Akteurs: Faniswa Yisa, Jenny Reznek, Dann-Jacques Mouton en Mandisi Sindo
Multimedia: Sanjin Muftic
Die storie is onmiddellik aangrypend, dog sodra jy jouself in die aksie op die verhoog wil inleef, word jy ietwat ontnugter. Die akteurs herinner jou gereeld daaraan dat jy in ’n teater na ’n toneelstuk kyk wat handel oor baie werklike kwessies wat ons almal se lewens beïnvloed. Ons is elkeen so vasgevang in ons eie gerieflike wêreld dat dit maklik is om dringende kwessies net eenvoudig te ignoreer.
Dit was verfrissend om ’n slag teater te kyk wat werklik op ’n breëspektrum-gehoor gemik is. “Africa’s problem is Africa” is ’n stelling wat een van die karakters in Autopsy maak en hierdie aanhaling spreek van inhoud wat relevant en van toepassing op alle Suid-Afrikaners en selfs mense van elders in Afrika is. ’n Voorbeeld van ’n dringende kwessie wat die produksie aanspreek, is korrupsie, ’n tema wat al vroeg in die aksie bekendgestel word.
Sanjin Muftic is verantwoordelik vir die multimedia-elemente wat baie suksesvol bydra tot die produksie. Die gebruik van die stel was bevredigend en die aanvanklike netheid en kliniese gevoel van die stel disintegreer geleidelik soos wat sand en olie daaroor gestrooi word. Op dieselfde manier word die skynbaar eenvoudige nadoodse ondersoek wat dr Charlotte Masinga, Faniswa Yisa se karakter, moet instel – ’n baie komplekse en lewensgevaarlike ondernemingsreis. Op hierdie reis ontmoet sy baie interessante karakters wat deur Jenny Reznek, Dann-Jacques Mouton en Mandisi Sindo vertolk word.
Yisa se karakter behoort as inspirasie vir ons ontmoedigde Suid-Afrikaners te dien – sy verteenwoordig daardie mense wat altyd uit hulle pad uit sal gaan vir reg en geregtigheid om te seëvier. Die werklikheid van Autopsy is dat die bose altyd sal bestaan, maar terselfdertyd sal die goeie ook altyd teenwoordig wees, en daaraan moet ons vashou.
Deurentyd is daar ’n onderliggende gru-element teenwoordig wat maak dat hierdie toneel nie altyd geskik is vir die sensitiewe kyker nie, soos wanneer daar ’n mop vol bloed en later ’n mop vol olie heel onverwags uit ’n emmer gehaal word of wanneer die kadawer oopgesny en ondersoek word.
Wat toneelspel aanbetref, is Jenny Reznek se karakterisering en fisikaliteit soos gewoonlik verstommend. Faniswa Yisa het egter gesukkel om met haar spel haar eie skoene vol te staan. In die regienotas word daar genoem dat Yisa graag ’n rol sou wou vertolk waartydens sy in hoë hakke op die verhoog kon verskyn sonder om met modder besmeer te word. Dit is ongelukkig waar haar spel ophou – in haar ongemaklike hoëhakskoene. Mouton en Sindo speel baie oortuigende ondersteunende rolle.
Gelukkig bly die inhoud van hierdie toneelstuk nie slegs by hoëhakskoene óf nadoodse ondersoeke nie, maar Autopsy is werklik ’n toneelstuk wat Suid-Afrikaners behoort te sien en hopelik op sal reageer. Teater wat op so ’n manier kommentaar lewer op kwessies wat ons land dringend moet aanspreek, is besonder betekenisvol. Daar is oorgenoeg kwessies in ons onmiddellike samelewing wat dringend aangespreek moet word, en teater as medium is ideaal om hiervoor te gebruik, voordat daar weer vermaaksugtige teater gemaak word.
“You are always involved” is ’n aanhaling van een van die karakters in Autopsy. Hierdie stelling laat ’n mens nadink oor hoe naby sekere kwessies eintlik aan jou lê. Dit is jou keuse of jy betrokke gaan raak al dan nie.
Autopsy het by die Magnetteater in Observatory gespeel tot 1 April 2012.

