Afrikaans, my skimmelmerrie

  • 0

Afrikaans, my skimmelmerrie

Nog net ’n bewe-been vulletjie aan die hand
met die groot oorlog hier in ons land
net goed vir praat oor Engels haat
was Boere vir bevele op haar verlaat
maar vir skryf, lees en bid met spelreëls skort
moes haar koppige ou vaar, Hoog-Hollands,
ingespan word.
Tydens die rebellie skreeu sy “vuur”
vir die peloton én prewel
die gefusilleerde se gebed in sy laaste uur
en stig so dekade-lange wrewel.
In die dertigs was sy mooi haltermak,
met dissipline wat grammatika bring  
gelei van Genesis tot by Openbaring.
Daarna ontwikkel sy op wisselende vlak:
standaard korrek langs die kerkklok,
in lesingsaal en parlement
maar daar naby in die mond van ’n Kaapse vent
djive en djol, agteropskop en gebok,
ook geleer om raak te trap met trae trant
oor Namakwalandse kaiingklip-rant.
Toe is sy opgesaal met nasionalisme,
ingespan voor elitisme.
Sy was die draer van Jimmy Kruger-skande:
“Dit laat my koud”, Treurnicht met sy Rande:
“Ons betaal,
ons bepaal.”
Sy het korporaals gehelp om te vloek
op jonges wat op troepetreine inboek
maar ’n sensuurraad hou wag by die hek
en sê vir Brink “Houd den bek!”
Stadig skud sy die bagasie af, gesteur
maar nietemin nou in haar fleur.
Digters laat haar fyntjies trippel, mooi dresseer,
as’t ware met haar sagte neus
warm asem blaas op mense-gees.
Aksieskrywers laat haar wild gallop,
dônner, skiet en skop.
En dan is daar die satiriste
wat soms tot skok van die puriste
haar op haar agterpote het,
geniepsig laat kap en byt in kabaret.
Feeste word haar lewensbloed
wat vir TRUK en KRUIK vergoed
al is die algemene bywoning
van ’n “show” beter as ’n vertoning.
Dan is daar die gewone spreker,
die weiding waarop sy oorleef,
wat met oorvloed in sy beker
tog sms- en anglisis-bosluis inweef.
Ons moet haar skoonhou met roskam,
keer dat papie en pes haar verlam 
gereeld teen perdesiek inspuit
sonder om vernuwing uit te sluit.
Streel haar flanke met voorgeslag se idioom
sodat ons kinders nog met haar kan droom.

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top