Aflossing

  • 0

Foto: Pexel.com

Die motor het sy duur petrol gedrink en ek dink ek kan gou ’n koffie in die geriefswinkel gaan drink. Die Cafe le Ablution soos Stefan dit altyd genoem het. Daar kom soms van sy snaaksighede by my op.

Sal ek ’n tuisgebakte pastei koop? Ek wik en ... as jy een van daardie pasteie in het, moet jy juis nie weeg nie. ’n Vrou draai voor die toonbank om; sy lyk nes Andrea. Laat ek anderpad kyk, ek is te haastig. Ongelukkig het Andrea nog altyd ’n valkoog gehad. Skugter was sy nooit: “My magtig Sonette, Is dit jy? Wat maak jy hier?” roep sy oor die ganse verversingsarea uit. Nou ken almal my naam.

“Gooi petrol in; tap water af, soos ’n mens maar doen,” antwoord ek.

“Kom gee my ’n drukkie. Kom sit.” Toe sê sy die woorde wat ek gevrees het: “Ek wil alles hoor.”

Laat ek die eerste hou inkry. “Wat het van Gideon geword? Julle is toe mos getroud.”

“Hy sal nou-nou hier wees. Hy is daar agter besig met jy weet wat. Dit vat hom deesdae so lank. Hy sal nie glo wie sit hier by my nie.”

Moet tog nie die woord oumansklier gebruik nie. Dit laat my altyd dink seks, beteken knyp jou oë toe en byt op jou tande, dink ek.

“Jy lyk so goed,” sê Andrea.

O wee, die tipiese kommentaar geleen by die sosiale media, dink ek. Nog net die “so pragtig soos altyd” soos wat die FB-vriendinne by foto’s plaas. Laat ’n mens soms dink hulle het katarakte. Ek gee nie dieselfde kompliment aan haar nie. Sy was mooi toe sy jonk was. Sy lyk nou soos ’n kandidaat vir ’n Hannon makeover.  

“Ag wat, ons vertrou maar op ’n roompie wat die oogvelle van die wange af weghou,” sê ek glimlaggend. Nou moet ons twee nog die foto’s van kinders en kleinkinders op die selfone vir mekaar wys, dan is die ritueel verby en kan ek ry?

Hier kom ’n man. Iets lyk bekend. Gideon? In ’n kortbroek en Crocs. Nog nie die bergskilpad op die maag nie, maar die smal heupe en die ferm boude, styf in sy broek, wat gevra het, voel my? Weg. Sy hare is aan’t retireer.

“Gideon, kyk wie’s hier!” roep Andrea luid. Ons word nou die fokus van die eetplek. Hier word ’n herontmoeting voor ’n gehoor afgespeel.   

“My wêreld Sonette, wat ’n verrassing om jou hier in ons Swartland te sien!” Hy het my altyd geterg: “Sonet-tei, wat maak daardie ‘te’ agteraan jou naam? Dis nes ’n leë sleepwa aan ’n bakkie.” Dit is nie ek wat mal oor hom was nie. Dit was my suster, Selma, maar ek was darem ook nie blind nie.

“Vertel. Jy eerste. Waarheen is jy op pad?” vra Andrea.

“Ek woon nou in die Overberg en is op pad hier deur die Swartland; Calvinia se kant toe. My ma het in my ouma se huis gaan bly en nou is sy oorlede en ek moet gaan besluit wat om met die goed en die huis te maak. Die plek is oorvol. Die prokureur het vir my die voorraadopname gestuur. Koperbeddens, tafels, botterkarring, skoenlees, koskaste, jonkmanskas, riempiesbank, agt eetkamerstoele, ’n versameling outydse blikke, twee koffiemeulens ... ’n santekraam. Ek sal ’n paar klein goedjies vir my uithou, die res moet gaan.”

“En jou suster Selma? Wil sy nie ook iets hê om julle ma mee te onthou nie?” vra Andrea.

Ek moet Selma uit die gesprek hou, as ek kan. “Nee wat, Selma het nie nut vir ou goed nie.”

“Sy was ’n mooi meisie. Sulke helder oë veral. Het jy ’n foto?” vra Andrea.

Ek blaai deur my fotogalery. Dis die jongste een wat ek van haar het. Ek wys.

“Sjoe, sy is gelukkig! Een van daardie gesigte wat nie sy ouderdom wys nie,” sê Andrea.  Ja, dink ek, sy sal nooit ouer word nie.

“Ek was nogal erg oor haar,” sê Gideon. “Ek onthou ...”

“Jy was agter verskeie meisies aan,” tjip Andrea in. “Sommer gelyktydig ook, soos ek en Selma.”

“Jy moet vir haar groete sê as jy haar weer sien. Sê vir haar ek onthou die ou dae. Baie.” Sou Gideon met heimwee terugdink aan Selma?

“Ek sal, Gideon.” Dit mag dalk nie so gou wees nie.

Nou babbel Andrea sommer oor enigiets anders. Ja-nee, ek kan sien sy wil keer dat Gideon nie nou kom heimwee kry oor Selma en die ou dae nie. Sy sorg dat ek wéét: Gideon is nou háár man; sy het hom gewen. Sy wy uit oor kinders en kleinkinders. Hulle het drie. Die oudste is ’n seun, Volandré, die ander twee, dogters: Prismé en Dortandrea. Haar ma na wie die jongste vernoem is, se naam was Dorothea en dis darem te veel van ’n mond vol, sê sy.  

Ek is nie baie entoesiasties oor die kinders en kleinkinders se foto’s en geskiedenis nie. Ek vang Gideon se oog. Ek onthou hoe Selma nagte om gehuil het toe hy haar afgesê het. Is hy dalk nóú spyt, nou ná al die tyd? Dit was net ’n onpersoonlike, getikte brief van die landboukollege af. ’n Brief sonder hartjies en soentjies.

Selma en Andrea was toe nog in hulle matriekjaar. Selma het destyds gesê: Andrea vra alewig of Gideon al geskryf het. Sê sy ja, dan vertel Andrea sý het tog twéé briewe gekry. Sê Selma sy wag nog, dan het Andrea reeds een gekry. ‘Dit wys mos hy is nie ernstig oor my nie,’ het Selma by my gekla. Hoe weet jy Andrea lieg nie, het ek gevra.

“Jy laat my baie ver terugdink na ons skooldae en al die sports wat ons gehad het,” sê Gideon. “Ons was so sorgeloos, asof die toekoms vir ons en Suid-Afrika blink en oop voorlê. Nou sit ons kinders oorsee.”

“Ag Gideon, wat is jy vandag weer so neerslagtig?” Andrea streel sy voorarm. “Jy behoort bly te wees ons het Sonette so onverwags raakgeloop.” Sy draai weer na my toe. “Daardie suster van jou, Selma – ons was so jaloers op mekaar en dit oor Gideon. Ek wou haar oë uitkrap en sy myne seker ook.”

Ek glimlag beleefd.  

“Ek wonder partykeer hoe dit sou wees as Selma my nie afgesê het nie?” vra  Gideon.

“Nee,” sê ek, “jy het háár afgesê, nogal met ’n kort, onpersoonlike, getikte brief.”

“Is jy seker? Ek weet nie van ’n afsêbrief nie?”

“Ja, jy het een geskryf, ek het dit gelees.” Ek het die brief, gevlek met Selma se trane, in ’n legger saam met haar foto’s.

“Sy het mý afgesê, ook met ’n getikte brief. Hier is ’n slang in die gras, weet jy iets, Andrea?” vra hy met ’n frons in haar rigting.

Ek wou altyd weet of die brief eg is. “Selma het die brief vir my voorgelees. Die aanhef was: ‘My Allerliefste Selma’ en nie soos gewoonlik ‘My Patatrankie’ nie,” sê ek. “Vir Selma het dit beteken dat jy klaar is met haar, Gideon.” Wat ek nie sê nie, is hoe dit Selma se hart gebreek het; hoe sy vir maande neerslagtig was.

“Ek het nooit so ’n brief vir Selma geskryf nie.”

Daar bly ’n stilte om die tafel. Andrea swig eerste. “Wag, ons moet huis kry. Ek het ’n afspraak by die haarsalon.” Sy maak ’n vae uitnodiging: “Jy moet kom kuier!” Geen adres, geen tyd; dan weet ’n mens mos dit beteken koebaai tot ons mekaar nooit weer sien nie. Gideon bly sit.

“Ag, dit maak tog nie nóú meer saak nie,” sê Andrea verleë. Ek en Gideon sê niks; ons wag op haar. “Oukei, ek bieg. Ek het die twee briewe geskryf. All’s fair. Vra vir Selma sy moet my asseblief vergewe. Ek verwyt myself al jare lank daaroor en sê vir myself dat sy dit buitendien nooit met die ou knorpot sou uitgehou het nie,” en sy sit haar hand om Gideon se nek en druk ’n soen op sy wang: “Nè, my liewe ou Gieddie.”

“Dit was ’n gemene ding om te doen, Andrea. Ek moet jou seker maar vergewe, maar ek is nie so seker dat Selma dit so maklik sal doen nie,” sê Gideon.

Ek staan op om te groet. Gideon gee my ’n drukkie: “Dit was goed om jou te sien. Sê vir Selma ek stuur al my liefde, sal jy?”  

“As ek kon, sou ek beslis vir Selma gesê het, maar sy en haar man is drie jaar gelede tydens ’n inbraak dood. Hulle selfone, beursies en die rekenaar is gesteel. Dit was al. Hulle is vasgebind en met plastieksakke oor hulle koppe getrek, het hulle versmoor.” Ek kry dit al hoe meer reg om daaroor te praat sonder om te begin huil.

 “Ek is seker in daardie oomblikke voordat die lig uit haar oë gegaan het, het sy die Onse Vader gebid en dit sê: Vergeef ons al ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top