Aandag alle leerders: Wen groot pryse met jou wetenskapfiksie-kortverhaal!

  • 0

Lees verlede jaar se wetenskapfiksie-inskrywings op Kuberklas Kreatief.

 

LitNet Akademies Kuberklas bied aan:
Skryf ’n wetenskapfiksie-kortverhaal en wen!

Al ooit gewonder hoe die wêreld oor 20, 50 of selfs 100 jaar sal lyk? Hier is jou kans om ’n bietjie te bespiegel en boonop groot pryse te wen! LitNet Akademies Kuberklas nooi leerders in gr 10 tot 12 uit om hul verbeelding vrye teuels te gee en ’n Afrikaanse wetenskapfiksie-kortverhaal van 700 tot 1000 woorde te skryf. Hoe lyk jou alternatiewe of futuristiese wêreld? Woon ons op Mars of Planeet X17E59? Is jou beste vriend ’n robot? Is kanker en vigs iets van die verlede? Moontlike temas sluit in – maar is nie beperk nie tot – die volgende:

  • Kloning / genetiese manipulasie
  • Evolusie
  • Voedselproduksie
  • Ruimtevaart
  • Ekologiese rampe / globale verwarming
  • Die internet en sosiale media soos Facebook en Twitter
  • Rekenaarspeletjies of  virtuele realiteit
  • Robotte
  • Mediese epidemies en virusse.

Wat is wetenskapfiksie?

Wetenskapfiksie-skrywers bespiegel graag oor huidige of toekomstige veranderinge in wetenskap en tegnologie en beeld wêrelde uit wat op die een of ander manier (hoe gering ook al) van ons werklikheid verskil.

Hierdie ander wêrelde mag wel vreemd wees, maar die wetenskapfiksie-narratief is noodwendig geanker in die sosiale konteks waaruit dit voortspruit. Hierdie genre word dikwels gebruik om kommentaar te lewer op die probleme en ongeregtighede van 'n bepaalde gemeenskap/samelewing.

Wetenskapfiksie vra: “Wat sou gebeur as ...?”. Soos: Wat sou gebeur as ons op 'n ander planeet kon woon? Wat sou gebeur as 'n globale ekologiese ramp die aarde sou tref? Wat sou gebeur as jy skielik besef jou buurman is 'n robot of buiteruimtelike wese? Wat sou gebeur as ...?

Die beoordelaars is:

   

Koos Kombuis is ’n gewilde sanger, skrywer en wetenskapfiksie-entoesias.

Lauren Beukes is ‘n bekende Suid-Afrikaanse wetenskapfiksie-skrywer en wenner van die Arthur C. Clarke-prys vir wetenskapfiksie.

   
Fanie Viljoen is ’n bekroonde kinder- en jeugverhaalskrywer van, onder andere, die gewilde Nova-wetenskapfiksiereeks. Die derde boek, Nova: Bloedbroers, het onlangs verskyn.

Elzette Steenkamp is LitNet Akademies se produksiebestuurder en ’n kenner op die gebied van Suid-Afrikaanse spekulatiewe fiksie.

Jy kan die volgende pryse wen:

Eerste plek: 

  • R3 000 in jou sak
  • R3 000 vir jou skool
  • 'n iPad 3, 16G met WiFi geborg deur BURO
  • 'n Fanie Viljoen-boekpakkie van LAPA Uitgewers

Tweede plek:

  • R2 000
  • 'n Fanie Viljoen-boekpakkie van LAPA Uitgewers

Derde plek:

  • R1 000
  • 'n Fanie Viljoen-boekpakkie van LAPA Uitgewers

Die boekpryse en iPad is geborg deur:

                                   


Alle inskrywings sal op LitNet Akademies Kuberklas gepubliseer word.

Sluitingsdatum: 28 September 2012

Vir nog inligting oor hierdie kompetisie:

Produksiebestuurder (LitNet Akademies): Elzette Steenkamp
021 886 5169
elzette@litnet.co.za

Illustrasies deur: Aletta Dorfling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top