
“Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika!” Ons sing dit, maar bedoel ons dit? Suid-Afrika is uitverkoop aan die kabaal.
Kyk in die oë van die man wat geboei sit met ’n geweer teen sy kop, weerloos teen die duiwels wat hom oorrompel het.
’n Vrou wat lê in haar bloed wat uitpols, gestreep oor die houtvloere, wie se siel verbrysel word deur grynsende boewe wat haar verkrag en slag, haar angskrete wat skeur deur die grein van die vloer; haar verwonde man wat veg teen die kettings wat sy bene boei, terwyl hy geforseer word om sy geliefde te aanskou, hulpeloos moet toekyk hoe die uurglas uitmekaar spat.
’n Dogter se lewelose liggaampie wat reeds gestroop en dood op die dorsvloer lê, soos ’n lappop op die ashoop.
Dis ’n boer wat gister tot sonsak gewerk het om die nasie te voer. Hulle moor die hand wat hulle kinders môre sou voer.
Kyk in die oë van ’n ouma wat gister koekies gebak het vir haar kleinkinders; die een wat die stories van die verlede lewend hou, die een wat die ensiklopedie van ons voorvaders in haar hart dra. Haar oë is nou verstar, terwyl hulle na die hemele staar. Sal die heelal haar geheime van haar lewe bewaar? Vermink en leweloos is sy gelaat. Vir wat? Watter kwaad?
Die stank van die brand van ’n strykyster wat stoom deur die lug en droë bloed wat verpoeier teen haar lippe, wat haar grys hare soos rooi granate bevlek.
Die marteling was vir wat? Vermaak?
Dis nie net moord nie, dis die sadistiese, siellose, genadelose manier waarop die moorde plaasvind. Maar daar’s ’n stilte. Glad nie hoofnuus nie, want die boer verdien dit mos. Dit is mos aanvaarbaar om ’n boer se bloed te vergiet. Was ons voorvaders se bloed verniet?
Die boere het mos die land gesteel!
Die stilte van die ANC is so kwetsend soos die krete van die politieke partye wat dreunsing "Kill the Boer, kill the farmer."
Ek blameer die regering. Hulle hou die paddapot aan die kook en die vuur aan die stook, en noudat die rook in die wêreld se neusgate begin opstyg, probeer hulle ’n narratief skep dat dit ’n leuen is.
Die Afrikaners wat weet en kyk en ontken dat dit nie gebeur nie, is welaf mense.
Kyk na die kruise en kyk in die pad. Die pad wat ver is van die stad.
Die hand wat die land voer, word blameer vir almal se sondes.
Wanneer die korrupte leiers nie keer
en dié wat dom is nie wil leer
dat ons enigste uitkoms is nie die geweer
maar ons roepe na die Heer.
Vertel die oorlewendes van vermoorde boere dat dit nie volksmoord is nie. Vertel hulle dat die aarde waarop hulle vee wei, vervloek is. Vertel hulle dat hulle voorvaders se bloed tevergeefse was.
Stadig word die mense vermoor en hulle geloof en drome versmoor deur duiwelse alliansies met antichristeninstansies waar radikale ons land infiltreer, dan integreer, dan domineer. Suid-Afrika is uitverkoop; ons sogenaamde leiers en makkers van die reënboognasie. So kook hulle stadig hul heksesop en draai stadig die hitte op, voordat die paddas besef dis te laat om weer te kwaak. Die storie ken almal.
Een huisgesin op ’n slag word aangeval en wreed vermoor. Dis nie net moord nie. Dis marteling, dis barbaars, dis sadisties, dis wreed, dis duiwels.D
Die media en die regering sit met hul vêrkykers in weelde en lag, wanneer hul sien hoe hulle met woorde en krete die boere en ander se lewens minag.
Maar God is die een wat laaste lag.

