
Foto: Canva
AC/DC (for those about to rock)
Daar is hoendervleis op my oortromme
Malcolm Young domineer energiek
met sy ritmekitaar saam met AC/ DC Live binne my CD-speler
Hy gee nuwe betekenis aan die begrip rock- ritme
Shoot to thrill, Who made who, Heatseeker,
Hell’s bells, Whole lotta Rosie, Highway to hell, TNT
My rookgevulde leefvertrek vibreer
Die Yamaha-klankversterker is halfpad oopgedraai
en die Kenwood-luidsprekers is meer as vermoënd
om die weerbarstige klanke te akkommodeer
Angus Young, die ster van AC/DC,
is briljant met sy snydende kitaar op Thunderstruck
My ore is twee sponse oordadig gevul met genoeglikheid
Dié musiek is my lewe
Niekonformerende elektriese-kitaar-gedrewe rock
Ek sit knusgeborge in die kakofoniese ekstase
Daar is ’n soet metaalsmaak in my mond
amper soos ’n wine gum
Die sanger pers sy woorde uit soos ’n gewonde soldaat
terwyl sy skrotum ritmies teen die mikrofoon klap
Dis mos rock!

