"Aan my pa" deur Danie Malan

  • 1

Aan my pa

Ek weet dis soms moeilik om te sê
Wat ek in ’n pa wil hê
Of net aan jou hand te raak
Om goed te sê om reg te maak

Jou lewe lank vir my te gee
By my te wees soos ’n skaduwee
Deur hartseer tye goed en sleg
Was pa daar baan jy die weg

Wat maak dit saak?
Ek bly onaangeraak
Wat maak dit saak?
My lewe kaal en naak
Wat maak dit saak?

Vir my om ’n beter mens te wees
’n kind, ’n pa wat niks kan vrees
Jy lei my deur valleie boos
Jyself so weerloos self so broos

As ek maar net soos jy kon wees
So sterk in siel in daad in gees
Net die helfte is genoeg
Jou offers werk en sweet en swoeg

Wat maak dit saak?
Ek bly onaangeraak
Wat maak dit saak?
My lewe kaal en naak
Wat maak dit saak?

En in my lewe kom ’n tyd
Soos nou om ook self te besluit
Wat ek vir my pa kan gee
Al is dit net ’n druppel see

Wat jy saam met jou kan vat
Na die goue pêrelstad
Woorde wat jy saam kan dra
“Ek het jou lief, vir ewig ... Pa”

Wat maak dit saak?
Ek bly onaangeraak
Wat maak dit saak?
My lewe kaal en naak
Wat maak dit saak?

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek ken jou nie Danie, maar iewers is ons seker verwant want my pa is Pieter Gideon Malan en sy pa was Pieter Daniël Malan. Sy broer en ander familie is ook Pieter Daniël.
    Hoe dit ook al sy ... die woorde wat jy vir jou pa geskryf het is presies hoe ek vannaand oor my bitter siek pa voel. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top