Aan die Kaap geskryf

  • 0

Die week in woorde

Daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan, sê die Prediker (of een of ander ánder digterlike skrywer van die Bybel), en die tyd het gekom vir my om terug te gaan stad toe. Ek groet die koeie en die blomme, die grasbale en die modder, my liefskapies en die skoon lug van Baardskeerdersbos elke dag ’n bietjie, en maak my gereed vir die gegons van die groot stad.

Preparation is everything, sê die Prediker. Of wag, dalk verwar ek hom nou met iemand heeltemal anders ...

Maak nou nie saak wie dit gesê het nie, die punt is dat mens jou moet voorberei, dat jy gereed moet maak vir die verandering, stadig maar seker moet begin om sommer van vooraf aan te pas. Gelukkig het ek my gids. Nie die Lonely Planet se kitsgids tot Kaapstad nie, maar ’n veel meer gesaghebbende en genuanseerde gids. Loftus Marais se bundel Kry my by die gewone plek, aguur – Kaapstadse gedigte is een van my boeke van die jaar. En die beste ding is, dit kan jou jare besig hou: mens kan net nie genoeg kry daarvan nie!

 

As ek te hard te kere gaan, klink ek dalk soos ’n gehuurde claque, so ek laat dit daar. As jy my meer volledige opinie daaroor wil hoor, gaan lees die resensie wat ek geskryf het hier.

Die stad kan wel as karakter in die bundel beskou word, maar die karakter wat die show steel, is die cross-dressing philosophising Fabulisha de la Queillerie, die lady wat weet dat geskiedenis die teenoorgestelde is van gorgeousness, die een wat in ’n steeg staan en dinkerig raak:

sy sien ’n entjie in begin die plakkaat-
beplakte mure skurf, verbleik tot strekkings skeursels
sy gaan vryf so fresh french tips en al
oor die kryterige oppervlak

patrone skuins oor baksteen, wit vorm na vorm
oorvleuelde merke, onlangse geskiedenis, bleek woorde:
live!, -LEGS EEN WEEK, presents:, kaartjies nou 
en sy lief dit, hierdie stedelike mos
gegroei so skoon, ’n ou gebou in furs
of nee, point de venise selfs hier
waar bergies pis en hoere hurk

buitekant wat skielik niks en alles is
toggie, al die muso’s en akteurs wat in die shows geglo het
terwyl die eintlike ding hier stadigaan gebeur.

Jy kan die hele gedig hier gaan lees.

Die Kaap is natuurlik nie nét Loftus en Fabulisha se territory nie ...

Toe ek die eerste maal in Kaapstad-stad aangekom het om te kom bly, in 2010, het een van sy ander Groot Stemme heel letterlik aan my verskyn op die sypaadjie. Soos dit maar soms met die verskyning van heiliges, engele en uitgesoekte predikers gaan, het ek ten tyde van die verskyning nie heeltemal besef wat ek sien nie. Maar sy was daar, op die sypaadjie in Kloofstraat, die vrou wat ook ’n hele bundel aan die Kaap geskryf het. Die vrou wat die stad so raak personifieer in die gedig “Die stad se bors trek toe”:

Die stad se bors trek toe. Sy kug,
betaamlik soos ’n dame, wanneer dit kriewel
in haar besmeerde strate. ’n Gepoetste vyfpuntige
antieke borsspeld dra sy beskeie
onder by haar lieste waar dit so bietjie
stink, maar deesdae het sy darem ’n pienk
panty by appointment to Victoria & Alfred aan.

(Uit: Aan die Kaap geskryf, 1994, Human & Rousseau)

O, mag die gode wat die mis stuur en in die winter daai watervalle teen die berg laat afloop dit maar so bewerk dat ek weer eendag binnekort op die sypaadjie in Wilma Stockenström vasloop. En laat ek dié keer weet ek beleef ’n wonder en laat ek weet wat om te sê, of wat om te doen, of wat om vir haar te gee.

’n Mens moet gereed wees, sê die Prediker of wie-ook-al, so nou gaan ek een laaste keer met my skape stap en dan gaan ek my neus begin poeier en my pruik uitstryk sodat ek nie hoef terug te staan vir die stad wat soms so kan opdress in pienk panties en whatnot nie. Ek gaan oplees: sy woorde uit my kop leer, haar woorde memoriseer, en dan na die stad terugkeer om my eie woorde daaroor te kom uitkrap.


   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top