"Afrika-les" by Karlien van der Merwe

  • 0

Afrika-les

As ek die groen kolle op die mat sit en tel,
vertel Plaaspriester Melité se vrou

daar was ’n tyd, lank voor myne, dat
Unkunukulu *, die wolke, die lug
en die gevaarlike gruisgat
styf saamgestamp was.

Unkunukulu.

Gestoomde breekmielie vas.
Mens kon aan die sterre raak.
Vanmôre ruik ek die wolke.
Dié wat suurmelk-skifsels maak en
ook dié wat biesmelk-blou
om die klippe vou.

Unkunukulu.

In die aand het die wilde honde
al in die rondte om dié kleibol gekef:

nke, nke, nke, garu**, nke .

Die lug wat laag hang: die stat se mense
het oopmond kiestevol gevang, gekou,
taai vingers aan wit wolke gesmeer
en sonder dankie-sê gevra vir meer.

Nke, nke, nke, garu, nke...

Hulle het dikmelk-wolke losgeskeur
en die lepel laat klingel teen die kookpot.
Sonder dankie-sê het hulle gevat.

Nke, nke, nke, garu, nke .

Nou meet die priester se vrou die son met haar oog.
Sy vertel: “Een so ’n middag
smyt die vrou wat die kleintjies bad
’n skottelvol waswater
in die gesig van die lug.”

Nke, nke, nke, garu, nke .

Toe krimp die wolke terug.
Vanaand is die lug weer styselstyf.

Nke, nke, nke, garu, nke.

* Unkunukulu : die eerste man
** Garu : hond

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top