Afrikaans verjaar

  • 26

Foto: Canva.com

Verjaardae moet gevier word. Ek dink die viering van ’n verjaardag is belangriker as die viering van goeie eksamenuitslae, ’n bevordering of ’n oorwinning. Om ’n verjaardag te vier, beteken om vir die persoon te sê: “Dankie dat jy, jy is.”

Op ’n verjaardag sê ons nie dankie vir wat jy bereik het nie, ons sê: “Dankie dat jy gebore is en by ons is.”1

Ons almal wonder maar wie ons is. Om dan op ’n dag jou geboortesertifikaat onder oë te neem en uit te vind dat feite oor jou herkoms foutief is, is ’n groot skok.

Ons het almal geglo Afrikaans is op 14 Augustus 1875 in die Paarl gebore. So twee weke gelede bevestig meneer Willem Botha, die redakteur van WAT, dat hierdie inligting verkeerd is.

Afrikaans is dalk selfs ouer as 368 jaar. Sy spore kan dalk teruggaan tot vóór Van Riebeeck se koms, toe verbygaande, Nederlandse skepe met die Khoi-mense gekommunikeer het. Die taal is ook nie op ’n spesifieke plek gebore nie, maar oral oor en uit die mond van al sy reënboogsprekers.

Dit is dus die GRA wat verlede week sy honderd-vyf-en-veertigste verjaardag gevier het en nie Afrikaans nie.

In Augustus kan ons steeds vir Afrikaans sê: Ons is bly dat jy gebore is en nog by ons is – al is dit nou ook net-net.

Jou toekoms hang regtig aan ’n dun draadjie... Van anglisismes praat ons nie meer nie; die meeste woorde wat as anglisismes bestempel word, is in elk geval Latinismes. Daar is gesê, Afrikaans is ’n kanseltaal en nie ’n kombuistaal nie. Selfs daarvan is ons nie meer so seker nie, want predikante “commit” en “awesome” van vroeg tot laat.

Ons, die taalbulle en -koeie, is byna gereed om moed op te gee, want so word ons taal deesdae gepraat en geskryf:

Hoe gaan dit en met wat hou jy jouself besig? Regdeur die land heers ’n pandemie.

Ek was gister in Arniston gewees. Ek het myself regtig baie geniet. Die grendeltyd is regtig sleg – ek is elke dag baie vervelig. Ek kan nie gaan swem nie; dus het ek fisies verswak.

Julle wat nie daar kon wees nie, het regtig uitgemis. Oppad daarheen het ek gesien hoe ’n hele gesin verongeluk, gelukkig is almal ongedeerd.

Ja, ons begin weer rugby kyk, maar die Springbokke gaan baie goed moet speel. Herschel Jantjies was die beter speler van die twee skrumskakels. Ek kyk nooit sokker nie, want ek hou nie van dit nie. Ja, niemand weet waar kontaksport gaan opeindig nie. Wat maak jy huidiglik van die land se ekonomie? Jy moet tog na my geldsake kyk.

“Ja, ek doen.”

As ek nou ’n sent het vir elke radio-omroeper en joernalis wat hierdie taalgoggas besig, dan lag ek al die pad na die bank toe!

Iemand het gesê: “Die taal aan moedersknie geleer, praat ’n mens uiteindelik vlot; dit is die grammatika van liefhê.”

“Want dit maak nie saak hoe jou taal lyk nie – dit bly ons taal.”

1 Henri J M Nouwen

  • 26

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek dink die GRA se rol om Boere-Afrikaans te vestig in Boland, tussen al die destydse Kaapse dialekte, wys net hoe min mense werklik weet oor Afrikaans.
    Almal maak groot gedoente oor die betonfallus op Paarlberg, maar baie min weet dat die eerste taalmonument in Burgersdorp deur Britte beskadig was en verwyder was, om patriotisme in ABO te verhoed. Min weet van die term Taal Diglossie, waar na bv Afrikaans as Hooghollands of net Hollands verwys is in die Oranje-Vrystaat en ZAR, waar De Volkstem reeds Paul Kruger gekritiseer het, voor die ontstaan van De Patriot vir hoofsaaklik die werkersklas in Paarl.

    My beskeie bydrae oor taalvieringe, want oor 5 jaar sal Afrikaans amptelik 100 jaar oud word.

  • Ouderdom is vir baie 'n sensitiewe kwessie, maar Afrikaans het nie in 1875 of 1925 ontstaan nie. Dit is die datums waarop die GRA begin werk het daaraan om Afrikaans tot ampelike landstaal verklaar te kry en (1925) waarop Afrikaans 'n amptelike landstaal, naas Engels, geword het. Ek sal oor 5 jaar ook met trots die eerste 100 jaar van Afrikaans se amptelike bestaan vier.
    Miskien is dit ook wat Hans bedoel.

  • Die Burgerdorpse taalmonument is opgerig vir Nederlands - nie vir Afrikaans nie. Hooghollands was nooit 'n sinoniem vir Afrikaans nie. Dit was "Di(e) Afrikaanse Patriot" nie "De Patriot" nie.

  • Laas toe ek in 'n opstel geskryf het hoe ek myself geniet het, het die onnie my met die bordliniaal tussen die blaaie geslaan en "Anglisisme" geskreeu. Ek het nog 'n hou gekry toe ek hom daarop wys dat hy "anglisisme" verkeerd uitgespreek het. Waarom hy so verbaas was oor sy motor se pap wiel, weet ek nie.

  • Angus, gelukkig is die Burgerdorpse taalmonument 'n Neerlandisme en nie 'n Anglisisme nie.

  • Ek verstaan jou dilemma, maar hou dan op RSG (Radio Sonder Gewete) luister; jy sal dan oombliklik verlos wees van die swak Afrikaans pratery. Luister eerder Radio Pretoria vir gemoedsrus.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Daniel Hugo, al gehoor van iets soos taal DIGLOSSIE?
    Die manne wie hul beywer het vir Hooghollands in Britse Engelse parlement in Kaapstad, het die Burgersdorp monument opgerig, waar die Gereformeerde kerk teologiese skool was. Die GRA het nie gestreef vir Afrikaans se erkenning in Britse Engelse parlement in Kaapstad nie, maar wel vir standaard Afrikaans volgens "Boere Afrikaans/Hooghollands" soos in Ooskaap, Vrystaat en ZAR, omdat daar 5 Kaaps dialekte bestaan het.
    Buitendien Willem Botha, was Hooghollands en Afrikaans as gelyke tale erken in 1925. Eers in 1961 met republiekwording was Afrikaans en Engels as amptelike tale in RSA erken. Ek hoop ons is nog 'n republiek oor 5 jaar...
    Ek wonder darem hoe Willem Botha weet wat ek bedoel, staan my gedagtes in WAT..?
    Dit irriteer my hoe geskiedenis gemanupileer word, deur blote verswyging van feite.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek wonder hoekom sekere mense obsessief is oor Paarl en Stellenbosch, as eienaars van Afrikaans. Ek wonder of Wim de Villiers jul sentiment deel met Edwin Cameron?

  • Avatar
    Hans Richardt

    Willem Botha, regstelling oor GRA. Dis tog duidelik in Paarl geskiedenis oor GRA, dat hul "Boere-Afrikaans" as standaard Afrikaans wou vestig.
    Ons moenie feite buig om ons eie doelstellings te bevorder. Taal Diglossie het niks met anglisismes te make nie. Vlaams, Afrikaans, Hoog-Hollands ens is variante van Standaard Nederlands.
    Diglossie het ook niks met tokkelossie te make nie...

  • Hulle beweer huidiglik is 'n taalgogga wat uitgeroei moet word. Hoekom weet ek nie. Pistasieneute is 'n ander ding. Dis koningskos op 'n lamsboud, hoe groener, hoe beter.

  • Regstelling: 'n beter Afrikaanse uitleg is: "Ek het begrip vir jou dilemma." Ek verstaan jou dilemma" is anglisisties, aangesien dit direk afkomstig is van die Engelse frase "I understand your dilemma." Hierdie goed kruip tog so maklik en ongesiens in mens se taalgebruik in indien mens nie op jou hoede is nie ! Dankie.

  • Wys jou net! Iemand wat dit waag om te probeer gestandardiseerde Afikaans praat, moet 'n taalkenner van formaat wees. Vir diegene wat nie ten minste 'n meestersgraad in Afrikaans het nie, is daar darem ook hoop. Hulle kan vir hulle 'n boek oor anglisismes aanskaf, en sommer nog woordelyste ook, wat hulle met hulle sal moet saamdra. Dit wil nou sê as hulle "goeie" Afrikaans wil praat, ekskuus, ek bedoel besig.
    Dan sal jy kan sê: "Ek het begrip vir jou dilemma." Dan, ewe skielik, klink dit so neusoptrekkerig vir jou. So asof jy verder wil sê, "maar sorg dat jy my die einde van die maand die geld betaal wat jy my skuld, jou ou bogger." Het "Ek verstaan jou dilemma" nie meer deernis nie? Die twee sinne het beslis nie dieselfde gevoelswaarde nie. Dan nog, as jy so graag "suiwer" Afrikaans wil besig, dan sit jy met nog 'n dilemma. Dis nou wel van Griekse herkoms, maar Grieks het geen invloed op Afrikaans nie. Het Jan van Riebeeck die woord dilemma geken? Is dit ook in die 17de eeuse Nederlands? Is dit erfgoed? Of het dit via Engels die taal binnegekom? As laasgenoemde die geval is, is dit ook 'n anglisisme en dan moet jy liewer sê: "Ek het begrip vir jou moeilike keuse tussen twee moontlikhede." Geen wonder 'n mens hoor so dikwels "soos die Engelsman sê" nie. Of sommer "verskoon tog die Engels." Nee, Afrikaans is voorwaar 'n moeilike taal. G'n wonder dat Kaaps sulke draaie daarom hardloop nie. Ek kan ongelukkig nie Kaaps praat nie, daarom slaan ek maar oor na Engels. Dis nou vir jou 'n baie gemakliker taal, sonder fieterjasies. Een geluk is dat, hoe mense ookal kla, 'n taal, enige taal, gaan maar sy gang. Afrikaans worrie nie oor anglisismes nie, want dis nie die taalgeleerdes wat die taal maak nie.

  • Hans, diglossie is ‘n bekende term in die linguistiek en sosiolinguistiek. Dit verwys twee tale, of dialekte, wat terselfdertyd as een taal beskou word in ‘n gemeenskap. In die linguistiek word meer klem gelê op die tale of dialekte, en in die sosiolinguistiek verwys dit na die sekere gemeenskap.
    Soos tale gedurig besig is om te verander, so het die voorbeeld van diglossie ook in ons land verskuif. Hollands en die taal wat die mense gepraat het (Kaaps) is as een taal beskou, waar Hollands as die meerdere beskou was, en Kaaps die minderwaardige “geselstaal”. Mettertyd het Afrikaans ontstaan uit Kaaps; ‘n gesuiwerde taal, bekend as standaard Afrikaans, of suiwer Afrikaans. Dit staan ook bekend as ‘n Algemeen Beskaafde Afrikaans. ( ‘n AB-taal is die meerdere taal teenoor sy dialekte.) Hollands en die gesuiwerde Afrikaans is vir ‘n tydlank as een taal beskou, ‘n goeie voorbeeld van diglosssie. Hollands het mettertyd verdwyn, en nou bestaan Afrikaans uit die AB-taal plus ‘n aantal streektale wat nog nie dialekte genoem kan word nie.
    Laat maar weet waar daar onduidelikheid is, of miskien waar ek die kluts kwytgeraak het.
    Het dit al gereën daar in Orania. Ek wou al soontoe getrek het, maar ek glo nie hulle hou daar van ateïste nie.
    Groete,
    Angus

  • Avatar
    Hans Richardt

    Angus, oor die diglossie tokkelossie, dis juis dat die Kaapse GRA gatvol was vir Kaaps en wou Hooghollands / Boere Afrikaans as standaard gebruik vanuit oa Ooskaap(Burgersdorp) en 2 Boere republieke. Dis juis die affêre wat my gat krap, want deesdae is dit weer mode om die "slang" van Kaaps die standaard te maak..
    Wat jou "Visie" oor Orania aangaan, sal jy definitief probleme hê as ateïs. Ons reënverwagtinge vir volgende vyf jaar lyk goed. Vanderkloofdam is so 92% vol. Die bo-karoo het skerp kante, nie net kliprante nie, maar ook hyper-inflasie. Daar is daar kelder in Douglas, met eikehout verouderde soet papsak...
    Ek dink jy moet eers net kom kyk vir paar dae...hehehe. Ons armoedig hier, nie so welvarend soos daar in Boland nie.
    Wel, FA Venter se oorsprong was hier in Bo-karoo en hy het gematrikuleer in Hopetown. Sy "kaaps" was nogals goeie Afrikaans.
    Ja, daar is nogals uiteenlopende vertolkings van die GRA se geskiedenisfeite...

  • Avatar
    Hans Richardt

    Angus, oor die diglossie tokkelossie, dis juis dat die Kaapse GRA gatvol was vir Kaaps en wou Hooghollands / Boere Afrikaans as standaard gebruik vanuit oa Ooskaap(Burgersdorp) en 2 Boere republieke. Dis juis die affêre wat my gat krap, want deesdae is dit weer mode om die "slang" van Kaaps die standaard te maak..
    Wat jou "Visie" oor Orania aangaan, sal jy definitief probleme hê as ateïs. Ons reënverwagtinge vir volgende vyf jaar lyk goed. Vanderkloofdam is so 92% vol. Die bo-karoo het skerp kante, nie net kliprante nie, maar ook hyper-inflasie. Daar is daar kelder in Douglas, met eikehout verouderde soet papsak...
    Ek dink jy moet eers net kom kyk vir paar dae...hehehe. Ons armoedig hier, nie so welvarend soos daar in Boland nie.
    Wel, FA Venter se oorsprong was hier in Bo-karoo en hy het gematrikuleer in Hopetown. Sy "kaaps" was nogals goeie Afrikaans.
    Ja, daar is nogals uiteenlopende vertolkings van die GRA se geskiedenisfeite...
    Gelukkig is daar vele meer Afrikaanse radiostasies as Radio Sonder Gewete, Daniël Hugo.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Daniël Hugo, klink na geykte Radio Sonder Gewete storie oor GRA.
    Volgens wat ek gelees het, was daar ongeveer 5 Kaaps dialekte. Vir GRA was die tipe Hooghollands / Boere-Afrikaans van veral die Ooskaap en soos bv in ZAR se De Volkstem, die tipe Afrikaans wat hul as "standaard" Afrikaans wou bevorder, taalkundig.
    In my boek bly GRA nie taalvaders nie, maar wel eerste klomp NG predikante wat taalkundiges gespeel het..
    Net soos NG kerk lankal nie meer gemeenskapleier is nie, net so min was 5 Stellenbosch/Paarl omies base van Afrikaans.
    Die ou koerantjie wat GRA uitgegee het, was minderwaardig as jy na die geskiedenis van die Afrikaanse pers kyk. Doen meer moeite, as net 1 feit voor te hou as enigste geskiedenis. Bv Van Riebeeck het met 3 skepies aangeland, maar het met 5 vertrek en 2 het later aangekom. Ek is bewus dat geskiedenis feitlik geplooi word om iemand se standpunt te bevorder.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ek is jammer dat ek taalfoute gemaak het, ek sukkel met seisoenverandering allergie, ek kry allergiese konjunktivis. Dit maak dit ook moeiliker op my klein skerm van slimfoontjie in aand, om terug te rol om regstellings te maak.
    Ek dink in elk geval dat Afrikaans nader is aan Vlaams, my ou standpunt, as aan standaard Nederlands. Geen Afrikaanse spreker kan op gelyke vlak net met Kaaskop wat standaard Nederlands praat, gesels nie, twrwyl man 'n gangbare Afrikaanse - Vlaamse gesprek kan voer. Selfs rekords uit ABO getuig dat Nederlanders gesukkel het om Boere Afrikaans te verstaan en hulself in die buitelandse Vrywilliger korps bevind het. Vir hul het Boere geradbraakte Nederlands gepraat. Ek dink dat mens na ander geskiedenis aspekte moet kyk oor taalgebruik, as net in GRA boksie. Bv rede vir die oprigting van die Burgersdorp Taalmonument.
    Ons almal was tog nie van De Bois/Buys afkoms nie en alles kan tog nie oor een kam geskeer word nie, nl GRA nie. Ek misken glad DF du Toit se poging om die King James bybel na Afrikaans te vertaal nie, maar dit was nog steeds moeilik om inhoud te begryp.

  • Avatar
    Hans Richardt

    Ten einde laaste Cornelia de Kock, my vraag is, wanneer verjaar die taal Afrikaans en wanneer word die GRA se ontstaan herdenk? Ek dink jy het verkeerdelik in jou opskrif dat die taal Afrikaans verjaar, terwyl jy na die herdenking van die stigting van die GRA verwys het.
    In my beskeie opinie is daar geen vaste verjaarsdag vir 'n taal nie, want Afrikaans het tog al seker in 1652 beslag gekry en net verder ontwikkel. In 15 Mei 1909 se Hervormer kerkblad, is die tipe Afrikaans ver verwyderd van 2009 Afrikaans. Ek verwys jou na diglossie beskrywing deur Angus hierbo en herinner jou daaraan dat geen enkele GRA as taalvaders voorgehou kan word nie, want 'n taal kan net bestaan as gebruikstaal in volksmond.
    Na alles is die taalverskynsel diglossie 'n wetenskaplike verskynsel, wat onbekend by algemene bevolking in SA is. Neem bv die Sothotaalvariëteite in Suider-Afrikaanse streek. Tswanas, Pedi's en Suid-Sotho's is diglossie-taalvariëteite, maar verskil van standaard-Sotho van Lesotho.

  • Avatar
    Koos Holtzhausen

    Hans Richardt, nog 'n anglisisme ( 'n regte ene): "Die manne wie hul beywer het vir Hooghollands in Britse Engelse parlement in Kaapstad, het die Burgersdorp monument opgerig, waar die Gereformeerde kerk teologiese skool was."

  • Avatar
    Hans Richardt

    Koos, wat jou goed laat voel. Die Falliese simbole is blykbaar volop in die Paarl ... wonder hoekom daardie mevrou-dominee haar in die koerant uitgespreek het ...? Dalk is is daar 'n impotensieprobleem met Bolandse-"taalvaders"???

  • Avatar
    Cornelia de Kock

    Ek wil nie eintlik graag aan hierdie onverkwiklike gesprek deelneem nie, maar het tog besluit om 'n bydrae te lewer.
    Dankie, Koos, "Die manne wat hul beywer het", is korrekte Afrikaans.
    Historiese teenwoordige tyd ook die korrekte: " ...eerste taalmonument in Burgersdorp deure Britte beskadig is [ nie was nie] , om patriotisme in ABO te verhoed."
    Professor Christina Landman het na die obelisk van die Vroue- monument as 'n falliese simbool verwys, dit was in die konteks van die feminisme. Nasate van vroue wat in die ABO gesterf het, het dit as onvanpas beskou.
    As die taalmonument 'n falliese simbool is, dan is al die kerktorings in die land beslis ook derglike simbole.

  • Avatar
    Koos Holrtzhausen

    Dankie, Cornelia, die gevalle is nogal subtiel, maar heel hinderlik vir ons "puriste".Dit is jammer dat die taalmonument geteiken word. Ek het altyd gedink dit is een simbool wat probeer verenig en nie verdeel nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top