Aan die voete van Maria

  • 5

Ek dink baie aan Maria wat ek as kind geken het; Maria van Sergeantstraat in Bloemfontein. Hoekom weet ek nie, maar toenemend vang ek myself uitkyk of ek ​haar kan uitken in die vroue wat soggens verby my huis loop en smiddae terug. 

In daardie dae het swart vrouens ’n naam gehad wat die Madame kon uitspreek en as hulle nie een gehad het nie, is daar vir hulle een gegee. Geen tongklikke of uitgerekte e-klanke nie, wanneer Mevrou roep wou sy nie sukkel nie.

Ek dink dis hoekom daar so baie Maria's was. Vinnig, maklik en effektief. Daar was ook baie Elizabeth’s en Mavis’s.

Maria het bo in die straat gewerk as ’n inslaap-huishulp. Op sekere Saterdae het haar man, John, kom kuier en het hulle gesels buite haar kamer in die son. Meeste Maria's was getroud met ’n John of ’n Petrus.

Maria het by my maatjie gewerk. Ek en sy was net maatjies omdat ons ewe oud was, ons het weinig in gemeen gehad. Soos Facebook-vriende in moderne tye. Haar ma was pragtig en haar pa ’n dokter en hulle het ’n motor gery wat se ligte kon opwip en hulle het Maria gehad. Ons was laer af in die straat en ek kon voel wat hulle dink: die stille afkeer wat soms manifesteer in ’n jammerlike kyk. Soos die dag wat ek ses snye sagte toast met egte botter by hulle geëet het. Dit was die eerste keer dat ek toast geëet het wat die broodjie nie breek omdat dit oud is en ek kon nie ophou nie.

My maatjie was eintlik maatjies met die ander kinders in die straat. Hulle het mekaar met lukwarte gegooi en saam weggekruip vir my as ek wou saamspeel. Hulle het gefluister as ek nader staan of as ek wegloop en my gespot oor my klere. Dan het ek by Maria gaan sit.

Ek het nie baie met haar gepraat nie, want sy het altyd iemand by haar gehad in die middag. ’n Vriendin of meestal twee wat by haar kuier in die sonkol waar John gewoonlik op ’n krat sou sit. In die somer het hulle op die sagte gras effe laer af, onder ’n boom in die skaduwee gesit. Hulle het soms met Bybels gesit en sing maar dit het opgehou toe ’n vrou kla dat hulle raas.  Dit was vir my pragtig al het ek nie die woorde geken nie. Hulle het hard gelag en gepraat in ’n taal wat ek nie verstaan het nie, maar ek het nooit verhoed gevoel nie.  Inteendeel ek het gesit sodat die son op my rug bak en ek het bloeisels geruik en sement en die reuk van twak.  Maria het snuif gebruik wat in ’n klein geel en groen houertjie was.  Haar hele menswees en kamer het geruik na snuif, al het ek haar dit nooit sien gebruik nie. Dit was altyd by haar en eenkeer het sy my gewys hoe lyk die tabak binne-in.  Dit het my spesiaal laat voel soos op ’n Sondag as net ek geweet het wat is vir nagereg; ’n geheimenis wat nog deur die ander ontdek moet word.

Ek was nooit in haar kamer nie, maar wanneer haar deur oopgestaan het kon ek sien haar bed staan op bakstene en het ek geweet dit is omdat sy bang is vir die tokkelossie.  Daar was ’n Bybel op die tafeltjie langs haar bed en verder kan ek nie onthou nie.

Sagte Maria met die breë gesig en die pienk overall. Sy het nooit gevra hoekom ek nie saam met die ander kinders speel nie want sy het geweet wat dit is om obskuur in jou omstandighede te wees. Sy wás net en daarom kon ek net wees.

Ek wonder baie oor haar, lewe sy of is sy al dood.  My maatjie se dokter-pa het bankrot gespeel en hulle het getrek rondom die tyd wat die res van die buurt se kinders te oud geraak het vir boomklim en openlik skinder.

Maria was saam met die gesin weg en ek wonder of sy oud geword het saam met John.  John wat ’n motor gehad het. John wat ek gesien het sy voor lief is al sien hulle mekaar net een Saterdag ’n maand.

Ek wonder ook of sy geweet het ek bedoel dankie elke keer as ek sê ek moet nou huis toe gaan.

Vandag het ek verlang na Maria toe ek ’n voormalige kollega raakloop en sy my onbeleef onbenullig laat voel het.

Meer nog toe ek by die huis kom en wag dat my man weer eens met ’n drankasem terugkom van die kroeg.

Meeste toe ek besef dat my bestaan word nie gevalideer nie en dat Maria sekerlik nooit eers gedink het aan die kind met die groot voorkop en skewe tande nie.

Ek bly nege jaar oud.

Nege jaar oud met die besef dat Maria se naam waarskynlik nie eers regtig Maria was nie.

  • 5

Kommentaar

  • Yolandi von Gericke

    In ’n oogwink was ek terug in my kinderjare met my Anna onder die boom... Dit is ongelooflik goed geskryf, ek's nie ’n kranige leser nie maar die sal ek nie kan neersit nie.

  • Hans Richardt

    Klink vir my asof jul ryk was. Ek het groot geword met alles selfdoen, daar was bloot nie geld vir luukse van bediende nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top