Afrikaans en die media op pad na 2020

  • 0

Waldimar Pelser was een van die sprekers by die simposium wat die Afrikaanse Taalraad op Vrydag 18 Oktober by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl aangebied het. LitNet plaas sy bydrae oor Afrikaans en die media op pad na 2020.

’n Mens moet ligloop vir voorspellers van die toekoms, want voorspellings is meestal maar op beskikbare data gegrond, en beskikbare data kan vir ons niks oor groot onvoorsiene gebeurtenisse vertel nie, en sulke gebeurtenisse kan die toekoms in ’n heel nuwe rigting stuur.

In sy fenomenale 2007-boek The Black Swan – The Impact of the Highly Improbable, gebruik Nassim Nicholas Taleb die voorbeeld van die Amerikaanse Kerskalkoen. Op dag twee van die kalkoen se lewe beskik hy (of sy) oor dubbel soveel data wat wys hy word elke dag gevoed. Op die honderdste dag is die bewyse amper oorweldigend: die volgende maaltyd sal ook kom. En op dag 360 het die kalkoen regtig geen rede meer om oor sy skouer te kyk nie.

Dan kom die mes.

Ons onderskat die impak van die hoogs onwaarskynlike.

In 2020 …

Is dit 26 jaar ná die eerste demokratiese verkiesing, 105 jaar ná die totstandkoming van Die Burger, 50 jaar ná die totstandkoming van Rapport, 55 jaar nadat Gordon Moore van Intel voorspel het dat transistor-digtheid vir 10 jaar elke twee jaar sal verdubbel? Daar is baie oor 2020 wat ons nie kan weet nie, soos die tipe tegnologie wat tot ons beskikking sal wees, want dit is werklik ’n wegholtrein hierdie, en dit bied asemrowende geleenthede vir alle mense, en vir elke taalgemeenskap, ook Afrikaanses.

In die Paarl is al dikwels in die verlede oor die toekoms nagedink.

Op 24 Februarie 1989 skryf ’n briefskrywer aan Die Burger hy glo daar behoort meer gekleurdes in die hoofbestuur van die FAK te dien. Hy begin:

In die afgelope week was daar 'n paar berigte wat ek as Afrikaanssprekende baie ontstellend gevind het. Die eerste was oor 'n seminaar oor die jaar 2020.

In dié seminaar, by die Taalmonument, is voorspellings gewaag oor Suid-Afrika se bevolkingsamestelling en die tale wat ons in 2020 sou praat. Daar sou 30 miljoen swart mense wees, 5 miljoen wittes, 4 miljoen bruin mense en sowat 2 miljoen Asiërs. Vandag is daar 40 miljoen swart Suid-Afrikaners, 4,6 miljoen wittes, 4,5 miljoen bruin mense en 1,2 miljoen Asiërs. Daar is voorspel dat 2,5 miljoen wittes Afrikaans sal praat (dit is nou 2,7 miljoen) en slegs 2 miljoen bruin mense (dit is reeds 3,4 miljoen bruin Afrikaanses). Sowat 600 000 swart Suid-Afrikaners noem Afrikaans hul huistaal.

Dan sê die briefskrywer:

Enige nugter denkende mens kan ook besef dat 5 miljoen nie 36 miljoen vir ewig uit 'n politieke magsposisie sal kan hou nie. Sal Afrikaans in 2010, as net 4 1/2 miljoen Afrikaanssprekend is teenoor die 35 miljoen wat net Engels magtig is, nog 'n amptelike taal wees?”

Nou ja – Afrikaans ís ’n amptelike taal, alle Suid-Afrikaners mág vandag deelneem aan die politiek en die land se leiers kies, en in die breë sin van die woord floreer die media in Afrikaans, al is daar soveel ander Suid-Afrikaanse stemme wat om ons hoorbaar is.

Voor ek dit waag om te voorspel hoe die Afrikaanse media in 2020 sal lyk – en dit is natuurlik om die draai – ’n vinnige kykie na vandag, want daaroor is dit makliker om saam te stem, hoewel mens nie so sou dink as jy na die kommentare op veral die internet kyk oor sake van die dag nie, in Afrikaans en enige ander taal!

Meer mense praat nou Afrikaans as op enige stadium in die verlede – 13,5% van die bevolking. Amper 7 miljoen mense. Meer as die helfte van hulle is bruin. Afrikaanse musiek oorheers CD-verkope; Afrikaanse feeste is saam eksponensieel groter as enige andertalige eweknieë, van die pas afgelope Aardklop tot die ATKV se rieldanskompetisies; Afrikaanse skole tel onder die land se bestes; baie Afrikaanse kinders is vlot tweetalig, wat hulle vlerke gee hier en in die buiteland; die Afrikaanse letterkunde het diepte en momentum.

Meer mense sê ook hul sê in Afrikaanse media: daar is ’n ontploffing van Afrikaanse stemme. Op TV is daar Afrikaanse nuus op twee kanale en ’n hele boeket Afrikaanse kykNET-kanale wat van krag tot krag gaan wat kykertalle betref en boonop goed sake doen.

Daar is ’n robuuste vraag na Afrikaanse vermaak, van sepies tot aktualiteitsprogramme. Afrikaanse radio gedy selfs in die hart van die SAUK. Die meeste Afrikaanse koerante is markleiers, al is sirkulasie onder druk – dit is ’n tendens wat geëggo word in alle tale. Meer as ’n miljoen Afrikaanses lees elke Sondag Rapport, waar ons dit ons doelwit maak om die werklikheidservaring van veral Afrikaanse mense, maar nie nét Afrikaanse mense nie, sekuur te verwoord, en in Afrikaans te vermaak, te boei en ook vrae te vra.

Die grootste mediawindkous vir Afrikaans in 2020 is egter aanlyn.

Die internet lyk van ver af Engels, maar as jy Afrikaans soek, gaan jy vind:

  • Sowat 40% van webgebruikers in Suid-Afrika praat Afrikaans.
  • 47% van wit Afrikaanses en 18% van bruin Afrikaanses het toegang tot die internet.
  • Die tweede gewildste Facebookblad in Suid-Afrika is in Afrikaans (Huisgenoot met 220 000).
  • Die tweede gewildste YouTube-kanaal in Suid-Afrika is Afrikaans (Select Musiek, 8,3 miljoen kyke).

Ons lewer kommentaar, beskinder mekaar, deel koekresepte, sleep vlerk, koop en verkoop, beplan reise, dig, skryf, lees, twiet, sing, lag en snak na ons asems op die internet, in Afrikaans. Ons bou en koop en verkoop Afrikaanse apps, of toepassings, vir ons fone en tablette. 40% van ons kies Afrikaans wanneer ons met die inbelsentrum van die aanlyn winkel kalahari.com gesels, waar die gewildste item laas Kersfees Storieman was.

Die koste daarvan om in Afrikaans jou sê te sê het skerp gedaal. Enigiemand kan vandag Afrikaanse nisse aanlyn skep, of dit is vir jou naaldwerkklub of vir ’n politieke saak. ’n Bepaalde bevryding van stemme is moontlik gemaak deur die digitale revolusie.
Afrikaanse mense is digitaal geletterd en honger vir Afrikaanse inhoud. Dit is alles goeie nuus vir Afrikaanse media na 2020.

Maar net soos ’n pluraliteit van stemme in Afrikaans en ander tale goed is vir ons land, moet ons ook verseker dat Afrikaanse media die vermoë bou en behou om nie net die hele Afrikaanse wêreld te beskryf en te verwoord nie, maar ook ’n groter werklikheid.
Afrikaanse media sal so groot wees as die wêreld wat ons die vermoë het om in Afrikaans te beskryf in 2020.

Dit is ons vernaamste uitdaging – om met gesag te kan praat oor wat om en in ons gebeur, in Afrikaans. Om ons bekende wêreld met ewe veel gemak te verwoord as dit wat vir ons vreemd en anders is, in Afrikaans. Om nie op te hou praat in Afrikaans oor ideale nie, en nie net Afrikaanses se ideale nie, maar ook anderstaliges s’n, want Afrikaans het nog nooit gefloreer in kunsmatig Afrikaanse omgewings nie. Dit is ’n taal van hier.

Dit is ’n Christelike taal en ’n Moslemtaal en soms ook ’n on-Christelike taal. Dit is die taal van Coenie de Villiers en Francois van Coke, van Die Burger tot watkykjy.co.za, van Mathews Phosa en Laurika Rauch, van besinning en ligsinnigheid, van die verlede en van 2020.

Dit praat mooi en dit praat lelik, dit praat vir en dit praat teen, dit is wit en dit is swart en dit is bruin. Die deure is oop en daar waai ’n ongereguleerde bries daardeur.

Is daar gevare?

Daar is áltyd gevare – en die kalkoen besef dit altyd te laat. Vir tradisionele Afrikaanse media is die vernaamste uitdaging ook dié van ander media, en dit is om nuwe inkomstes te genereer om vir gesaghebbende joernalistiek te betaal. Nog ’n gevaar sou wees om Afrikaans te wil afstig, om daarvan ’n enklawe te wil maak. Afrikaans is deel van Suid-Afrika, en Afrikaanses ook. Afrikaanse digitale gehore groei skerp en daar is ’n ryke verskeidenheid van stemme en nisse. Ons sal Afrikaans gebruik om met mekaar aan te hou praat oor die hele morsig-pragtige, droë-nat, goeie-en-slegte, suur-en-soet landskap om ons. Ons sal aanhou om in Afrikaans stories te vertel wat van landsbelang is, én soms doodgewoon net lekker is om te lees.

Lees ook 'n ander essay deur Herman Wasserman op LitNet oor die stand van die Suid-Afrikaanse media.

Also read African languages in the print media.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top