Onlangs skop Jan Rap die jaar oudergewoonte af met sy geweeklaag oor Afrikaans. (Afrikaans het verdwyn, 2 Januarie).
Opgesom maak Jan drie punte: Eerstens sê hy dat Afrikaans verdwyn het vanaf of uit die meeste vakansie-oorde en wildsplase, inligtingsbrosjures, die kleinhandelwêreld, winkelsentrums, vlooimarkte, die werksomgewing en die sakewêreld, om maar net ’n paar van sy voorbeelde aan te haal.
Tweedens beweer hy dat Afrikaans op sommige plekke verdwyn ten spyte daarvan dat … “die oorgrote meerderheid van die klandisie Afrikaanssprekend is”.
Derdens blameer Jan dié toedrag van sake geheel en al op die Afrikaanssprekendes. Hy skryf: “En wie moet die skuld kry vir hierdie agteruitgang? Definitief nie die Engelse nie, of die regering of die noodlot nie. Dit is ons eie skuld; ons het gaan lê en soos die ou oerwoudgesegde lui – as jy lê is dit makliker om op getrap te word.”
Wat sy eerste punt betref is Jan natuurlik reg. Afrikaans het sy dominante posisie afgestaan die dag toe Afrikanerheerskappy beëindig is. Dit was tog net logies dat Afrikaans van sy onregmatige politieke mag gestroop sou word.
Jan is egter totaal die kluts kwyt oor die redes vir die afskaling van Afrikaans. Dis heel eenvoudig, soos James Carville in 1992 gedurende Bill Clinton se veldtog gesê het: “It's the economy."
Beide Jan se bewerings dat die oorgrote meerderheid klandisie Afrikaanssprekend is (of ten minste dan wit mense is), en dat Afrikaanssprekendes “gaan lê” het, is nonsens.
Wat is die harde ekonomiese feite wat bepaal watter taal voorkeur sou kry op verpakkings, brosjures, by winkelsentrums, ens? Natuurlik is dit dié taal wat die grootste reikwydte het en waarmee op die mees ekonomiese manier met die verbruiker gekommunikeer kan word. En vir Jan het ek slegte nuus: Die Afrikaanssprekendes is lankal nie meer die grootste klandisie in die RSA nie. Nie eens die totale wit bevolking regverdig spesiale behandeling nie. Engels is dus die dominante besigheidstaal.
Reeds in 2016 was die swart middelklas in SA by die 6 miljoen mense, meer as 2 miljoen swart middelklassers het tersiêre kwalifikasies gehad, 67% het reeds in 2015 die internet gebruik en 97% het selfone besit. Vanaf 2004 tot 2016 het die swart middelklas se motoreienaarskap met meer as 2 miljoen toegeneem, terwyl 79 % van hulle DStv gekyk het.
Intussen het die wit middelklas van 2004 tot 2016 van 2.8 miljoen tot 2.6 miljoen verminder. En onthou, helfte hiervan is nie Afrikaanssprekend nie.
In 2016 was daar 2.3 miljoen swart huishoudings wat meer as R5 000 per maand as verbruikers bestee het, terwyl daar 1.3 miljoen soortgelyke wit huishoudings was. (Bruin en Indiër huishoudings is nie eers hier ingesluit nie. Dit verhoog die Engelssprekende komponent nog verder).
Uit die bogenoemde is dit glashelder: Die ekonomie bepaal die dominante besigheidstaal, en nie taalsprekers wat “gaan lê” nie.
Vervaardigers en verskaffers en diensleweraars wil hul produk op die goedkoopste manier op die rak kry met die grootste moontlike trefwydte, en ek is jammer om dit vir Jan te sê, maar dit gaan nooit weer oor die algemeen in Afrikaans wees nie. Slegs eng Afrikaanse nisbesighede sal nog in Afrikaans besigheid doen.
So, Jan, hou op met jou “dis ons skuld” storie. Dis nie ons skuld nie, dis die ekonomie se skuld. Punt.


Kommentaar
Volgens die 2011 sensus was daar 6.8 miljoen Afrikaanssprekendes, 4.9 miljoen Engelssprekendes, 8.1 miljoen IsiXhosa-sprekers, 11.6 miljoen IsiZulu-4.6 miljoen Isipedi- en 4 miljoen Setswana-sprekers.
Afrikaans het dus die derde meeste sprekers. Waarom neem die handel dit nie in ag nie? Gee Afrikaanssprekendes te maklik in wanneer dit by gebruik van Afrikaans kom?
Ek stem heelhartig saam met jou. Wat my grensloos de moer in maak is dat indien daar een persoon in 'n oorwegend Afrikaanse groep is wat Ingels is word daar Ingels gepraat. Wat gebeur as daar een Afrikaans sprekende persoon tussen 'n klomp Ingelse is, voel hulle vir jou vet mooi nokkol, en praat net Ingels. Ons Afrikaanssprekendes word geminag, verguis en ignoreer. Ons laat dit in elk geval ook toe. Ek is al aangevat oor Afrikaans. Ek vra dan die persoon hoeveel tale kan hy/sy praat, gewoonlik is dit net Ingels.
Beste Reusedwerg,
Jy gee mos self die oplossing vir wat jou so de moer in maak. Daar is niemand so eentalig as 'n Engelsman nie. Daar is natuurlik 'n rede voor: daar is amper niemand op deeske aardbol wat nie Engels verstaan en kan praat nie. Hy word dus nie gedwing om 'n ander taal aan te leer nie. Dis die taal waarmee ons internasionaal kommunikeer. Dis nie 'n kwessie van minagting teenoor Afrikaanssprekendes nie. Hoe verwag jy nou dat 'n klomp Engelse bymekaar ewe skielik Afrikaans moet praat as hulle almal net Engels ken? Met Afrikaanssprekendes is dit anders; ek glo nie daar is een wat nie ten minste Engels verstaan nie.
Groete,
Angus
Beste Boot,
Wat die sensus nie vir jou sê nie, is hoeveel van die 40 miljoen mense Engels verstaan en hoeveel Afrikaans verstaan. Sê nou maar jy is die vervaardiger van 'n produk en jy mag net een taal gebruik op die etiket, watter taal sal jy kies? Afrikaans of Engels?
Groete,
Angus
Beste Angus
En wie skryf vir die vervaardiger voor dat hy net een taal mag gebruik? Die feit dat daar 6.8 miljoen Afrikaanssprekendes is beteken mos nie dat daar net 6.8 miljoen mense is wat Afrikaans verstaan nie.
By die 6.8 miljoen kan ek al een byvoeg en dit is jy. Jy sal verbaas wees hoeveel swart mense Afrikaans verstaan en kan praat. Daar is net een rede waarvoor Afrikaans verdwyn van die goed wat Jan Rap gelys het.
Afrikaans en Afrikaanse onderwysinrigtings sal vir ewig gekoppel word aan 'n Apartheid-verlede en so 'n verbintenis is mos skadelik vir nasiebou. Kyk maar hoe onderrig in Afrikaans gelykgestel word met rassisme.
Uit 'n vervaardigersoogpunt uit sal 'n gebruik van 'n taal wat byval vind by die regering van die dag gunstiger ontvang word as die taal van die “verdrukker”.
Dit bly maar op talle gebiede 'n geval van: “Wiens brood men eet, diens woord men spreekt.”
Lekker dag
Beste FC,
Niemand is so blind soos hy wat nie wil sien nie, of kan jy nie lees nie? My hele betoog hierbo gaan oor net een ding en dit is dat die ekonomie vir die vervaardiger voorskryf watter taal hy moet gebruik, en in ons geval is dit Engels. Engels is by verre die taal wat deur die meeste mense verstaan word in SA en jy wéét dit.
Weg is die dae wat Afrikaans om een of ander patriotiese rede op verpakkings, ens verskyn het. En hoekom moet van swart mense verwag word om in Afrikaans in die handel bedien te word as hulle Engels goed verstaan? Om Afrikaners ter wille te wees?
Jy verstaan duidelik nie hoe die handel werk nie. Die vervaardiger wil sy insetkoste so laag as moontlik hou en meertaligheid op verpakkings, advertensies, brosjures, ens kos geld. Verstaan jy dit nie?
Ek kan jou verseker die handel voel vere vir Afrikaans se apartheidsverlede en nasiebou. Al wat die handelaar aan die einde van sy dag doen, is om die kasregister oop te maak en sy wins te bereken. Dis AL waaroor dit gaan. Ek weet, want ek het dit self beleef onlangs toe ek betrokke was by 'n jong (Afrikaanse) entrepreneur wat 'n suksesvolle besigheid staan gemaak het. Hy het geen sentiment oor taal of politiek nie, net sentiment oor een ding: hoeveel klante besoek hom en hoeveel geld is in die kasregister.
Dis hoe dit werk in besigheid.
Beste Dirk Rigter
Dankie vir jou lesing, Bedryfsekonomie was een van my hoofvakke en ek sal beslis jou insig omtrent die ekonomie in ag neem. Verbruikersgedrag is beslis nie 'n eenrigtingstraat nie en daar is 'n wisselwerking tussen verbruikers en vervaardigers.
Waarom word Engels gebruik op verpakkings? Die rede is dat Afrikaans en ander moedertale doodgedruk word in ons onderwysinrigtings. Indien die 11.6 miljoen IsiZulu-sprekers sou aandring om in hul taal aanwysings op verbruikersprodukte te kry, sal vervaardigers gou hul beleid wysig.
Kyk maar na Ricoffy. Jy sal drie tale daarop kry. Dit is waar dat Engels vanweë sy imperialistiese geskiedenis 'n handelstaal is, maar dit is maar derde op die lys van tale wat die meeste gepraat word.
In Suid-Afrika dryf die ANC die taalbeleid en pas die vervaardigingsbedryf daarby aan en val Afrikaanssprekendes en anderstaliges soos skape in 'n drukgang daarby in.
Beste FC Boot,
Die verbruiker skryf vir die vervaardiger voor watter taal hy moet gebruik. Almal in Suid-Afrika wat kan lees, verstaan Engels. Nie almal verstaan Afrikaans of Zulu of Xhosa nie.
Het jy navorsing gedoen waarom Afrikaans "van die goed wat Jan Rap gelys het"? of raai jy maar dat net dat dit is omdat Afrikaans verbind word met die Apartheidsverlede?
Engelse onderwysinrigtings het maar saam met die Afrikaanse inrigtings verdwyn. Dit het niks met rassisme te make nie; dit was maar die dom beleid van die regering om hulle by die betrokke universiteite in te lyf.
Beste Angus
Jy yl seker wanneer jy skryf:"Engelse onderwysinrigtings het maar saam met die Afrikaanse inrigtings verdwyn". Afrikaanse onderwysingrigtings, skole,kolleges, Universiteite, verengels teen 'n verbysterende spoed.