Afrikaans het verdwyn . . .

  • 34

. . . van alle verpakkings af. Geen blikkie of etiket op enige botteltjie of pakkie het meer Afrikaans op nie.  Selfs Suid-Afrikaanse produkte het soms Portugees, selfs Arabies, by die Engels, maar niks Afrikaans nie.

. . .  uit die akademiese wêreld uit. Afrikaanse universiteite is oorgeneem deur Engels so geen skripsies, verhandelinge, proefskrifte of tesisse meer in Afrikaans nie.  Ook publikasies van die navorsingsinstansies soos die SABS, WNNR, Onderstepoort, Landbou Tegniese Dienste ens is net Engels.

. . . wat baie straat-, dorp- en plekname betref.

. . . uit die staatsdiens en semi-staatsinstansies uit soos Openbare Werke, die Polisiediens, die munisipaliteite ens. Dit sluit in instansies soos Eskom, die WNNR, die Buro vir Standaarde en ander navorsingsinstansies soos Onderstepoort ens. Weg is al daardie publikasies wat in Afrikaans verkrygbaar was.

. . . by meeste vakansie-oorde en wildsplase. Inligtingsbrosjures is net in Engels, inligtingsborde met diere- en plantname is net in Engels.  Wat ’n verleentheid en wat ’n skande; Afrikaanse kinders wie se voorouers alles benoem het ken nie eers meer die volksname nie (tensy, natuurlik, hulle dit by hulle ouers leer maar dié is deesdae net so oningelig).

. . . uit die howe uit.  Getuies wat Afrikaans wil praat moet tolke kry en dié se Afrikaans is meestal hopeloos.

. . . uit die kleinhandelwêreld.  Loop deur enige inkopiesentrum, deurloop of winkelsentrum en jy sien nêrens enige Afrikaans nie, selfs in Pretoria en Bloemfontein.

. . . grotendeels, uit Afrikaanse radio en televisie.  Skakel die radio aan (RSG) en die kans is goed dat jy Engels hoor –  ’n gas wat oorslaan Engels toe of sommer uit die staanspoor Engels praat, of gedurende ’n onderhoud met ’n minister of een of ander deskundige (asof daar nie diesulkes is wat Afrikaanssprekend is nie).  Afrikaanssprekende omroepers se Afrikaans raak al hoe swakker en afgewater.  Nou die dag hoor ek ’n omoepster sê vir haar mede-aanbieder “ ...  jy’s skerp vandag, ek gee jou dit.” ’n Ander een, vra haar gaste gereeld ) “wat maak jy van ...” as sy die gas se mening oor iets wil hoor.

Daar is ook geen Afrikaanse kinderprogramme op TV, sover ek kan agterkom, nie.  Indien daar is word hulle so oordonder deur die Engelse programme want ek sien die kleinkinders heeltyd Engelse programme sit en kyk.  Die gevolg is die kinders van daardie ouderdom dink die wêreld is Engels en dit is dan vir hulle heeltemal aanvaarbaar dat Engels op skool (en universiteit) die voer- en/of omgangstaal is.  Is dit deel van ’n komplot? Wat vir ons, my altans, na ’n gemis lyk is toe eintlik regeringsplanne wat mooi in plek val.

. . . uit baie Afrikaanse gesinne.  Hoeveel keer loop jy nie mense raak met Afrikaanse vanne wat glad nie Afrikaans kan praat nie.  Nou die dag hoor ek ’n onderhoud met ’n Van Schalkwyk, krieketspeler, en hy praat Engels.  Net na hom, dieselfde program, is daar ’n onderhoud met ’n Botha-vrou en sy praat ook net Engels alhoewel sy ooglopend Afrikaanssprekend is, selfs op ’n stadium gesê “ ... six people is ...”.   ’n Dag of wat daarna het hulle ’n onderhoud met Quinton de Kock en hy praat ook net  Engels.

Daardie De Kocks en Van Schalkwyks móés op ’n stadium Afrikaans gewees het, maar Afrikaans het uit daardie gesinne, soos soveel ander Afrikaanse gesinne, se lewens verdwyn.  Die Botha-vrou byvoorbeeld wíl Engels wees.  Die kinders word heel waarskynlik Engels grootgemaak en die nageslag gaan Afrikaansloos grootword.

By vlooimarkte, tot ’n groot mate, is die Afrikaanssprekendes wat kos verkoop se spyskaarte Engels en die kennisgewings en uithangborde by ander verkopers is ook Engels alhoewel die oorgrote meerderheid van die klandisie Afrikaanssprekend is.

. . . uit die werksomgewing en sakewêreld. Almal MOET Engels by die werk praat. Ook, probeer bietjie ’n navraag in Afrikaans (e-pos byvoorbeeld) by jou bank of mediese fonds en kyk die patetiese reaksie; dis nou by dié wat ordentlik genoeg is om jou te akkommodeer – daar is instansies wat bloot in Engels voortgaan.

. . . in ’n groot mate, uit Afrikaanssprekendes se spreektaal.  Male sonder tal hoor jy iemand sê‚” ... ek weet nou nie wat die Afrikaans hiervoor is nie maar ...” en dan sê hy die Engelse woord.  Mens hoor ook dikwels dat ’n spreker die Afrikaanse woord noem en dan byvoeg, “ ... in Engels is dit ...” en dan word die Engels gegee.

Nou die dag praat een of ander gas op die radio van ’n persoon wat op sy “vulnerable-ste is”.

Selfs ’n dominee sal gedurende sy preek sê,  “ ... die Engelsman sê dit vir my so mooi ...” en dan haal hy aan uit die Engelse Bybel.  Ook, het ek al gesien, op hierdie einste blad, dat ouens godsdiens stry en, soos hulle bybelversies aanhaal om hulle onderskeie standpunte te onderskraag, haal albei aan uit die Engelse Bybel, kan jy glo!

So kan mens aangaan; in elke aspek van die samelewing is Afrikaans besig om agteruit te gaan.  Die gewone mens kan seker nie kwalik geneem word nie, want sy opleiding en werksomgewing is heeltemal Engels. Mens sou egter graag wou sien dat die gewone mens bietjie moeite doen wat handhawing betref.  Wie wel kwalik geneem kan word is die dominees, imams, pastore, priesters en radio-omroepers.  Hulle is per slot van rekening leiersfigure en deel van hul taak is immers opleiding en opvoeding.  Hulle kan ten minste ’n beter voorbeeld wees. Dieselfde geld vir onderwysers.

Dus, vir al diegene wat sê “ ... solank Afrikaans gepraat word sal hy nooit verdwyn nie ...”, julle praat snert want Afrikaans word nie meer ordentlik gepraat nie en het in meeste aspekte van die samelewing verdwyn.  En wie moet die skuld kry vir hierdie agteruitgang?  Definitief nie die Engelse nie, of die regering of die noodlot nie.  Dit is ons eie skuld; ons het gaan lê en soos die ou oerwoudgesegde lui – as jy lê is dit makliker om op getrap te word.

Jan Rap

 

 

 

  • 34

Kommentaar

  • Hoor nou die dag 'n prof in Engels uit haar majesteit se land, teenoor 'n gas oor die radio die stelling maak dat die Engels wat hier (RSA) gebesig word, 'n "corruption of pure British English" is en nie as “(suiwer)Engels” geklassifiseer kan word nie. Tot die omroepster het vir my na "shaken" geklink.
    Oujaarsdag is ek by my middelste vir die verwelkoming van die Nuwejaar toe 'n jafel luidkeels verkondig dat "Dutch" by die universiteite verban is. Ek haal die prof aan en daar’s stilte, weliswaar nie vir lank nie, maar dit het by my die indruk gelaat dat die Engelse nadink.
    So orals waar ek kom dra ek die prof se sienswyse oor. En dit werk, want hulle sê niks en wonder.
    Miskien Jan, is daar tog nog iewers 'n ou flou Afrikaanse kersie brandend. Ek sal van my kant af volhou in my pogings om dit so te hou.

  • Beste Jan,
    Jy slaan die spyker op die kop: die Afrikaans waarvan jy praat, is dood. Morsdood, soos Latyn dood is. Suiwer Afrikaans is dood, dit kry g'n woordeskat by nie, dit verloor nie bestaande woordeskat nie, dit verskyn net in geskrewe vorm, niemand praat dit nie, behalwe diegene wat dit bestudeer het. My Latynonderwyser kon Latyn vlot praat, want hy het dit bestudeer.

    Die Afrikaans wat jy so dislike, ekskuus, waarin jy so ʼn renons het, (net ingestudeerdes ken daardie uitdrukking!), lewe. Dit kry daagliks nuwe woordeskat by, verloor argaïsmes, word gebruik om mee te kommunikeer, dit groei en floreer.

    Jy is mos al lank genoeg in die land om te weet dat ʼn van jou nie vertel wat iemand se huistaal is nie. Daar is Afrikaanssprekendes met die van van MacDonald, Page, O’Grady, Williams, Rowan, Gilbert, Kestell, Jarvis en nog honderde ander.
    Dit lyk my jy wil alles en almal in ʼn blik druk met die deksel styf bo toe, en daaruit mag niemand en niks uit ontsnap nie.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus

      Daar het jy toe weer die hele storie misgelees. Ek sê Afrikaans is besig om te verdwyn; daar is net geen Afrikaans meer op byvoorbeeld etikette van blikkies en bottels oor nie, selfs nie eers jou Nuwe! Verbeterde! Geradbraakte! Afrikaans nie.

      Terloops, wat betref die SUIWER Afrikaans wat jou so dwars in die krop steek - dit is tog eienaardig dat die sprekers van jou geliefde onsuiwer Afrikaans so graag suiwer Engels wil praat; hulle is tog so in die verleentheid as hulle nie goeie Engels kan praat nie dat hulle hul kinders daardie verleentheid wil spaar en Engels grootmaak.

      Latyn is 'dood' omdat daar nie meer Latynsprekers is nie en NIE omdat daar mense is wat vrot Latyn praat nie. Wat Afrikaans betref is dat daar mense is wat vrot spel en vrot skryf agv Engelse invloed; Afrikaans word verbaster met Engels en om dit as 'groei en floreer' te sien getuig bloot van 'n gebrek aan taalkundige insig.

      Groetnis en 'n blink 2018 vir jou.

      Jan Rap

  • Hans Richardt

    Jan Rap, politieke korrektheid-meelopers is "control freaks"!
    Die lekker van Afrikaans is dat mens nou kan skinder.

  • George Bekker

    Jan jy is darem net te pessimisties, alhoewel dit nodig is om sekere dinge onder die aandag te bring. Jy verwys na RSG. Hulle bied 'n Afrikaanse radiodiens aan, en maak hulself redelik min aan Engelse besprekings skuldig.

    Miskien voel jy beter as ek jou vertel van 'n besoek aan 'n vriend met twee honde op sy werf. Hy het nog nie skoongemaak nie en waarsku my dat ek moet oplet vir die Engelsmanne!

    • Nee George, RSG maak hulle NIE redelik min skuldig aan Engelse besprekings nie; hulle maak hulself baie skuldig aan Engelse besprekings. Daarbenewens gaan baie van hulle omroepers ook maar mank aan goeie Afrikaans. Hulle, lyk dit my, is egter nie die enigste nie want ek luister nou die dag na Radio Pretoria en daardie omroeper was ook maar beroerd.
      Jou vriend se 'Engelsmanne' is seker bullterriers. Ek het ook een maar hy's Afrikaans grootgemaak.

      • Beste Jan,
        Dit is nou maar onlangs wat dit "goeie Afrikaans" geword het. Dit was eens beskou as vrot Hollands. (moet asseblief nou nie daarmee verstaan wat my voorkeure is nie.)

      • George Bekker

        Aai Jan, begin nou verstaan hoekom Angus soms ontevrede is met jou. Ek sal dit moet uitspel: daar was drolle op die grasperk!

        • Ag George, nou dat jy verstaan dat Angus ontevrede met my is, beteken dit jy is ook. Nou waar't ek fout gemaak? Lieg ek as ek sê Afrikaans het op so baie plekke verdwyn? Kan tog nie die rede vir jou ontevredenheid wees nie want dit IS so - niks meer Afrikaans op blikkies en botteltjies en in die parke en poskantoor en by SARS nie. Of is jy ontevrede oor ek nie stilbly daaroor nie?
          Laat weet tog.

  • Beste Jan Rap
    Die geskiedenis herhaal sigself. Die Engelse het dit as 'n kombuistaal beskou, goed genoeg vir die boer om met sy werkers te kommunikeer, want dit is beskou as 'n “bastard jargon” ,verder is dit “regarded as inappropriate for educated discourse”.
    Die Engelse het pad gegee en die meerderheid is huis toe, vandag is daar 'n ander regering wat nie van plan is om pad te gee nie en van voorneme is om te regeer totdat “Jesus weer kom”. Dit is onder hulle bewind dat Afrikaans as die taal van die verdrukker beskou word en het hul handige bondgenote gevind in diegene in beheer van sake by veral opvoedkundige inrigtings.
    Op die web kan 'n mens lees dat oor die oorlog geskryf is: “Families were torn apart, impoverished ‘bittereinders’ were deeply resentful of ‘hensoppers & joiners’ whose farms were not burnt down and whose stock survived .”
    Nou lyk dit daar word 'n taalstryd geveg waarin die “bittereinders” weereens in 'n “geveg” om die behoud van Afrikaans met “hensoppers & joiners” betrokke is, want Afrikaans word deur laasgenoemdes beskou as maar net 'n “kombuistaal” is in vergelyking met Engels as 'n wêreldtaal en kan dus op die altaar van versoening as 'n offer geplaas word.

    • Jy's reg FC Boot, die geskiedenis herhaal homself en ons leer maar net nie daaruit nie (in sigself 'n herhaling).

    • Grootste fout wat Afrikaners gemaak het was om van Nederlands as formele taal afstand te doen. Kon nog altyd Afrikaans as ’n soort tussentaal gepraat het. Het ons in ’n kulturele vakuum gelaat. Deurlopende kruisbestuiwing met Nederland en haar taal sou van onskatbare waarde gewees het. Woon nou vir tydjie in Amsterdam en dis so verfrissend om iets naby my taal orals te hoor en te sien. Wat my opval is dat Nederlanders glad nie ’n chauvinistiese "praat Hollands of hou jou bek" houding het nie, maar hulle bly onbeskaamd Nederlands en behalwe vir sinvolle leenwoorde soos computer is hulle taal eg en suiwer. Dat ’n soort van Afrikaanse mengeltaal sal bly voorbestaan vir nog ’n goeie paar jaar is ’n feit. Maar is ’n taal waar helfte van die woorde swak uitgespreekte Engels is ’n werklike taal of is dit nie maar net ’n kreool of pidgin Engels nie? Hier dink ek word Afrikaans maar as een swak Nederlands of kleutertaal gesien met ’n paar oulike nuutskeppinge. Ons sou net in soveel sterker posisie gewees het as ons ’n werklik erkende taal gepraat het en nie ’n taal wat ons om politieke redes geskep het uit Nederlandse slawetaal nie. Wat my opval is dat Surinaams Nederlands vir my by verre die maklikste verstaanbare dialek is. Bevestig maar net weereens dat Afrikaans begin het as ’n slawe-patois van Nederlands.

  • En weet ek verder te verdedig my Afrikaans "grew from the soil of Africa", no corruption there"!

  • Hans Richardt

    Jan Smuts het na 1905 die kerkskole in Hooghollands, wat taal en Calvinisme bevorder het, Zealotry genoem en die kerkskole verban. Hy was minister van onderwys in na 1905 Transvaalse kolonie, waarvan Botha eerste minister was, voor uniewording.
    Politieke korrektheid ideologie-aanslag is die probleem. Solank mense Saampraters en meelopers bly, sal hul offer wat politieke korrektes vra.

  • Beste Jan,
    Jy kan my beskuldig van baie dinge, maar nie daarvan dat ek iets mislees nie. Dis nou maar my geaardheid dat ek alles onder die loep neem. Kyk nou maar hierbo: die opskrif van jou brief sê: “Afrikaans het verdwyn”, en nou beweer jy ek het misgelees, want jy het gesê dat Afrikaans besig is om te verdwyn. Oordeel nou self: wie het misgelees? Ek of jy?
    Jy wil ook nie verstaan dat ek Afrikaans en enige ander taal so objektief moontlik waarneem en beskryf nie. Die sogenaamde suiwer Afrikaans steek my nie dwars in die krop nie, ek beskryf slegs wat ek waarneem en sien gebeur. Wat ek waarneem, is dat die Afrikaans, waaraan so baie mense gewerk het om dit gestandaardiseer te kry, nie meer gepraat word nie. Afrikaans, wat sover moontlik gesuiwer is van anglisismes, en wat die amptelike taal van Suid-Afrika geword het, lees ʼn mens net in boeke. Niemand praat dit nie. Dit het ʼn dooie taal geword, wat slegs (soos Latyn), geskryf word. (Ek weet dat jy met my saamstem, maar dat jy verkies om dit te vertolk as sou suiwer Afrikaans my dwars in die krop steek.)
    Die lewende Afrikaans (moet dit nou nie vertolk as dat dit my geliefde onsuiwer Afrikaans is nie) word lewende Afrikaans genoem omdat dit die taal is wat die mense praat. Hierdie Afrikaans se woordeskat word by die dag groter, hoofsaaklik Engelse woorde. Dit is hoe mense praat, en ek en jy kan net mooi niks daaraan doen nie. Ons kan dit slegsê, vrot Afrikaans noem, of geradbraakte Afrikaans, maar dit sal niks aan die saak verander nie. Afrikaans verander so met die tyd, soos enige ander taal ook met die tyd verander. Dit kan ook nie anders nie: ʼn taal moet aanpas by die tyd en omstandigheid. Die Voortrekkers het nie selfone, rekenaars en motors geken nie, net ossewaens. Vandag se mense weet nie wat ʼn juk, ʼn touleier en ʼn teerputs is nie, om nie eens te praat van ʼn wakis, ʼn Sanna en ʼn trompie nie. En wie weet nog wat ʼn lampetbeker is?
    So terloops, mense spel nie vrot agv Engels nie. Die enigste rede waarom iemand vrot spel is omdat hy nie geleer het om te spel nie. Natuurlik floreer hierdie nuwe Afrikaans met sy baie Engelse woorde. Almal praat so, en dis hoe almal kommunikeer. (As ek sê “floreer”, verstaan jy al weer dat ek dit goedpraat. As ek sê korrupsie floreer in Suid-Afrika, beteken dit nie dat ek dit goedpraat nie.)
    Taalkundige insig? Sou jy sê dat met die ontstaan van Afrikaans, toe taalkundiges gepraat het van die wonder van Afrikaans, hulle ook geen “taalkundige insig” gehad het nie? Hierdie taal was tog immers beskou as uiters swak taal, geradbraakte Nederlands, ʼn regte kombuistaal.
    Nog so ʼn terloops. Waar het ek beweer dat Latyn ʼn dooie taal genoem word omdat mense begin vrot Latyn praat?
    Groete,
    Angus

  • Andri Nieuwoudt

    Dis interessante leesstof. Ek het in 2002 noodgedwonge weens my loopbaan na Nederland moes verhuis en het toe net een kontak op die internet met Afrikaans gehad en dit was hier op LitNet. Sedertdien het daar tye van isolasie en tye van nader beweeg gevolg, en ontwikkeling van internet se sogenaamde sosiale media. met die blik wat ek hier vanuit die donkerte van die Europese winter werp op die Afrikaans – as mens dit so mag noem – wat sommiges in Suid-Afrika skryf en praat gril jy. Dis nie Afrikaans nie! Dis eerder 'n Afrifanakalo. Ek dink nie Afrikaans is aan die verdwyn nie, ek dink dis lewendig – maar net nie in Suid-Afrika nie. Die vlerke het gesprei en dit is lewendig en word gevoed vanuit elke kolletjie op die aardbol waar daar een van ons geland het na die vlerke gesprei het. Dis meer op etikette in Nederland en België waar die waarde van veeltaligheid en die beskerming deur die gebruiker toegepas word. Ek gril as ek sien hoe Afrikaanse webwerwe vir my vra "reply" as hul vir my wil sê "antwoord", en sê "comment" as hul om kommentaar vra vir my op 'n huisgenoot se kommentare wat as "comment" aangetoon word. Taal is nie net 'n kommunikasiemiddel nie – as jy dit as sulks sien dan hoort jy nie tuis in hierdie huis nie! Ek nooi jou in die wêreld in, uit die Suid-Afrika se gebondenheid aan eentalige neiging wat veral gedrewe is onder die krag wat vloei uit die Afrikaanssprekende, na hier in die wye vrye wêreld waar Afrikaans geen landsgrense het nie. Kom na ons sosiale mediums wat ons geskep het en praat die taal wat vloei sonder dink, wat uitbloei en lewe: ons praat hom hier meer. Ons hoor hom hier meer. Ons hoef hom nie kunsmatig te beskerm net om hom aan die lewe te hou nie. Ek skaam my vir die tipe sprekers wat die taal van my hart so slordig rondsleep, en dit waar ek vandaan gekom het.

    • Beste Andri
      Ek was vanjaar in Amsterdam vir 'n paar maande. Van die "veeltaligheid" waarna jy hier so trots verwys, het ek egter net verengelsing teëgekom. Sonder die ingryping van Beter Onderwijs Nederland (BON), sal die universiteite en die bedryf daar binnekort totaal verengels ter wille van 'n sekere begrip van wat internasionalisering beteken. Daar is oor die afgelope paar jaar 'n skerp afname in belangstelling in ander Europese tale.
      Ek is bevrees jou en Angus se "taal wat vloei sonder om te dink" is die resultaat van hierdie stompsinnigheid. Kyk gerus na hierdie artikel: https://www.volkskrant.nl/opinie/opinie-engels-als-voertaal-vernielt-het-hoger-onderwijs~a4503046/

      • Andri Nieuwoudt

        Amsterdam is nie Nederland nie. Kom hier platteland toe en reis deur Duitsland en kyk of jou Engels jou veel kan help. Om burgerskap te kry moet jy taaleksamens skryf.

    • Andri, ek is met jou. Ek is tans op die Nederlandse platteland en kommunikeer met die mense hier in 'n aangepaste vorm van Afrikaans. Trouwens, ek reis nou al drie weke in Europa en het nog geen woord op Engels gepraat nie. Ek praat Frans, ek vra die Duitsers om my gebrekkige Duits te verdra (maar begryp hulle heel goed) en is oorweldig deur die reaksie op die platteland, asook deur al die tekens op Nederlands, met geen Engels nie. Nie een mens in hierdie drie lande het na Engels oorgeslaan nie. Die Afrikaner het 'n groot fout gemaak om Engels te probeer word. Ons is sóveel ryker daarbuite.

  • Oee jinne. Poefie hier, poefie daar. Die wyn is dam suur vedag!

    Enige taal is eerstens 'n kommunikasie-middel en Afrikaans is my darling hawe-hoer, sy pas aan. (Sy vloek jou al hoe beter.) Sy assimileer die tye en die getye, elke keer as daar 'n nuwe skip aan wal kom, elke keer as 'n tsotsi iets skerp kwytraak. En dis hoekom sy oorleef in 'n harde klimaat.

    Jammer vir die pap hartjies en die verontwaardigde waardiges. Skryf, praat en hou op kerm.

    • Jitte Gabriel, hoe verwys jy dan na Afrikaans as vroulik? Net goed met melkkliere en wat kinders voortbring is vroulik. Taal is onsydig en onsydige goed se besitlike en persoonlike voornaamwoorde is SOOS die manlike.
      Wat die skryf en praat betref, daar stem ek saam met jou; dis tog immers wat ek heeltyd propageer. Ek stel voor jy maak so pleks van om te kerm en derms uit te ryg as iemand uitwys dat al hoe minder hom praat en skryf.

  • Dit is fassinerend om die stryery te volg. Dit is amper soos is/issie/is/issie. Onder ons vriende is die toekoms van Afrikaans dikwels die fokus en veroorsaak alewig 'n lekker bakleiery. Miskien is dit 'n goeie ding (a good thing). Dit raak ons almal, maar ek is regtig bly dat Angus deelneem aan die gesprek, want selfs Afrikaanse bullterriers los uitskytings op die gras. Lekker 2018 aan almal.

    • Andri Nieuwoudt

      Hoekom sê jy “its a good thing” tussen hakkies: ek dink dus ‘n onbewustelike neiging om te wys die Engels is kragtiger, of dink jy ons weet nie wat ‘n goeie ding beteken nie. Volgens my bevestig u juis die punt wat in die begin-opmerking van hierdie kletslyn gemaak word. Die binnelandse gebruik van Afrikaans in Suid-Afrika gaan mank aan ‘n neiging tot slordige gebruik met onnodige taalvermenging: ek is in Europa en hier kry elke taal in die EU (en dis meer as 11) sy regmatige plek op etikette, handleidings, ens. Geen taalvoorkeur- hoekom? Omdat daar onderlinge respek vir mekaar is. In SA het die Afrikaansspreker sy respek vir Afrikaans as taal verloor en neig om die rol van gebruik te verloor na kommunikasietaal alleen.

      • Ek is met jou een honderd persent eens. Trouens, ek kan die gebrek aan respek vir Afrikaans van Afrikaanssprekendes ("ek is gebless" skryf een of ander persoonlikheid nou onlangs) nie meer uitstaan nie. Ek is in die proses om my inskrywings op alle Engelse koerante te kanselleer (behou nog die oordeel op Netwerk24 voor) en is ingeskryf op De Volkskrant en Le Monde. Deutsche Welle is verniet.

  • Andri Nieuwoudt

    Waarom ‘n goeie ding volg met die Engelse vertaling? Ek stem nie saam dis ‘n is/issie ding: die verswakking en afskaling van die - let wel - binnelandse gebruik van Afrikaans is duidelik. Daar is geen -om dan jou taal te gebruik - “a good thing” daaraan nie. Dis gewoon slordig. Let op: ek woon in Europa en hier kry alle tale plek op etikette, handleidings, ens. Dis meer as 11 tale: elkeen kry sy regmatige plek juis omdat taaldiversiteit herken en gehandhaaf word.

  • Soms wanhoop ek en ander dae weer nie. Ek wil huil as ek sien die AWS gee "oukei" aan in plaas van "reg so" en dan droog my trane wanneer ek 'n e-pos kry van 'n leser wat my komplimenteer met die mooi Afrikaans in my boeke en hoe die kinders dit geniet. Nie "kids" nie, kinders.
    Ek dink nie Afrikaans sal uitsterf nie, maar dan moet dit gehandhaaf word deur ons skrywers en openbare media. Ek lees Die Burger en ek sien geen Afrikaans soos "wat mense praat" nie. Sodra ons aanvaar dat daar 'n verskil is tussen praat en skryf, is die Kaap weer Hollands.

  • Vandag erg hartseer en wanhopig as ek gebeure by Overvaal en kommentaar van politici-media en twitter volg. Kan net nie begryp hoekom moedertaal-onderrig nie aanvaarbaar is nie. Hier in Europa gaan dit amper na die ander ekstreem. As daar drie kinders is wat ’n obskure dialek praat sal hulle ’n skool kry!

  • Hans Richardt

    Man, kom ons is polities korrek en praat Khoisan/Kaaps, mengelmoes taal van Engels, Afrikaans en Xhosa ... die straattaal van townships!

  • Almal mis die werklike rede hoekom Afrikaans vou: 'n tekort aan belangstelling. Al die uitdagings kan oorbrug word as Afrikaners so erg oor hulle taal voel as oor die Bokke.

  • Beste Felix,
    Die enigste mense wat belang stel in Afrikaans of enige taal, is taalkundiges: mense wat taal bestudeer. Dink jy die mense praat Engels die wêreld oor omdat hulle belang stel in Engels? Glad en geheel nie! Hulle wil met mekaar kommunikeer, en dis waarvoor taal daar is. Afrikaans vou ook nie, dit gedy! Kyk net hoe lekker gesels ons met mekaar in Afrikaans hier op SêNet.
    Groete,
    Angus

  • Beste Hans,
    Wat jy dit ook al wil noem, en wat jy ook al praat, polities of andersins, geen taal is verhewe bo 'n ander nie, polities of te not. Dis maar geluide wat uit die mens se mond kom, en daarmee sê hy wat hy wil sê.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top