Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 8

  • 1

Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.

Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.

Lees nog inskrywings hier.


Besoek aan Brussel

Geskryf in Tervuren op Donderdag 16 Maart 2017

Ná ons skoolbesoek in Maasmechelen gaan ek, dik verkoue, vir drie daggies na Brussel. Annari sou saamgegaan het, maar is net so verkoue en besluit om eerder te gaan rus en haar stem terug te kry voor ons volgende optrede, in Lokeren.

In Brussel kom ek aan voor die deur van Dorothee en Naz, twee meestersgraadstudente wat die dakkamer in hul woonstel uitverhuur aan reisigers soos ek. Ek klop aan die deur en die eienaar van die gebou, ’n lang, uitgerekte man met prominente vertikale grys plooie langs sy mond, maak oop. Hy is dadelik hoogs geaffronteerd met die feit dat ek hom nie in Frans aanspreek nie en slaan summier die deur in my gesig toe.

En ek dog – sjoe. Ja-nee, ek was gewaarsku (deur sommige Vlaminge!) oor die verskil tussen Franstaliges en Nederlandstaliges. Miskien beskou laasgenoemde my bloot as een van hulle, en die Franse nié. Maar genugtig – ek is darem glad nie so grootgemaak om kwaad te wees vir enigiemand wat nie my moedertaal met my kan praat nie.

Gestrand op die sypaadjie, drentel ek na die naaste kroeg vir ’n lang koue Belgiese bier, en meer belangrik, wi-fi sodat ek vir Dorothee ’n boodskap kan stuur. Sy is heel verskonend en kom in die pad afgestap om my in die kroeg te kom haal en te neem na veiligheid, verby die gebou-eienaar se voordeur. Ons raak dadelik lekker aan die gesels en sy vertel hoe sy en haar woonstelmaat mekaar ontmoet het by die skool waar hulle entrepreneurkunde studeer. Dorothee is van Oostenryk en Naz is van Turkye – dis vir my pragtig hoe hierdie twee beste vriendinne land en sand (tot 3-uur daardie nag!) gesels in beide se tweede taal: Engels. En ek klets natuurlik saam in Engels, aangesien my Duits en Turks redelik baie aan die verbeelding oorlaat.

Ek het geen probleem daarmee om oor te slaan na ’n ander taal ten einde myself verstaanbaar te maak nie. Ek voel selde asof my “reg” of “plig” om my moedertaal af te dwing op enigiemand anders, my taal hoegenaamd tot voordeel kan wees. Ek stel persoonlike kontak en wedersydse aanvaarding tussen mense baie hoër op prys: nadat ek, Dorothee en Naz mekaar leer ken het in Engels, is die natuurlike uitvloeisel daarvan dat ons tog ook ’n belangstelling sal ontwikkel vir mekaar se kulture en tale.

En so gebeur dit toe ook: oor die volgende drie dae leer ek baie oor Dorothee se land en tuisdorp Wenen, terwyl ek en Naz verstom kyk na haar foto’s van gemaskerde balle in kastele waar derduisende Oostenrykers trots saamwals op dit waarop hulle miskien die trotsste is van alles: die musiek van al hul wêreldberoemde komponiste.

Die volgende dag is dit Naz wat aanbied om my op die bus te neem tot in die middelpunt van Brussel, omdat sy op pad is na ’n inkopiesentrum om marknavorsing te gaan doen vir ’n besigheidsidee wat sy ontwikkel as deel van haar meestersgraad. Op die bus vertel sy vir my van haar interessante gewaarwordinge toe sy as Turkse meisie die eerste keer in Europa kom woon het: Sy het grootgeword met ’n idee wat in haar kop ingeprent was dat Europa en Europeërs eenvoudig verhewe is bo alle ander lande en volke. Sy erken aan my dat sy daardie propaganda nooit bevraagteken het, totdat sy self in Europa kom woon het, en begin sien het dat, selfs met al die ongelooflike dinge wat Europa bereik en opgebou het, hulle hoegenaamd nie noodwendig “beter opgevoed”, “slimmer”, “belangriker” of “verhewe” is nie! Ons lag oor hoe styf sekere Europeërs kan wees in vergelyking met die meeste Turke; oor hoe menslikheid en meegevoel dikwels aan die agterste speen moet suig in Europa, sodat dinge soos produktiwiteit, vooruitgang en rykdom voorrang kan geniet.

Terwyl ek daardie middag langtand eet aan ’n bleek R300-hamburger, dink ek aan hoe ek, net soos Naz, al hierdie Eurosentrisme onvoorwaardelik geglo het deur die grootste deel van my lewe. Ek dink aan al die wonderlike dinge wat Afrika en Afrikaners is, wat heeltemal anders is as Europa en Europeërs. En ek dank my sterre dat ek ’n Afrikaner is – dat al die probleme van my land en my volk se geskiedenis my geleer het om meer aanvaardend te wees teenoor dié wat anders is as ek.

En ek hoop dat Europa dit ook sal leer: dat ’n volk en ’n taal se voortbestaan nie afhang van eksklusiwiteit of segregasie nie. Nee, want dit is juis in omgang met ander tale en kulture wat ek glo dat ’n volk en taal kan uitstyg in menslikheid en aanvaarding – aangevuur deur ’n rustige, onbedreigde trots in ons eie selfwaarde, sonder om dit ooit te wil bedryf ten koste van ’n ander se ewe belangrike volk en taal.

DuPreez op De Grote Markt in Brussel

Soveel toeriste staan tou vir die beroemde Belgiese “frite”!

Te heerlik sit Annari en DuPreez en blog op ‘n trein tussen Ghent en Brussel.

  • 1

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Du Preez, jy sal soomloos in Wim de Villiers se voetspore kan volg op pad na 'n globalistiese eenwêreldorde-utopie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top