Nou die dag, in die Kgalagadi-oorgrenspark, merk ek teenoor ’n amptenaar op dat alles darem vreeslik Engels is. Nee sê hy vir my op goeie Afrikaans, dit is nie so nie want hy is omtrent die enigste Engelssprekende werknemer in die organisasie. Ek sê vir hom maar dan, gegee dat omtrent al die werknemers Afrikaanssprekend is en seker 90% van die besoekers in die kamp (Nossob) ook Afrikaanssprekend is, is die feit dat al die brosjures en al die inligtingstukke teen die mure Engels is, niks anders as ’n afjak teenoor die Afrikaanssprekendes is nie.
"Nee meneer" vertel hy my toe, "jy moet dit nie as ’n afjak beskou nie; alles is Engels omdat die saketaal van die organisasie Engels is." Hy kon nie vir my sê wat geword het van "die klant is koning nie" en ek het dit toe maar gelos. Die punt is juis dat, met dié dat die werkerskorps omtrent almal Afrikaanssprekend is, en so ook bykans al die besoekers, is dit ’n afjak dat die saketaal Engels is. Hoekom; vir ’n paar toeriste?
Daar is een baie beduidende ding wat die amptenaar vir my gesê het; hy het gesê: "In al die jare wat ek hier ’n werknemer is, is jy nou die eerste ou wat kla oor die Engels." Kan jy glo? G’n wonder alles is Engels nie want ons Afrikaners is aanvaarders, dis ons lot, ons maak nie golfies nie, dis so beskik. Jan Cilliers se osse; geduldig, gedienstig, gedwee.
Die feit dat alles in die parke Engels is, en al hoe meer Engels word in die land, is nie omdat Engels ’n wêreldtaal is nie, of omdat dit in ons sterre is nie, of omdat die sondes van die vaders aan die kinders besoek word, of omdat dit maar is omdat so is nie nee, dit is omdat ons afjakkenswaardig is. En mens is afjakkenswaardig as jy minderwaardig is en soos Eleanor Roosevelt gesê het, daar is net een wat jou minderwaardig kan laat voel (en dus maak) en dit is jyself.
Ek kan nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat die ou spreekwoord van “soveel tale jy kan soveel male is jy man” onsin is nie; dit is net mooi andersom om die waarheid te sê. As jy in ’n gegewe geografies gebied twee tale het dan sal die groep met die minste tweetaliges die dominante groep wees. Dis ’n feit, dis termodinamika, dis ekonomie; jy spandeer nie energie aan iets waarsonder jy kan klaarkom nie.
Afrikaanssprekendes wat nie Engels kan praat nie is verleë; Engelssprekendes wat nie Afrikaans kan praat nie is geamuseerd. ’n Engelssprekende sê met ’n glimlag dat hy ongelukkig nie Afrikaans kan praat nie maar ’n Afrikaner wat nie goed Engels kan praat nie se gesig is bloedrooi en, om sy kinders dieselfde verleentheid te spaar, maak hy hulle Engels groot. As jy wat hier lees dus jou kinders in ’n Engelse skool het is die kans goed dat jy minderwaardig voel en besig is om hierdie minderwaardigheidsgevoel aan jou kinders oor te dra.
Ek sal nog hierdie toedrag van sake kon verstaan as die Afrikaanssprekende groep die kleinste van die elf taalgroepe in die land was maar dit is nie so nie, veral as jy beswaarde groothede beskou soos mandae (en dus manrande). Maar dit is nie so nie, in koopkrag (en selfs getalle) gemeet is die Afrikaanssprekendes ’n beduidende groep. Wat veroorsaak dan dat Afrikaans aan't verdwyn is? Kan net een ding wees en dit is ’n selfopgelegde minderwaardigheid.
Jan Rap

