaan speel, terwyl die ouers so 'n bietjie gaan skuinslê in die middag.
As Kaaps "verkeerd" is, is Afrikaans (suiwer of te not) ook "verkeerd".
Ek plaas die verkeerd maar so tussen aanhalingstekens, want ek weet nie wat 'n verkeerde taal is nie. Miskien kan Jan Rap ons inlig.
Vir Reusedwerg wil ek net vra, hoe seker is jy dat Portugese, Franse, Indiërs en Engelse nie ook van ander tale gebruik maak as hulle praat nie? Of raai jy sommer? Dit is so dat hierdie tale al gevestig is, en nie so jonk as Afrikaans nie, maar alle tale ontleen maar waar hulle in aanraking met ander tale kom.
Groete,
Angus
Ek soek aansluiting by die beterweters.
Jan, soos Angus tereg skryf: "tussen aanhalingstekens", nie "in" nie.
Dirk, pleks van "eers" sou ek "eens" in daardie konteks gebruik.
Angus en Dirk Rigter ek het twyfel oor julle twee. Angus, Dirk Rigter het die reg of voorreg om tong in die kies te wees. Dis gaaf so. Ek skryf volgens my beskeie mening is ek 'n taalpuris. Wanneer is jy werklik 'n puris van enige iets? Ek is seker verkeerd want julle twee knape doen julself gewoonlik as puriste of kenners van alles voor. Doe so voort manne. Ons is trots bo-op julle. Julle is vir my die sprekende voorbeelde van die ooms met die grys pakke en skoene in die vorige bedeling.
Beste Angus
Dit is so dat Afrikaanse kinders weet wat 'n sideboard en 'n plug is en dat hulle in die jaart speel. Daar is egter so iets soos graadverskil: Iemand wat seeppoeier en melk wegdra se oortreding is nie dieselfde as dié van 'n amptenaar wat 'n paar miljoen verduister nie.
So, die kinders wat in die jaart speel, wat nog nie Engels op skool geleer het nie, gaan glad nie daardie ou verstaan na wie Reusedwerg verwys nie (ek dink hy praat Vrydagoggende net voor 8h00).
Selfs die mense wat van 'n sideboard praat gaan grootoog maak as hulle die sin "usually as ek vir my goals geset het achieve ek hulle" hoor.
Ek weet nie waar jy aan 'verkeerd' kom nie; ek praat van mengeltaal en soos ek al jou vraag geantwoord het, mengeltaal is wel taal (wat anders?) maar nie HIN taal nie. Dis mos nou logies; 'n mengsel van Afrikaans en Engels is nie Afrikaans nie en dit is ook nie Engels nie. As jy, of die pous, of die prins van Monaco dit Kaaps noem en dit maak julle gelukkig is dit seker goed so maar julle het nie 'n nuwe taal ontdek nie, julle het net 'n naam gegee aan 'n mengsel.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan,
Jy het reg: ons het 'n nuwe naam aan 'n mengsel van tale gegee. Ons noem dit Afrikaans. 'n Ouer mengsel van tale word Engels genoem.
Groete,
Angus
Beste Angus,
Jy's verkeerd; mens hoef nie twee tale te ken om Afrikaans te verstaan nie en ook hoef mens nie twee tale te ken om Engels te verstaan nie. Hulle is dus nie mengeltale nie.
Aan die ander kant moet jy Afrikaans EN Engels ken om 'Kaaps' te verstaan. Dit is dus 'n mengeltaal.
Beste Jan
Jy beweer dat 'n mens Engels en Afrikaans moet ken om Kaaps te verstaan. Dit geld slegs vir diegene wie se moedertaal nie Kaaps is nie. Die kleuter wie se ouers Kaaps praat, leer nie Engels en Afrikaans om sy moedertaal, Kaaps, te verstaan nie.
Groete
Angus
Beste Comestor
Dankie, jy het nou net bewys dat dit noodsaaklik is om 'n deeglike kennis van Engels te hê, om suiwer Afrikaans te besig. As die spreker/skrywer nou by hakies kom, moet hy weet dat die Engelsman in brackets sê. In (Afrikaans) is dus taboe. Hy moet nou kies tussen binne hakies, tussen hakies, of miskien met hakies omgewe. Intussen het die spreker met sy Kaaps, wat vry is van sulke nonsens, hom drie keer in brekkets toegevou.
Groete,
Angus
Beste Johannes Comestor
Dankie vir die uitwys van my foutjie en moenie jouself daarvan weerhou om die res van die foute wat ek maak uit te wys nie; dit is al hoe mens leer. My Italiaanse buurman (die gesin se huistaal is Engels) wys my ook gereeld op foute, die mees onlangse was "Jan, dis MET verlof, nie OP verlof nie."
Beste Angus
Jou redenasie in jou nota aan Johannes is absurd. Met ander woorde; mens moet weet wat die Engels is sodat jy weet dit is wat in Afrikaans vermy moet word. Of, jy moet weet wat dit in Engels is sodat jy dit net so kan gebruik. Watter een van die twee is dit nou?
Ek sien jy dink nie mooi oor die storie nie Angus.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan,
Die eerste een. As jy weet in Engels is dit "You and I", dan weet jy om in Afrikaans te sê "Ek en jy." As jy weet in Engels is dit "on leave", dan weet jy om in Afrikaans die "op" te vermy. Dan sê jy "met vakansie." So ook met uitspraak. As dit in Engels 'mi-nis-ter uitgespreek word, moet jy in Afrikaans sê mi-'nis-ter. Of die Engelse 'te-le-phone is in Afrikaans te-le-'foon. (Ek het 'n dik oefeningboek vol hiervan, as jy nog wil hê.)
Groete,
Angus
Beste Jan Rap
Jy mag dalk belangstel in:http://www.bbc.com/future/story/20140606-why-we-must-save-dying-languages
Dankie vir die skakel. Hartseer sake ...
Ek hoop ons taal oorleef.
Watter app gebruik ek om die suiwer afrikaanse vertaling op my tablet te kry?
Mensig ...Eerstewêreld-probleme nè. Dit verstom my werklik dat mense dink die wêreld bestaan slegs uit Afrikaans. Of dat daar nie so ‘n ding soos Streeksafrikaans bestaan nie. Van Pretoria tot die Kaap word die taal anders gepraat. Maar nee ... ons soek mos die "mees suiwere" vorm daarvan. Genade tog ... Het jy al gewonder of daai ou waarmee Engels gepraat is op die Afrikaanse kanaal dalk (soos jy met die Zoeloe-insident) nie Afrikaans werklik magtig is nie? Hmm? Nee jy het nie. Dus verloor jy die inhoud van die gesprek omdat jy sit en wonder oor die NG kerk wat praat van ’n God wat Awesome is.