Reeds lank voor 1900 het baie min wit Afrikaners Nederlands geken en gepraat. Die algemene spreektaal onder hulle was 'n vroeër vorm van Afrikaans. Selfs met die Groot Trek het die meeste trekkers nie eintlik Nederlands goed geken nie. Dit blyk bv uit Louis Trichardt se dagboek, waarin hy probeer Nederlands skryf, maar sy taal daarin is eerder nader aan Afrikaans. (Nota: let daarop dat hy in sy dagboek na sy mense verwys as "Afrikaners".)
Na 1900 moes Afrikaanse kinders in Nederlands of Engels skoolgaan en het hulle baie gesukkel. My ma, gebore in 1910, het bv selfs op 'n hoë ouderdom (in die tagtig) van die kinderversies onthou wat hulle moes leer. Ek haal een stukkie uit geheue aan, maar kan nie instaan vir die korrektheid van my taal nie:
"Er waren twintig kikkertjes al in een watersloot.
Ze moesje ze lesje leren, want ze waren al te groot."
(Daar was twintig paddatjies almal in 'n watersloot
Hulle moes hul lessies leer, want hulle was alte groot.)
My pa, gebore in 1913, het ons vertel hoe hy deur 'n Engelse onderwyser gedwing is om met 'n "donkie" hoed in die hoek van die klaskamer te sit omdat hy dit gewaag het om Afrikaans op die skoolgronde te praat, ipv Engels.
So, waar skole later oorgeslaan het na Afrikaans, was dit die regstelling van 'n onreg wat aan Afrikaanse kinders gedoen is, en niks anders nie.
Een van die grootste beyweraars vir die erkenning van Afrikaans naas Engels was advokaat CJ Langenhoven, nadat hy vroeër self meer na die Engelse kant oorgeleun het. En van sy vernaamste dryfvere was die onreg wat hy in die howe waargeneem het, waar dikwels Afrikaanssprekendes, wat feitlik g'n Engels geken het nie, moes verskyn en erg benadeel is deur Engelse tolke wat verkeerd vertaal het en buitendien geen snars omgegee het vir die Afrikaners nie. Lees gerus sy biografie deur Kannemeyer.
Ek het vanaf 1964 tot 1995 in die staatsdiens gewerk, by verskillende departemente - gewoonlik het ek bedank en dan aangeskuif, daarom is my pensioen vandag maar karig - en deurgaans is dit van ons vereis om tweetalig te wees. By die Departement van Doeane en Aksyns was die werk omtrent 100% Engels, want al die firmas waarmee ons te doen gehad het, was Engels. Waar ek by die Transvaalse Provinsiale Administrasie gewerk het vir meer as twee jaar (Dorpstigting, inryteaters en verdeling van plaasgrond) was heelwat van die werk ook in Engels. (Een ou daar, die werkstudiebeampte, se verslae was seker meesal Afrikaans, en as hy dit in Engels moes doen, het hy sy kantoordeur gesluit en 'n bordjie buite gehang wat sê hy is besig met 'n vreemde taal en moet nie gesteur word nie. Hy was seker nie baie sterk in Engels nie.)
Die departement waar ek die langste gewerk het, tot aan die einde van my loopbaan, was die Departement van Gesondheid en daar ook moes ons tweetalig wees. Soos verwag kan word, moes ons navrae van die publiek ook in Engels kon hanteer. Daar was 'n aantal Engelstalige persone werksaam en die departement se beleid was om ook Engelstaliges te werf. Ek vermoed egter dat jong Engelssprekendes, veral nie-professioneles, eerder na die privaatsektor is waar hulle pa's en ooms vir hulle openinge gehou het.
O ja, voor ek vergeet: Na Doeane en Aksyns het ek by 'n privaat firma gaan werk wat leer, gare en "clicking blocks" aan nywerhede verkoop het. Hulle het hul eie invoere gedoen en ek het as klaringsklerk daar gewerk. In die totaal Engelse atmosfeer het ek heel ontuis gevoel en bedank nadat een van hulle verkoopsmanne vir my gesê het Afrikaans is 'n "kitchen language". Dit was in ongeveer 1970. Kan jy glo, Jan Rap!
Varkspek

