Abraham H de Vries se jongste kortverhaalbundel Verbeel jou dis somer verwoord die sjarme van die Karoo

  • 0

Skrywer: Abraham H de Vries
Titel: Verbeel jou dis somer
Uitgewer: Human & Rousseau, 2009
Bladsye: 111 bladsye
ISBN: 978-0-7981-4921-1

Klik hier om Verbeel jou dis somer op Kalahari.net te bestel.

Abraham de Vries se jongste en twintigste (!) kortverhaalbundel is ’n balanseertruuk tussen verval en herbou, tussen nostalgie en ontnugtering, tussen verhaal en werklikheid. Die kombinasie van die titel (Verbeel jou dis somer) en die motto (“In de herfst krijgt de twijfel gelijk” van Simon Carmiggelt) plaas die verhale uit die staanspoor binne hierdie spanningsveld.

Die meeste verhale in hierdie bundel van kontraste staan in die metaforiese teken van herfs as seisoen van verlies en verandering (oorgang tussen somer en winter) – ’n seisoen wanneer twyfel (uit die aard van sy tussenstaat) volgens Carmiggelt hoogty vier. Die huidige situasie in Suid-Afrika, gekenmerk deur onder andere geweld, misdaad en onsekerheid, word in hierdie bundel as ’n tipe herfs beleef. Maar die bundel is nie net swaarmoedig nie, want die opdrag van die titel voorsien ook die moontlikheid van ’n uitkoms: met kreatiewe verbeelding kan daar teruggeleef word na die metaforiese somer wat so pas verby is of wat weer sal kom.

Tog gaan die meeste verhale oor verlies, oor dinge wat verby is, oor verval in ’n verskeidenheid gedaantes. Sommige stories het dit oor die verval op plase, ander oor die agteruitgang van klein dorpies, nog ander oor professionele verlies of persoonlike verlies, en ’n verhaal soos “Storm” oor die verval in ’n verhouding tussen twee mense.

Dan is daar ook dié verhale wat vertel oor veranderende tye wat sekere mense en hul funksies oorbodig maak – soos “Ode aan ’n ou man wie se strate oor hom treur” wat oor ou Gert Goliat gaan, die toegewyde straatveër met sy eksentrieke skoonmaak-kontrepsie wat ingehaal is deur “die nuwe mense van die Nuwe Tyd”, ’n gemoderniseerde snelbewegende era wat hom en sy outydse aanslag, ten spyte van jare lange toewyding, nie meer kan akkommodeer nie.

In die verhaal “Woede” word ’n paar van hierdie elemente vaardig gekombineer. Dit speel af in die Karoo op die plaas Vadersgawe (metafoor van die Afrikaner se verlede) wat vier geslagte lank al die strafste winde en die hardste stortreëns weerstaan het. Maar die waenhuis vlak langs die ou huis het intussen begin verval tot byna ’n ruïne. Wanneer die eienaar een oggend vroeg in die stil hoofstraat van ’n kwynende Karoodorpie ry en die hele dorp nog “vol hoeke en stilte in die Karooveld se yskoue skaduwees” lê, besef hy: “iewers in my is daar iets wat weier om saam met hierdie land in sy moer te gaan.” Hy voeg dan ook die daad by die woord en begin kort daarna met die metaforiese herstelwerk aan die vervalle waenhuis op sy plaas.

Hierdie behoefte aan herstel kom ook in die tweede vertellaag van die verhaal voor: in ’n brief van die verteller aan iemand (waarskynlik ’n vriend) in die buiteland word die verhaal vertel van Stefaans Cloete. Stefaans is ’n man wat weens regstellende aksie met ’n pakket van sy loopbaan moes afstand doen. Hy het met sy uitkering ’n vervalle huis met ’n statige geskiedenis gekoop en is besig om dit stukkie vir stukkie in ere te herstel. Hierdie dubbellaag-verhaal van De Vries tree met Rachelle Greeff se uitstekende verhaal “Palazzo van die Laaste Dans” in gesprek, want ook Greeff se verhaal metaforiseer ’n ou gebou met sy kleurryke geskiedenis en huidige verval, die geskiedenis van die land, en eindig in ’n misdaad-gedrewe sinnelose moord op ’n onskuldige hardwerkende man.

De Vries is een van die Afrikaanse skrywers wat by uitstek die atmosfeer en sjarme van die Karoo kan verwoord, en sy dorpe en hul eksentrieke mense met veel deernis kan beskryf. In Verbeel jou dis somer bewys hy nogmaals sy vermoë om hierdie milieu só gedistilleerd te verwoord dat sy lesers nie kan help om die stof tussen hul tande te proe en hul oë op ’n ver en wye geesteslandskap te rig nie; maar hier nie sonder De Vries se aandag vir die realiteit van geweld en misdaad nie. Die leser word selfs gemaan om nie mislei te word deur die rusgewende gestroopte skoonheid van die Karoo nie: “wees versigtig ... verlede maand is ’n ou man een nag hier vermoor” (“Woede”). Ook “Leë hande” vertel van twee slagoffers van geweld: die een ’n blanke polisieman, die ander ’n swart polisieman. Aan die einde van die verhaal staan ’n nota wat erkenning daaraan gee dat die verhaalgegewe ’n verwerking is van twee outentieke koerantberigte, waardeur verhaal en werklikheid ineengevleg word.

Verval en opbou, nostalgie en geweld, is twee van die mees prominente kontraspare wat die spanningsveld in hierdie bundel markeer. Hierby sluit ook die kragmeting tussen fiksie en werklikheid of tussen werklikheid en geskiedenis aan. So sê die verteller in “’n Gesiene boer vertel” dat die oorwinnaars meestal bepaal wat van die geskiedenis onthou sal word: “Ek beleef nou self hoe die geskiedenis party gebeurtenisse onthou en ander laat verdwyn asof daar ’n sinkgat is in die tyd.”

Die grense (maar ook verbande) tussen geskiedenis en verhaal word al in die eerste storie betrek, wanneer die verteller in ’n brief aan ’n buitelandse vriend noem dat hy die begin van ’n beloofde verhaal stuur, maar dat hy “die geskiedenis rondom die storie” in briewe sal belig. Die begin van die verhaal verskyn dan ook, maar daar word genoem dat dit onseker is hoe die res van die verhaal gaan ontplooi, en die ontplooiing gebeur dan ook nie. Die res van die verhaal bestaan uit die reeks briewe aan die vriend oor onder andere die wetteloosheid en geweld in Suid-Afrika en oor “politieke leiers se minagting van die onafhanklike regspleging, die inmekaarstort van infrastrukture”, ensovoorts. Hierin wys De Vries hoe die velde van werklikheid en fiksie, van geskiedenis en verhaal, mekaar se gebiede binnedring en hoe die werklikheid deur middel van geskiedenis en oorvertelling deel van ’n vae gebied van “vertelde werklikheid” word (soos Oupie in “Woede”, wie se verhale vir hom dinge is wat hy as werklikheid beleef).

Die reeds genoemde seisoenale (sikliese) in hierdie bundel word ondersteun deur die gelaagdheid van die vertellings, soos waar die verteller ’n verhaal wat iemand anders aan hom vertel het, oorvertel (soms aan ’n aangesproke luisteraar), of waar die vertelling deel is van ’n brief, of in die vorm van ’n brief vertel word.

Dit gaan dus nie net om die stapeling van een vertelling op ’n ander nie, maar ook om genrevermenging. In “Woedend” vertel die verteller byvoorbeeld, soos reeds genoem, sy “eie storie” (as kortverhaal) en die geskiedenis daaragter (as briewe), maar in die briewe word ook die storie van Stefaans Cloete vertel –  plek-plek as ek-verteller – wat op sy beurt weer die stories vertel wat die werkers wat hom help om die huis te restoureer, aan hom vertel: “En hulle het vir my die stories van die hele dorp en sy distrik vertel, so lank terug as wat hulle kon onthou.” Ook hulle stories word plek-plek in die eerste persoon vertel. Dit word ’n gelaagdheid van vertellers, van genres, en boonop ook van fiksie en geskiedenis.

De Vries slaag daarin om hierdie gelaagde vertelstruktuur as die veelstemmigheid van Suid-Afrika uit te beeld. Hy verdien ook ’n pluimpie vir die manier waarop hy die gevaarlike slaggate waarvoor nostalgiese verhale by uitstek kwesbaar is, te vermy, onder andere deur nostalgie en harde werklikheid doelbewus teenoor mekaar te stel. In “Leë Hande” speel hy byvoorbeeld vanaf die eerste sin met hierdie tegniek: “Daar is in Kaapstad ’n mooi eenrigtingstraat wat Buitengracht verbind met Kloofnekweg en die Tuine, waar ons woon.” Soos die agterna-nota verduidelik, is hierdie sin ’n sinspeling op die begin van Alan Paton se Cry, the beloved country: “There is a lovely road that runs from Ixopo into the hills.” Die nostalgiese potensiaal wat deur hierdie intertekstuele spel opgestel word, word doelbewus deur die verhale van die twee vermoorde polisiemanne van Kaapstad nek omgedraai. Boonop word daar nie in die slaggat getrap van blanke slagoffers versus swart misdadigers nie – die slagoffers in hierdie verhaal is onderskeidelik wit en swart, en albei se families ly ewe swaar onder die gevolge van hul verlies.

“Storm” volg dieselfde lyn – die verhaal begin met ’n pragtige beskrywing van ’n Karoo-sonsopkoms: “In die Karoo is daar ’n vreemde, wankele stuk dag tussen daeraad en eerste son. Alles is nog stil, duister, dis nog nie dag nie. Maar dis ook nie meer heeltemal nag nie ... alles om jou is oop, als moet nog gebeur. Dit was só ’n oggend.” Maar ook hierdie mooi dag word deur geweld ontnugter, dié keer geweld met liefdesjaloesie as oorsprong. Soos wat skoonheid en gruwel in hierdie verhaal vermeng, smelt ook werklikheid en verhaal ineen: “Party weet nie meer of dit geskiedenis en of dit storie is nie. Mense wat deurry, het al hier by ons kom vra of dit regtig gebeur het.”

Die spanningspel wat uit die staanspoor af deur titel en motto ingelei is, word in al agt verhale onderhoudend en op verskillende vlakke volgehou en eggo die kompleksiteit en veelstemmigheid van die land en al sy mense – dat almal hul eie verhale en eie weergawes van die geskiedenis en eie wense vir die toekoms het.

Kritiek wat wel op die bundel gelewer kan word, is dat De Vries tog meestal bly vashaak by sy eie mense se verhale en boonop ’n negatiewe kyk op die “nuwe Suid-Afrika”. Maar dan vra mens jouself ook af of dit kwalik te neem is. Vertel elke mens nie meer dít wat hy ken en boonop vanuit die hoek wat hy dit ken nie? Maar De Vries beantwoord eintlik al deels die vraag in “Ons dorp”, waar die spreker as kontreiverhaalskrywer uitgenooi word om ’n toespraak oor sy vak te lewer. In hierdie toespraak kom hy tot die slotsom dat daar nie veel verskil is tussen die verhale van Sweedse vissers en storievertellers van die Klein Karoo nie: “Ons sal trots ’n klein instrument in ’n groot orkes moet wees”: elkeen vertel sy eie klein verhaal op sy eie manier, en elkeen se verhaal is in baie opsigte dieselfde as ’n ander s’n, en almal se verhale saam word die simfonie.

Klink dit miskien of die stiksels van die tegnieke wat De Vries toepas, te sigbaar is en sodoende die soepelheid van die vertelling versteur? Wees gerus: De Vries is ’n meesterverteller en hy weet hoe om ’n verhaal te komponeer, om enduit die snare styf te hou en om sy leser mee te voer in soms sfeervolle dan weer polemiese verhale oor menswees, hier meestal toegepas op die kontemporêre realiteite van ons land.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top