Aan Raed-na-Gael oor sy skrywe: Ek vind dit oulik

  • 4

Die bewys dat daar 'n God is of nie berus nie op hoeveel en wie Christene of ateïste word nie. Al sou Kobus of jy ewe skielik ateïs word, beteken dat ek dit kan gebruik om te bewys dat daar nie 'n God is nie. Al is daar biljoene Christene in die wêreld en nie een enkele ateïs nie, is dit geen bewys dat daar 'n God is nie.

Die enigste bewys dat God bestaan, is in die Bybel waar hy 'n fiktiewe karakter is. Hy bestaan dus net in die letterkunde, geskep deur skrywers van fiksie.

Interessante mense waarna jy verwys. Dr John Taylor, as ek en jy aan dieselfde persoon dink, het geleef in die tyd toe dit nog heel gevaarlik was om openlik te sê jy is ʼn ateïs. Dr Francis Collins het wel ʼn Christen geword, maar as wetenskaplike het hy die bestaan van ʼn Intelligente Ontwerper verwerp. Christene het dus maar so ʼn bietjie skeef na hom gekyk. Ek hoor nogal baie van dr Martin Rees deur ʼn nefie van my wat ook ʼn rekonstruktiewe plastiese chirurg is, en ook die Christelike lewensbeskouing handhaaf. Ek en hy debatteer juis die skepping vs evolusie dikwels wanneer ek hom sien. (Die debat is dan op ʼn hoër vlak as hier, waar ons meestal maar in mekaar se karakters inklim.)

Jy sê jy lees nie fiksie nie. Dan moet ek jou berispe. As Christen behoort jy mos darem ten minste die Bybel te lees, waar slange, esels en bome praat, vrouens in soutpilare verander, en mooi vrouens sommer uit ʼn man se ribbebeen gemaak is.

Die leesstof wat jy voorhou vertel mos net die een kant van die storie. Jy moet darem ook gaan kyk wat sê Stephen Hawking, Richard Dawkins, Christopher Hitchins, Eugenie C Scott ea. Dis nou nie-fiksie van hoë gehalte!

Angus

 

  • 4

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Angus,
    Jy is weereens verkeerd.
    Eerstens kan jy nie bewys dat God 'n 'fiktiewe karakter' is nie. Dit is sommer jou eie interpretasie van wat jy lees omdat jy dit nie na behore begryp nie en ook nie oor die Spirituele intelligensie beskik om dit te kan doen nie.
    Dan is jou aanname dat die enigste bewys dat God bestaan, kwansuis net in die Bybel is waar God 'n 'fiktiewe karakter' is en dat God dus net bestaan in die letterkunde, geskep deur skrywers van fiksie. Watter onkunde. Benewens dat jy lasterlik praat van God, verloor jy ook uit die oog dat die getuienis van talle mense wie 'n persoonlike verhouding met God het en ervaar, eersteklas bewysmateriaal is van God se werklikheid en betrokkenheid. Sulke getuienis is in die bewysreg van enige ordentlike regstelsel uitstekende en deurslaggewende bewysmateriaal.
    Help nie jy probeer ander flous deur gedurig hierdie aspekte te probeer vermy nie. Jy self is geflous maar nie so met talle der talle ander - gelowiges - nie.
    Dus, die massa mense wie van God getuig is dus juis direkte bewys van Sy bestaan. As jy Spiritueel tot beter in staat was, sou jy ook self daaroor getuig het.
    Die Bybel, as opgetekende, Godsgeïnspireerde Woord is nie God Self nie maar 'n parate, beskikbare bondige opsomming van God se openbaring van Homself aan die mens.
    Jy verstaan werklik nie wat aangaan nie, en jy skop teen die prikkels.
    Wat jou lastering teen God aanbetref, moet ek jou waarsku dat jy nog teenoor God verantwoording sal moet doen daarvoor ...

  • Beste Angus,
    Raed-na-Gael gee te kenne dat hy nooit fiksie lees nie, en dan kwoteer hy Genesis 1 en die nuwe testament iewers waar daar gesê word dat die woord iewers aan die begin was! Dis nou uit een van die nie-fiksie boeke op sy bedkassie.
    Nou ja, dan is Swarte Piet en Van Hunks en James Bond seker ook nie-fiksie soos bv Die Man in die Maan en Kersvader. O aarde, wat van die Tandemuis of Liewe Heksie?
    Op 'n ernstiger noot: Hoe is dit moontlik dat sommige mense in die (post) moderne tyd nog steeds glo aan die (manlike) god wat hier iewers bo ons sit en afkyk op ons en toutjies trek om dit te laat reën of droogte te stuur of wat ook al? Die bleddie indoktrinasie van weleer het wragtig soos gom loop vassit in die mense se DNS, so lyk dit my.
    In die NG gemeente waar ek al vir die afgelope 35 jaar woon, en waar ek tot so 15 jaar gelede kerkraadslid was, word daar reeds vir die afgelope 35 jaar gebid vir wêreldvrede en die armes en die siekes en die regering en apartheid en toe teen apartheid en vir die oplossing van geweld en plaasmoorde in die RSA en vir die siekes en die armes en geweld teen kinders en vir die bendegeweld op die Kaapse vlakte en die vet weet wat nog al: En niks gebeur nie, geen gebede-verhoring nie. En tog, Raed-na-Gael en mense soos hy is so geïndoktrineer dat hulle nog steeds die nonsens glo en vir my en jou en ander wat soos ons bevry is, met (fiktiewe) vuur-en-swawel wil toegooi.
    Ai tog, om elke aand te bid vir vergifnis van goed wat jy nooit gedoen het nie ...

  • Beste Kobus,
    Spirituele intelligensie laat die mens net drome droom en gesigte sien. Dit verblind hom vir die werklikheid.
    Ek het soveel kere al vir jou bewys die Bybel is fiksie, daarom is die karakters daarin fiktiewe karakters. Dis nie eens my eie interpretasie van fiksie, soos jy beweer nie. Enig iemand wat letterkunde bestudeer het, sal dit vir jou kan sê.
    Die trant waarin die Bybel geskryf is, die beeldspraak, maak dit alreeds fiksie, maar ook die gebeure daarin: ʼn pratende slang, esel en bome, ʼn ongehoorsame vrou wat in ʼn soutpilaar verander, ʼn kragmens wat duisend mense doodslaan met ʼn eselkakebeen en ʼn gebou laat omkantel met sy hande, ʼn man wat met sy kierie die Rooisee oopkloof, ʼn vrou wat maagdelike geboorte skenk, ʼn man wat water in wyn verander en op water loop, om net ʼn paar voorbeelde te noem. Dit is duidelik mitologie, en mitologie is fiksie. Die persoon wat beweer dat dit nie-fiksie is, weet nie wat letterkunde is nie.
    As iemand beweer hy het ʼn persoonlike verhouding met God en dat hy hom ervaar, dan geskied dit in sy verbeelding. Die sogenaamde eersteklas bewysmateriaal van God se werklikheid is dan na die maan. As iemand sou beweer dat hy ʼn persoonlike verhouding het met die feetjies in sy tuin en dat hy hulle elke dag daar sien en ervaar, is dit nog nie ʼn bewys dat feetjies bestaan nie.
    Ek probeer niemand flous nie, waarom sal ek? Die een wat mense probeer bedrieg met sy skrywe, is jy. Jy gebruik allerhande truuks om dit te doen, soos bv om te beweer dat die bewys van God lê in die massas mense wat in hom glo. As ek mense probeer bedrieg, soos jy beweer, dan sou ek weer die teendeel genoem het: groot massas mense glo nie in God nie, en dit bewys dat hy nie bestaan nie.
    Al verdediging wat jy het is: “jy verstaan nie”, “jy het nie die spirituele intelligensie om te verstaan nie”, “ jy skop teen die prikkels”, “jy verstaan nie wat aangaan nie”. Dis mos niksseggend en pure twak. Ek verstaan baie goed wat aangaan, en het dit baie duidelik met hierdie skrywe bewys.
    Ek kan onmoontlik God belaster, want hy is ʼn fiktiewe karakter. As hy dan werklik bestaan, waarom maak hy nie ʼn saak teen my nie? Hy moet in die hof kom bewys lewer waar ek onwaarhede, sonder bewys, kwaadwilliglik oor hom verkondig het en dit teen my beterwete in.
    Sal jy asseblief jou God laat weet, want ek het geen verbinding met hom nie, ons sien mekaar in die hof.
    O, ek sien, jy sê hy gaan my sommer self bykom omdat ek hom belaster. Is dit hoe dit werk? Ek moet dit onthou en die volgende persoon wat my belaster, vat ek nie hof toe nie, ek donder hom sommer self op.
    Groete,
    Angus

  • Beste Dirk Rigter,
    Jy slaan die spyker op die kop wat die DNS betref. Dit is bewys dat die omgewing en gebeure mutasies in die chromosome veroorsaak. In die geval van indoktrinasie lyk dit vir my na kwaadaardige mutasies.

    Kyk, een ding moet jy nie vir 'n Christen sê nie en dit is dat die Bybel fiksie is. Hy mag dit nie erken nie, al weet hy voor sy siel dat dit die waarheid is, want hy dink dan stort sy hele Christenskap in duie.

    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top