Aan Anderson Cooper: Dit bly ’n betwiste vraag

  • 0

...
Net soos een man deur sommige as terroris beskou kan word, maar deur ander as vryheidsvegter, so kan een man se “revolusie” vir ’n ander man gelykstaan aan sy eie volksmoord.
...

Meneer Cooper

In ’n onlangse uitsending van 60 minutes het die boere met wie jy gekies het om onderhoude te voer, dieselfde ou deuntjie gesing: Suid-Afrika is ’n land met ’n hoë misdaadsyfer; boere van alle rasse word geteiken; en daar speel tans geen volksmoord voor die wêreld se oë af nie, maar alles in Suid-Afrika is doodeenvoudig nie swart en wit nie.

Om te bepaal of daar werklik ’n volksmoord plaasvind, moet mens ’n tree terug gee, tot die groter prentjie sigbaar begin raak. Die groter prentjie lyk so ...

Sedert 2017 word inligting oor slagoffers en verdagtes se rasse nie by misdaadstatistieke ingesluit nie (kwansuis om gelykheid te bevorder).[*] Tog word ras steeds aangeteken wanneer dit kom by eiendomsbesit en beroepsinligting. Die gebrek aan rasgespesifiseerde misdaaddata maak dit moeilik om objektief te bepaal of daar rede tot kommer is oor die moordsyfer van wit Suid-Afrikaners, of nie.
Sou sulke data beskikbaar gestel word, moet ’n mens ook die demografiese werklikheid in ag neem. Soos jy ook genoem het, is slegs ongeveer sewe persent van die bevolking wit. Om dié rede kan getalle nie bloot tussen groepe vergelyk word nie; bevolkingsgrootte moet ingereken word om die werklike impak op ’n minderheidsgroep te verstaan.

Verder behoort die fokus nie uitsluitlik op plaasmoorde te val nie, maar op die veiligheid en volhoubare bestaan van die wit bevolking in sy geheel. Die woord boer is veelsinnig: Dit kan verwys na iemand wat boer, maar ook na ’n wit Afrikaanse persoon. Hierdie onderskeid is relevant, aangesien die woord gereeld in politieke retoriek gebruik word.

Dit is ook belangrik om te verstaan dat volksmoord nie slegs na die fisiese uitwissing van ’n groep mense verwys nie. Dit kan ook betrekking hê op prosesse wat ’n gemeenskap se vermoë om veilig te leef, ekonomies te floreer, kultureel voort te bestaan en volwaardig aan die samelewing deel te neem, stelselmatig ondermyn. Wanneer ’n groep voel dat hul bestaansreg, veiligheid en toekoms bedreig word, ontstaan vrae wat nie ligtelik afgemaak behoort te word deur mense soos jy nie.

Dit is insiggewend om te kyk na Gregory Stanton se raamwerk oor hoe volksmoorde ontwikkel. Hy beskryf dit as ’n proses wat geleidelik ontvou van aanvanklike klassifikasie en etikettering van groepe, na toenemende diskriminasie en ontmensliking, gevolg deur polarisasie en georganiseerde vyandigheid. Dit kan lei tot sistemiese vervolging, en in uiterste gevalle, fisiese uitwissing, waarna ontkenning dikwels volg. Die kern van sy argument is dus dat volksmoord nie skielik begin nie; dit ontwikkel deur identifiseerbare fases wat as waarskuwingstekens dien.

Beteken dit dat daar tans onteenseglik ’n volksmoord plaasvind? Dit bly ’n betwiste vraag. Wat egter redelik is, is om te vra of enige van die waarskuwingstekens wat Stanton identifiseer, in enige vorm sigbaar is, en of daar genoegsame waaksaamheid bestaan om te voorkom dat ’n samelewing langs ’n gevaarlike trajek beweeg.

Die narratief wat jy probeer bevorder, sou gepas het as Suid-Afrika nie meer as 140 rasgebaseerde wette gehad het, of water op grond van ras gegun het aan boere nie. Of as Julius Malema nie “Kill the Boer, kill the farmer” uitgebulder het terwyl lede van sy gehoor die kop van ’n wit pop op ’n paal rondgeparadeer het nie.

Net soos een man deur sommige as terroris beskou kan word, maar deur ander as vryheidsvegter, so kan een man se “revolusie” vir ’n ander man gelykstaan aan sy eie volksmoord. Verskillende groepe binne die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap heg nie altyd dieselfde waarde of betekenis aan die idees en woorde waaraan hulle blootgestel word nie. As ’n man byvoorbeeld openlik sou verklaar dat een van sy doelwitte moontlik die uitwissing van ’n sekere etniese groep kan behels, en dan ’n lied sing oor die moord op daardie groep, mag sommige mense hom ’n vryheidsvegter noem en sy planne revolusionêr. Ek sal hom ’n terroris noem en sy planne met volksmoord vergelyk. Ek sal hom sien as ’n bedreiging vir openbare veiligheid en nasionale stabiliteit.

Malema het gesê: “I have not called for the genocide of whites, at least for now.” Hierdie opmerking is goed gedokumenteer, wat dit des te meer kommerwekkend maak dat die EFF se hoofleier wettig toegelaat word om “Kill the Boer, kill the farmer” te dreunsing.

Die regverdiging vir hierdie bevel (versluier deur ’n wysie) wat oor en oor herhaal word, word gekoppel aan die feit dat dit “historiese relevansie” het. Word liedere met historiese relevansie nie gewoonlik gesing in die tale van die groepe wat betekenis daaraan heg nie (en nie in die tale van hul “koloniseerders” en “onderdrukkers”) nie? Waarom word die woorde van “Dubul’ ibhunu” dan nie in die oorspronklike Xhosa- of Zoeloetaal gesing nie, maar in Engels? Kan dit ’n berekende skuif aan die kant van die EFF wees? “Kill the Boer”... om buitelanders wat in Suid-Afrika woon en die EFF ondersteun (as gevolg van hul oopgrensbeleid), maar wat nie noodwendig Xhosa of Zoeloe verstaan nie, te bereik? “Kill the Boer”... om blankes wat Engels en Afrikaans verstaan, te intimideer?

Artikel II van die Konvensie oor die Voorkoming en Bestraffing van die Misdaad van Volksmoord lys “die veroorsaking van ernstige liggaamlike of geestelike skade aan lede van die groep” as dade wat as volksmoord beskou kan word. “Dubul’ ibhunu” tref nie dieselfde as “Kill the Boer” nie, omdat die meeste mense nie betekenis sal heg aan die Xhosa- of Zoeloe-weergawe van die frase nie; wanneer hierdie dreunsang egter in Engels herhaal word, dra dit beslis meer trefkrag. Dit veroorsaak verdeeldheid, laat die meeste burgers ongemaklik voel en laat baie mense onwelkom, onveilig en kwesbaar in Suid-Afrika voel.

As Malema en sy ondersteuners hoop om die 34 000 wit voedselproduserende boere wat nog op Suid-Afrikaanse plase oor is, te intimideer, en hulle slaag daarin, sal alle Suid-Afrikaners ’n mensgemaakte hongersnood moet verduur. Ons sal ons eie Holodomor hê!

Ons verwag van president Cyril Ramaphosa om die sing van “Kill the Boer” openlik te veroordeel. Hy moet dit om die volgende redes doen:

  1. Soos bepaal in die Uitkomsdokument van die 2005 Verenigde Nasies Wêreldberaad, berus die plig om volksmoord en massawreedhede te voorkom en stop te sit in die eerste plek by die Staat – en die President is ons staatshoof).
  2. Hoofstuk 5 van die Grondwet definieer die president as die staatshoof en hoof van die nasionale uitvoerende gesag. Sy primêre verantwoordelikheid is om die Grondwet as die hoogste reg van die Republiek te “handhaaf, verdedig en respekteer”, sowel as om die eenheid van die nasie te bevorder en dit wat dit sal vooruit help.

Indien die president versuim om op te tree volgens wat die Grondwet vereis, sal dit dien as bevestiging óf dat ons Handves van Regte dood is, óf dat ons die beoogde doel daarvan heeltemal verkeerd geïnterpreteer het.

Die Uitkomsdokument van die 2005 Verenigde Nasies Wêreldberaad beklemtoon dat indien ’n staat klaarblyklik versuim om sy bevolkings te beskerm, die internasionale gemeenskap kollektiewe optrede moet oorweeg om bevolkings te beskerm, in ooreenstemming met die VN-Handves. Dis wat die hoofde van ander lande en talle organisasies nou doen.

Stacey van der Walt

(* Redaksionele nota: Cooper verduidelik wel die kwessie tydens sy gesprek met swart en wit boere in Suid-Afrika.)

Lees ook:

Wat wil jy vir Anderson Cooper sê oor die Afrikaner?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top