Bydrae gelewer tydens Roots-konferensie by Universiteit van Wes-Kaapland, 22-23 September 2009
Munadia Karaan, programbestuurder en aanbieder by The Voice of the Cape (VOC)
Met die totstandkoming van die Stem van die Kaap radiostasie 15 jaar gelede was daar ’n pertinente kwessie wat aangeroer moes word: Watse taal sou daar op dié gemeenskapsradiostasie gepraat word wat hoofsaaklik die Moslem-gemeenskap bedien? Dit was ’n ongemaklike vraag om op daardie stadium te vra. Hoewel die taal op ’n daaglikse basis in dié gemeenskap gepraat word, het polities-bewuste Moslems al hoe meer wegbeweeg van die taal as gevolg van die rol wat Afrikaans gespeel het in die apartheidsbewind.
Dit was veral sterk gevoel onder die geslag wat baie aktief was in die studente-onrus van 1976 en 1980. Dié vervreemdheid van Afrikaans het daartoe bygedra dat die grootste deel van die Moslem-gemeenskap hoogs onbewus was van die rol wat ons voorvaders en -moeders gespeel het in die totstandkoming van die taal.
Dit was nie tot nadat mense soos oorlede dr Achmat Davids begin navorsing doen het oor die oorsprong van die taal dat die Moslem-gemeenskap begin notisie neem het van die verhoudings tussen Moslems en Afrikaans nie. Die ontdekking van die eerste Afrikaanse boek wat in Arabies geskryf is in die laat 1980’s, vroëe 1990’s deur ons voorsate was ’n openbaring vir baie jong Moslems soos ek wat tot op daardie stadium nie besef het dat Afrikaans meer was as net ’n taal wat deur Afrikaners vir hulself geëis is nie. Trouens, die ouer garde in ons gemeenskap het hulself altyd as “Afrikaners” beskou as gevolg van die feit dat hulle Afrikaans as moedertaal gepraat het.
Maar in 1995 was dit in die vroeë stadium van ’n debat wat steeds voortduur, en as gevolg daarvan moes ons as ’n radiostasie, versigtig trap oor ons taalvoorkeure op die lug. As gevolg daarvan is daar besluit dat ons nie BBC-Engels kon praat nie. Ons kon ook nie SAUK-Afrikaans praat nie. Dit was nie wie ons is nie en sou die meeste luisteraars hoogs ongemaklik laat voel. Wat ons nodig gehad het, was ons eie klank.
Maar terselfdertyd kon ons ook nie die tipiese Kaapse taalmengels na willekeur op die lug praat nie, omdat daar persepsies daarmee gepaard gegaan het wat baie mense aanstootlik en verkleinerend gevind het. As jy Kaapse Vlakte-Afrikaans praat, dan was jy veronderstel om “Gam” te wees – onopgevoed en onintelligent. Suiwer Engels en suiwer Afrikaans was egter net so onvanpas. Dus moes ons die goue middeweg vind, wat daarop neergekom het dat daar ’n formele, maar nie akademiese styl nie, van albei tale op VOC gepraat is.
Dit het beteken dat ’n omroeper formeel genoeg in Engels en Afrikaans moes praat om enige gas tuis te laat voel, maar dat ons terselfdertyd na ’n meer informele vorm kon oorskakel wanneer ons met luisteraars praat. Mettertyd, met die veranderinge na 1994, het meer lede van ons gemeenskap na Engels oorgeskakel, omdat dit die vinnigste manier was om aan te dui dat daar ’n verandering in die land was.
Die verandering
Dit was ’n verandering wat sigbaar was beide op opvoedkundige vlak, waar al hoe meer kinders by tradisioneel Afrikaanse skole na Engelse onderrig oorgeskakel het. Dit is ook deurgevoer op korporatiewe vlak, waar selfs eksklusief Afrikaanse instansies nou na Engels oorgeskakel het as deel van ’n nasionale ommeswaai.
Ongelukkig het dit ook die gevolg gehad dat waar VOC in 1995 50 persent Engels en 50 persent Afrikaans op die lug gepraat het, ons teen 2008 60 persent Engels, 30 persent Afrikaans en 10 persent in ander tale soos Oerdoe en Xhosa gepraat het.
Daarom was dit ’n verrassing toe ek in Februarie verlede jaar ’n meningsopname op die lug gedoen het om vas te stel of luisteraars tevrede was met ons taalvoorkeure. Volgens ons inbellers het hulle self onbewustelik daagliks meer Engels begin praat oor die afgelope 15 jaar. Maar bykans 80 persent van ons luisteraars wou 20 persent meer Afrikaans op die lug hoor. Daarteenoor was ons aanlynluisteraars, wat oor die algemeen meer professionele mense was, nie so gretig vir dié verandering nie. Volgens ’n aanlyn-meningspeiling was 54,4 persent tevrede met die taalvoorkeur; 36,8 persent wou graag sien dat die Afrikaanse komponent verhoog word; terwyl slegs 8,8 persent geen Afrikaans op die lug wou hoor nie.
Die meningspeiling kom ses maande na ’n vorige een waar 89,3 persent van die respondente die idee om Afrikaans met ons eie unieke Kaapse kleur terug te eis ondersteun het. In ’n derde peiling in Januarie 2008 het 53,2 persent gesê hulle verkies dat ’n semiformele Afrikaans op die lug gepraat word; 29,1 persent was van mening dat ’n informele Kaapse Vlakte-Afrikaans op die lug gepraat moet word; terwyl 17,7 persent slegs formele Afrikaans op die lug wou hoor.
In die afgelope maand het ek die debat verder gevat deur uit te vind of hierdie nuwe “gemaklikheid” met Afrikaans ook tot die internet gestrek het. Ons webruimte trek sowat 30 000 besoekers ’n maand wat verantwoordelik is vir sowat 20 miljoen “hits” per maand sedert Junie. Die webruimte is nou sewe jaar oud en sowat 20 persent van die besoekers is Suid-Afrikaners uit die Moslem-gemeenskap wat oorsee is.
Praktiese implementering
Inhoud op die webruimte, wat jy sal vind by www.vocfm.co.za, is eksklusief in Engels, maar die inlywing van nuwe sosiale-media-toerusting (soos ’n sms-fasiliteit, kommentaarblokkies op artikels, maar veral die kitsboodskap- of Instant Message Service-gebaseerde Shoutbox) laat besoekers toe om as’t ware met mekaar te gesels. As sulks het ons gevind dat mense dit verkies om te “chat” of klets in geskrewe vorm soos wat hulle in gesprek sou doen – op Kaapse Vlakte-Afrikaans, ’n mengsel van hoofsaaklik Engels met ’n goeie dosis Afrikaans vir aksent inhou. Ons aanlynbesoekers noem dit “Englikaans”.
Aanvanklik is dit ’n outomatiese ding wat gebeur. Mense dink nie twee keer daaroor nie. Hulle gesels doodeenvoudig met mekaar asof hulle dit in ’n fisiese, aangesig-tot-aangesig-gesprek sou doen. En die mengelmoes van Engels en Afrikaans op die internet het begin eggo wat ons radioluisteraars 18 maande tevore gesê het: meer tyd en spasie vir Afrikaans soos wat ons mense dit praat.
Dis ’n groot stap vorentoe in ’n debat waaroor ons oor die algemeen maar versigtig was. Deur die jare was dit hoofsaaklik ons Bolandse luisteraars wat ’n groot passie oor Afrikaans gehad het en die taal baie meer gepraat het as in die stad. Trouens, dit het so erg geword dat ons byna glad nie mense in die stad kon kry wat ’n ordentlike Afrikaanse bulletin kon skryf of lees nie. Dit was een van die redes hoekom die taal oor die 14 jaar onbewustelik met 20 persent afgeskaal is.
Met dié nuwe insette van ons luisteraars die afgelope twee jaar het ons daadwerklik begin poog om meer Afrikaans te praat, nie net op die lug nie, maar ook in gesprek op ons webruimte. Selfs ons Kaapse omroepers, wat maar skugtig is om in Afrikaans te praat, omdat hulle voel dat hulle net Kaapse Vlakte-Afrikaans kan praat en dus nie formeel genoeg is om op die lug te praat nie, word nou daarop bedag gemaak dat hulle dan eerder Engels met gaste moet praat, maar wanneer luisteraars inbel en Afrikaans praat, dan moet hulle in informele Kaapse Vlakte-Afrikaans antwoord om die luisteraar gemaklik te laat voel.
Analise
Die verandering wat ons oor die afgelope 15 jaar gesien het onder ons luisteraars ten opsigte van Afrikaans, het baie te doen met ’n nuwe gemaklikheid wat daar in die Moslem-gemeenskap is oor ons plek in dié land. Vyftien jaar gelede was ons nie seker wat demokrasie sou beteken vir ons eiesoortige kultuur en geloof nie. Ons het verwag dat dit bedreig sou word en verlore sou gaan in die nuwe Suid-Afrika.
Vandag weet ons hoeveel ons baat vind by die aanvaarding van diversiteit in die land. Dit het daartoe gelei dat Moslems – alhoewel ons net 2 persent van die land se bevolking is – van die meeste vryhede geniet vergeleke met ander Moslem-minderhede in ontwikkelde lande. Waar ander Moslem-minderhede, veral in Europa en Amerika, gebuk gaan onder die ergste vorm van Islamofobia, word Suid-Afrikaanse Moslems nie net gerespekteer vir ons uniekheid nie – soos wat elke ander kultuurgroep uniek is in die Reënboognasie – maar ons bydrae word op die hoogste vlak erken.
Dit laat mense ontspan, en as ek die verandering in ons luisteraars moet analiseer, sou ek sê dat dit ’n groot rol gespeel het in die nuwe waardering wat daar is vir Afrikaans. Die opinie is dié week gestaaf toe 64 persent van ons aanlynluisteraars in ’n meningspeiling met my saamgestem het oor die nuwe “gemaklikheid”; 16 persent het ietwat saamgestem; 12 persent het glad nie saamgestem nie, en 8 persent was onseker.
Dit sê vir my dat die Kaapse Moslem-gemeenskap het so te sê kom rustig raak in sy eie vel oor Afrikaans. Dit is nou makliker om te aanvaar dat Afrikaans by ons voorvaders begin het. Baie van ons voorsate was afkomstig van die Maleise Skiereiland waar die Hollanders regeer het en as sulks was hulle reeds vertroud met die Nederlandse taal toe hulle Kaap toe gekom het.
Vir ’n groot deel van ons gemeenskap word dit makliker om te aanvaar en trots te wees – sonder enige skuldgevoelens oor die rol van Afrikaans in die apartheidstryd – oor Afrikaans wat in die kombuis ontstaan het as ’n mengelmoes van die Maleiertaal en Nederlands. Die debat is vir my die beste opgesom deur een van my Bolandse aanbieders, Sedick Crombie, toe hy die volgende gesê het:
Ons hoef nooit verskoning te vra omdat ons Kombuis- of Kaapse Vlakte-Afrikaans praat nie, want dis waar die taal sy ontstaan gehad het in ons gemeenskap. Toe die taal ’n politieke speelbal geword het, was Afrikaans skielik nie aanvaarbaar nie, maar daardie dae is nou verby en ons het net soveel reg tot dié taal.
Mag ons nooit vergeet dat die eerste Afrikaanse manuskrip ’n Quran - die Moslem heilige boek – was nie. So laat niemand vir ons vertel dat ons "suiwer" Afrikaans moet praat nie, want daar is nie so ’n ding nie. Die beste manier om mense stil te maak wat karring oor "suiwer Afrikaans" is om die taal beter as hulle te praat, maar ons hoef nooit skaam te voel oor ons eie unieke vorm van Afrikaans nie, want dit is wie ons is en ons is trots daarop.
Kommentaar is welkom. Stuur ’n brief aan webvoet@litnet.co.za vir publikasie op SêNet.