
Foto: Canva.com
aan die oewers
daar was ’n tyd toe die bome vlam
gevat het in die namiddag en die blare
gebewe het met die wete
dat die mooiste seisoen sy
roes afwas
hy droom van tonge aan die oewers van die phlegethon
hy droom dat hy my kan verbrand
daar was ’n tyd toe die aarde gestroop
was van grillige versiering die sterre was skerper
die naakte skelette van bome het
’n skoonheid teen die gekraakte
ys van die nag geëts
hy droom van dooie bome aan die oewer van die akheron
hy droom dat hy spyt het oor die skade
daar het ’n tyd gekom toe die blomme kop
uitsteek en nuwe kleure oopsprei teen die
krakerige lug en die stuifmeeldrade het
gebewe teen die aanslag van soveel
nuwer sagter slimmer lewe
hy droom van ’n lyk in die waters van die kokytos
hy droom dat hy in rou is
in daardie tyd van verswelging en benoudheid toe
die strale deur alles gedring en geen donder en
bliksem en blitzkrieg-reënval die verf
uit die krake van die aarde kon was nie
het die sonbesies geskreeu en geskreeu en geskreeu
hy droom van nat, gladde klippe aan die oewers van die styx
hy droom dat ek hom haat
daar was ’n tyd van seisoene en skakerings
van sterfte en groei toe blare
oopgevou en opgevou en toegevou het en
allerlei geure en geheime aan die grond
en die krake in die lug gefluister het
hy droom van nimfe aan die oewers van die lethe
hy droom dat hy my vergeet het

