ABSA Ketting: Koos Kombuis gesels met Tinus Horn

  • 0

1. Ek is so jammer ek kon nie jou laaste kunsuitstalling sien nie, maar ek is darem 'n fan van jou boeke. As ek kyk na die afbeeldings van jou werk wat jy vir my gemail het, merk ek 'n heerlike speelse opmix van verskillende invloede, meesal Postimpressioniste en selfs Picasso. Is dit vir jou deesdae lekker om te skilder?

Vir my is painting baie fun. Hierdie jaar was 'n deurbraak: vir die eerste keer het ek gedoen wat ek wou, sonder om te wonder wat gaan wie daarvan dink. Sales en goeie reviews is fine, maar die groot kick is om verf op 'n lap te smeer.

2. Is skilder jou loopbaankeuse? Hoe voel jy oor die boeke wat jy geskryf het? Droster was 'n goeie werk, en ek dink nou nog Hemel op Aarde, die grafiese roman wat jy saam met Alastair Findlay (illustreerder) gedoen het, is een van die mees onderskatte werke ooit in Afrikaans.

Nee, ek het nog nooit 'n loopbaan gehad nie. Ek maak net stuff soos die lus my vang, raap en skraap 'n bestaan uit als wat ek kan: TV scripts, portrette, cartoons, illustrasies, whatever. Hoer en sell-out deur en deur. Dit koop tyd vir painting en dis 'n lekker lewe – baie beter as die agt jaar of so as rugbyskrywer voor ek seriously begin prentjies maak het. Selfs in daai tyd het ek geweet ek wil fokof, met 'n spoed, maar my kids was klein en ek kon nie waag nie. Die oomblik toe ek genoeg met freelance verdien het, was ek weg.

Ek het goeie memories van daai boekies. Droster was veronderstel om ’n oefenlopie vir 'n "regte" boek te wees, maar dis elf jaar later, en nou klink 'n novel soos harde werk.

Hemel op Aarde het min of meer saam met Droster ontstaan: out-takes in ’n nuwe baadjie. Maar omdat hy eers 'n jaar later verskyn het, was daar meer tyd om daaraan te skaaf. Ek dink die skryfwerk is baie beter. Maar min mense vat comics ernstig op. Hans Pienaar het destyds 'n cool storie vir De Kat daaroor geskryf, toe sê Irna somebody, wat die redakteur was, oe, nee, dis te lowbrow! Wat dít ook al beteken.

Al twee boeke is nou al doer ver in my verlede. Jeanne Goosen wou hulle onlangs weer by Genugtig uitgee, maar nou's sy tjoepstil. Ek verstaan dit ook. Sy't dit raak opgesom: dis nie almal se emmer kak nie.

3. Jy is een van die mees onvoorspelbare mense wat ek ken. Toe ek jou die eerste keer ontmoet het, het ek gedink jy is permanent depressed. Later het jy beweer dat jy in 'n ongelukkige huwelik was. Toe ek jou weer sien na jou egskeiding, was jy spekvet en blakend en betrokke in 'n nuwe verhouding. Toe het jy weer deur 'n dip gegaan, want toe ek jou weer sien, was jy net een groot frons en ’n bol lang hare. En toe, ewe skielik, doen jy 'n suksesvolle uitstalling en jy is weer on top of the world. Waaraan skryf jy jou wisselende buie toe? Is jy bipolêr, of is dit maar soos die lewe sy klappe uitdeel?

Moet jy daai "spekvet"-gedeelte invryf? Bipolar is ek wel (sê die dudes wat weet) maar ek moet die frons en die bol hare verduidelik: ek was baie amper dood (breinvliesontsteking) en die herstel was ongelooflik lank en taai. Nou's ek uiteindelik weer waar ek hoort: 'n cheerful pessimis. Die blues is min en dun gesaai. Hoe meer ek skryf/paint/whatever, hoe gelukkiger is ek. En 2006 is verreweg die produktiefste jaar van my lewe: 30+ paintings; 'n script vir ’n kort animasiefliek wat Wits gemaak het; 40 scripts vir Vis & Tjips (’n animasiereeks), en en en. As jy wonder, ja, ek's spekvetter as ooit.

4. Ek skuld jou eintlik 'n dankie. Toe ek weer begin skryf het na jare in die musiekbedryf, was dit jy wat vir my aangeraai het om Etienne Bloemhof as editor te gebruik. Dit het gewerk. Maar ek het nou weer jou advies nodig: my eie kunsuitstalling open Maandagaand. Ek weet ek gaan óf geïgnoreer word óf slegte kritiek kry van die media. Oor verkope wil ek nie eers dink nie. Is daar iets wat jy vir my kan aanraai as "jong kunstenaar"?

Of jy paint of skryf of musiek maak, die reëls bly dieselfde: doen wat jy lus het, so goed soos jy kan. Oor die ander stuff het jy geen beheer nie, so why bother? Paint dat die spoeg spat. Koop spanne drank vir die opening; dis die beste bemarking wat daar is. Dis jammer mens kan nie ander dwelmmiddels uitdeel nie. Die media? Fok die media.

5. Dink jy daar is 'n toekoms in Afrikaans vir die "graphic novel"? Oorsee is dit al amper 'n ou styl, maar in Afrikaans gebeur feitlik niks. Ons het nie eers ons eie Asterix nie! Wat dink jy daarvan?

Nee wat. Die mark is te klein, die talent is te min. 'n Paar mense kan skrams teken, maar amper niemand kan skryf nie. Conrad Botes en Joe Dog doen goeie (en funny) stuff, al is hulle effe oud vir daai standerd-sewe-rebelsheid. Okay, so jy haat jou pa. Now move on.

Die res (Afrikaans en Engels) is trash; kakker as die musiek op RSG.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top