Na dese is ek 'n geswore Pascal Mercier “fan”. Ek het min tyd om letterkunde te lees en gewoonlik "oorval" 'n boek my. En so was dit ook met A night train to Lisbon. In dié geval het die fliek my eers oorval en daarna móés ek net die boek ook lees.
Dis een van die heel mooiste kunsflieks wat ek in my lewe gesien het. Dit val beslis in die uitsonderlike kategorie van Bella Martha, Best Marigold Hotel, The piano, Death in Venice, Out of Africa, The English patient, Babette’s feast, Chocolat ... Daarvoor sorg die uitgelese besetting deur akteurs soos Jeremy Irons, Martina Gedeck en Bruno Ganz.
Dis altyd 'n groot uitdaging om grootse letterkunde wat dig en kompleks geskryf is, vas te vang in 'n draaiboek. Ek was onlangs in ’n interessante gesprek gewikkel oor die “tekortkominge” van Visconti se Death in Venice ten opsigte van die kompleksiteit en genuanseerdheid van Thomas Mann se boek. Iemand het die standpunt geopper dat ’n draaiboekskrywer nie die storie self mag verander nie. In Visconti se film het die draaiboekskrywer die hoofkarakter, ’n skrywer, in ’n komponis verander sodat die “Leitfigur” op Gustav Mahler se homoërotiese neigings gemunt kon word. Die sleutelromanrol van Mahler tesame met die opening van die fliek met Mahler se beroemde Vyfde Simfonie is sekerlik ’n trekpleister wat die film se sukses sou waarborg.
Dit is uiteraard moeilik om ’n roman in ’n draaiboek so te verkort dat die essensie van die letterkundige teks behoue bly. Die visuele produk van die draaiboekskrywer tree in gesprek met die teks van die boek.
Die realiteit is egter ook dat dit ongelooflik duur is om ’n film te maak en dat die mark as’t ware “saampraat” in die agtergrond. Mense wat flieks kyk, hou van 'n “happy ending" – selfs al gaan dit om 'n treurige storie én selfs al word die film vir ’n uitgelese publiek gemaak. So is dit ook in die geval van Death in Venice en van A night train to Lisbon.
Die verandering of aanpassing van die storielyn is dalk minder steurend in laasgenoemde geval as in die geval van Visconti se weergawe van Thomas Mann se roman.
Mercier se boek het egter nie die romantiese “happy ending” van die fliek nie. Ek sou nietemin sê: begin met die fliek, want dit gaan jou meesleur. Dis soos ’n aptytwekkertjie om die wêreld van die goudsmid van woorde, Amadeu de Prado, te betree.
As die poësie van Fernando Pessoa tot jou spreek, dan sal die goudsmid se woorde wat Pascal Mercier vir Prado in die mond lê, sekerlik ook jou hart verower. Pascal Mercier is die éintlike goudsmid van woorde.
Ek het die boek in die oorspronklike Duits gelees en dikwels gewonder hoe mens sulke mooi sinne ooit in enige ander taal kan vertaal sonder dat die poësie en musiek van die woorde verlore gaan – sinne soos “(D)azu war die bleierne Schwertekraft meiner Erziehung zu groß” (Daarvoor was die lood in die swaartekrag van my opvoeding te swaar.)
Die boek neem jou op ’n kragtoer deur die menslike psige en verhoudings. Dit gaan oor die ambivalensie van menslike optrede binne ’n diktatuur: dit skilder die grusaamhede van die veiligheidspolisie tydens die bewind van Salazar en hoe dit menslike keuses beïnvloed het. Is dit menslik om die lewe van Mendez, die slagter van Lissabon, te red omdat die eed van Hippokrates dit van medici verwag terwyl hy mense laat folter tot hulle sterwe?
Maar dis ’n baie groter storie: dis nie net die storie van die Portugese adellike Amadeu de Prado nie, maar ook die storie van Raimund Gregorius, ’n filoloog van Bern wat toevallig Prado se memoires in ’n antikwariaat ontdek en dan spontaan sy spoor na Lissabon volg. Stukkie vir stukkie herlewe Prado uit die herinneringe van ander mense.
Die storie gaan oor keuses wat mense maak en of hulle ander keuses sou maak as hulle die tyd kon terug draai tot by ’n bepaalde vurk in hulle lewensweg. Dit gaan oor ’n groot liefde wat verlore gaan nog voor dit eintlik begin het – dié van Prado en die beeldskone Estafânia Espinhosa, die vrou met die fotografiese geheue waarin alle name van die 200 mense in die weerstand gegraveer was. Dis hulle wat die angelierrevolusie in 1974 van stapel gestuur het. En dis ook die storie van Gregorius, van sy drome oor Persiese poësie en Isfahan en van Florence.
Mens wil nie dat die storie ophou nie, omdat die woorde mens so diep roer. Dis ’n boek wat mens soos ’n boksie met baie spesiale praline moet eet-lees – stukkie vir stukkie, en stadig, sodat dit lank kan hou.
As jou nuuskierigheid gewek is, loer-lees gerus hier in die Engelse vertaling:
Lees ook hierdie filmbydrae en hierdie akademiese artikel wat handel oor die verwerking van boektekste na filmdraaiboeke.


Kommentaar
I wrote the screenplay! Thanks for a lovely review.
Hallo Pouveer