Afrika-les
As ek die groen kolle op die mat sit en tel,
vertel Plaaspriester Melité se vrou
daar was ’n tyd, lank voor myne, dat
Unkunukulu *, die wolke, die lug
en die gevaarlike gruisgat
styf saamgestamp was.
Unkunukulu.
Gestoomde breekmielie vas.
Mens kon aan die sterre raak.
Vanmôre ruik ek die wolke.
Dié wat suurmelk-skifsels maak en
ook dié wat biesmelk-blou
om die klippe vou.
Unkunukulu.
In die aand het die wilde honde
al in die rondte om dié kleibol gekef:
nke, nke, nke, garu**, nke .
Die lug wat laag hang: die stat se mense
het oopmond kiestevol gevang, gekou,
taai vingers aan wit wolke gesmeer
en sonder dankie-sê gevra vir meer.
Nke, nke, nke, garu, nke...
Hulle het dikmelk-wolke losgeskeur
en die lepel laat klingel teen die kookpot.
Sonder dankie-sê het hulle gevat.
Nke, nke, nke, garu, nke .
Nou meet die priester se vrou die son met haar oog.
Sy vertel: “Een so ’n middag
smyt die vrou wat die kleintjies bad
’n skottelvol waswater
in die gesig van die lug.”
Nke, nke, nke, garu, nke .
Toe krimp die wolke terug.
Vanaand is die lug weer styselstyf.
Nke, nke, nke, garu, nke.
* Unkunukulu : die eerste man
** Garu : hond
![]() |



