A night train to Lisbon

  • 2

Na dese is ek 'n geswore Pascal Mercier “fan”. Ek het min tyd om letterkunde te lees en gewoonlik "oorval" 'n boek my. En so was dit ook met A night train to Lisbon. In dié geval het die fliek my eers oorval en daarna móés ek net die boek ook lees.

 

Dis een van die heel mooiste kunsflieks wat ek in my lewe gesien het. Dit val beslis in die uitsonderlike kategorie van Bella Martha, Best Marigold Hotel, The piano, Death in Venice, Out of Africa, The English patient, Babette’s feast, Chocolat ... Daarvoor sorg die uitgelese besetting deur akteurs soos Jeremy Irons, Martina Gedeck en Bruno Ganz.

Dis altyd 'n groot uitdaging om grootse letterkunde wat dig en kompleks geskryf is, vas te vang in 'n draaiboek. Ek was onlangs in ’n interessante gesprek gewikkel oor die “tekortkominge” van Visconti se Death in Venice ten opsigte van die kompleksiteit en genuanseerdheid van Thomas Mann se boek. Iemand het die standpunt geopper dat ’n draaiboekskrywer nie die storie self mag verander nie. In Visconti se film het die draaiboekskrywer die hoofkarakter, ’n skrywer, in ’n komponis verander sodat die “Leitfigur” op Gustav Mahler se homoërotiese neigings gemunt kon word. Die sleutelromanrol van Mahler tesame met die opening van die fliek met Mahler se beroemde Vyfde Simfonie is sekerlik ’n trekpleister wat die film se sukses sou waarborg.

Dit is uiteraard moeilik om ’n roman in ’n draaiboek so te verkort dat die essensie van die letterkundige teks behoue bly. Die visuele produk van die draaiboekskrywer tree in gesprek met die teks van die boek.

Die realiteit is egter ook dat dit ongelooflik duur is om ’n film te maak en dat die mark as’t ware “saampraat” in die agtergrond. Mense wat flieks kyk, hou van 'n “happy ending" – selfs al gaan dit om 'n treurige storie én selfs al word die film vir ’n uitgelese publiek gemaak. So is dit ook in die geval van Death in Venice en van A night train to Lisbon.

Die verandering of aanpassing van die storielyn is dalk minder steurend in laasgenoemde geval as in die geval van Visconti se weergawe van Thomas Mann se roman.

Mercier se boek het egter nie die romantiese “happy ending” van die fliek nie. Ek sou nietemin sê: begin met die fliek, want dit gaan jou meesleur. Dis soos ’n aptytwekkertjie om die wêreld van die goudsmid van woorde, Amadeu de Prado, te betree.

As die poësie van Fernando Pessoa tot jou spreek, dan sal die goudsmid se woorde wat Pascal Mercier vir Prado in die mond lê, sekerlik ook jou hart verower. Pascal Mercier is die éintlike goudsmid van woorde.

Ek het die boek in die oorspronklike Duits gelees en dikwels gewonder hoe mens sulke mooi sinne ooit in enige ander taal kan vertaal sonder dat die poësie en musiek van die woorde verlore gaan – sinne soos “(D)azu war die bleierne Schwertekraft meiner Erziehung zu groß” (Daarvoor was die lood in die swaartekrag van my opvoeding te swaar.)

Die boek neem jou op ’n kragtoer deur die menslike psige en verhoudings. Dit gaan oor die ambivalensie van menslike optrede binne ’n diktatuur: dit skilder die grusaamhede van die veiligheidspolisie tydens die bewind van Salazar en hoe dit menslike keuses beïnvloed het. Is dit menslik om die lewe van Mendez, die slagter van Lissabon, te red omdat die eed van Hippokrates dit van medici verwag terwyl hy mense laat folter tot hulle sterwe?

Maar dis ’n baie groter storie: dis nie net die storie van die Portugese adellike Amadeu de Prado nie, maar ook die storie van Raimund Gregorius, ’n filoloog van Bern wat toevallig Prado se memoires in ’n antikwariaat ontdek en dan spontaan sy spoor na Lissabon volg. Stukkie vir stukkie herlewe Prado uit die herinneringe van ander mense.

Die storie gaan oor keuses wat mense maak en of hulle ander keuses sou maak as hulle die tyd kon terug draai tot by ’n bepaalde vurk in hulle lewensweg. Dit gaan oor ’n groot liefde wat verlore gaan nog voor dit eintlik begin het – dié van Prado en die beeldskone Estafânia Espinhosa, die vrou met die fotografiese geheue waarin alle name van die 200 mense in die weerstand gegraveer was. Dis hulle wat die angelierrevolusie in 1974 van stapel gestuur het. En dis ook die storie van Gregorius, van sy drome oor Persiese poësie en Isfahan en van Florence.

Mens wil nie dat die storie ophou nie, omdat die woorde mens so diep roer. Dis ’n boek wat mens soos ’n boksie met baie spesiale praline moet eet-lees – stukkie vir stukkie, en stadig, sodat dit lank kan hou.

As jou nuuskierigheid gewek is, loer-lees gerus hier in die Engelse vertaling:

http://www.amazon.de/Night-Train-Lisbon-Pascal-Mercier/dp/1843547589/ref=sr_1_cc_1?s=aps&ie=UTF8&qid=1406792543&sr=1-1-catcorr&keywords=pascal+mercier+lissabon+train#reader_1843547589.

 


 

Lees ook hierdie filmbydrae en hierdie akademiese artikel wat handel oor die verwerking van boektekste na filmdraaiboeke.

  • 2

Kommentaar

  • Hallo Pouveer

     
    To love is eternal innocence, And the only innocence is not to think...
    8 March 1914 - Alberto Caeiro (Fernando Pessoa). 
     
    Hierdie was 'n welkome bespreking van jou kant af. 
     
    Dit was moontlik om die film op te spoor en het ek dit gekyk en hierdie is my reaksie daarop en soos verwag kan word is dit nie 'n poging tot 'n ontleding nie en slegs 'n versameling van notas van my reaksie op die film. 
     
    Die verwysing na Pessoa is belangrik aangesien die verhaal wat vertel word van Amadeu de Prado 'n sekere mate van ooreenstemming toon met die verhaal van Fernando Pessoa in die konteks van hoe Fernando Pessoa se werke hulle weg na sy gehoor gevind het. 
     
    Dit het my laat wonder of Pascal Mercier tog werk vanaf die verhaal van Fernando Pessoa. 
     
    Alhoewel dit bekend aan die lesers sal wees dat Fernando Pessoa nie so 'n gebeurtenisvolle lewe soos die karakter van Amadeu de Prado gehad het nie wanneer dit aanvaar  word dat Bernardo Soares, skrywer van "The Book of Disquiet" verteenwoordigend is van Pessoa en soos volg beskryf kan word. 
     
    "Fernando Pessoa, strictly speaking, doesn’t exist", dit volgens Álvaro de Campos, "one of the characters invented by Pessoa to spare himself the trouble of living real life". 
     
    Dit is die verbintenis tussen Raimund Gregorius, Bernardo Soares en dan sekerlik Fernando Pessoa. 
     
    Bernardo Soares het meer geleentheid om homself te verwoord, gegewe die omvang van "The Book of Disquiet" in teenstelling met Ricardo Reis se kleiner versameling van gedigte. 
     
    Die kern vir die doeleindes van hierdie kommentaar, "spare himself the trouble of living real life". 
     
    Daarvolgens is Raimund Gregorius en Bernardo Soares dieselfde in aard. 
     
    Die film self het my aandag gehou, alhoewel daar 'n wens van my kant af was dat dit 'n ander film was en dan daarmee ook 'n ander boek. 
     
    Dit is ongelukkig nie aanvaarbaar nie, aangesien 'n film of 'n boek, of 'n toneelstuk nie gekritiseer kan word op grond van wat dit nie is nie. 
     
    Dalk het ek gehoop vir 'n film wat die denkwêreld van Amadeu de Prado sou uitbeeld sonder die verhaal van die weerstand teen die onderdrukking wat in Portugal geheers het. 
     
    Die verhaal van die weerstand sou ek eerder wou vermy en dat dit 'n aparte verhaal moes wees. 
     
    Dit sou egter 'n ander boek en film gewees het en dit is nie wat Pascal Mercier geskryf het nie. 
     
    Hoe sou "The Book of Disquiet" verfilm word. 
     
    Daarom dan dat 'n verhaal ingesluit moet word wat die gebeure kan aandryf soos in die film gesien.
     
    Die versugting van my kant af is dus een van minder aksie en meer refleksie, oordenking en soos alreeds aangedui seker onmoontlik om te verfilm. 
     
    Na ek hierdie film gekyk het, het dit in oorweging gebring twee films wat ek onlangs gesien en met jou wil uitruil aangesien daar aspekte is wat moontlik ooreenstemming toon met "Night Train to Lisbon", al mag die verbintenis dalk baie skraal wees. 
     
    Daar word begin met Abbas Kiarostami se “Certified Copy - 2011” en het as onderwerp die verwantskap wat bestaan tussen die oorspronklike en die kopie daarvan en watter een van die twee is beter. 
     
    Die vraagstuk van die outentieke, "egtheid" in kuns volgens 'n boek in die film geskryf deur James Miller en gespeel deur William Shimell. 
     
    'n Goeie kopie van 'n kunswerk kan net soveel plesier en insig verskaf as die oorspronklike. 
     
    Die titel van James Miller se boek gee dit volkome weg en was oorspronklik getiteld, "Forget the original, just get a good copy". 
     
    Vanaf hierdie beginpunt word daar ook gespekuleer oor die aard van "egtheid", (authenticity), in die mens en die filosofiese implikasies daarvan. 
     
    Hiermee begin die gesprek tussen James Miller en Elle, gespeel deur Juliette Binoche en is die aksie van die film in essensie die gesprek tussen die twee soos hulle rondgaan in Italië en die kyker gelaat word om te wonder oor die aard van die verhouding tussen James en Elle. 
     
    Speel hulle 'n rol vir mekaar of is die oomblik waar daar gepoog word om 'n verhouding na 'n lang breuk weer te versoen en is die finale toneel, net soos die van  Raimund Gregorius op die perron, 'n oop einde.
     
    Gaan James na die bed in die laatmiddag waar Elle vir hom wag, 'n herdenking van hulle wittebrood van 15 jaar tevore?.   
     
    Die tweede film is moontlik die "oorspronklike" van “Certified Copy - 2011”. 
     
    Roberto Rossellini se "Viaggio in Italia", "Journey to Italy  - 1954", met Ingrid Bergman, "Katherine", George Sanders, Alex Joyce. 
     
    'n Getroude paar en is die aksie weereens, net dialoog en die moontlik einde van die film, slegs die "asemskep" wat na 'n lang sin volg en is die "slotsom" in die film ook 'n oop einde. 
     
    Twee films wat jy dalk kan oorweeg, indien jy dit dit nog nie gesien het nie. 
     
    Drie films, die laaste twee meer so, ryk in dialoog en die dialoog die drywers van die "aksie" en wat 'n plesier is dit nie. 
     
    Ek sluit af met twee aanhalings. 
     
    Die eerste kom uit 'n opstel wat handel oor die nou verwantskap tussen, "lag en huil" en vind volgens my aansluiting tot die kwessies van “Certified Copy - 2011”:
     
    "We have stumbled on the defining ambiguity of human emotional life: we are always caught between authenticity and fakery, always floating in the grey area between involuntary outburst and expedient pretence". (Michael Graziano professor of neuroscience at Princeton University). 
     
    Die tweede aanhaling is van Roberto Rossellini en sy reaksie op die "gelukkige einde" in "Viaggio in Italia" en antwoord Roberto Rossellini soos volg op die vraag of die einde van "Viaggio in Italia", 'n "false happy ending" is. 
     
    "Of course, it's a very bitter film, isn't it, after all?"
     
    Die einde in al drie films kan nie as die finale woord in die verhouding van die drie pare onder bespreking gesien word nie. 
     
    Die laaste film in hierdie siklus vermy ek nog en word ook beskou as 'n voorloper tot Abbas Kiarostami se “Certified Copy - 2011” en verwys na Alain Resnais se "Last Year at Marienbad - 1961", maar dit voel te veel soos huiswerk om hierdie film te kyk. 
     
    'n Veel ligter "Viaggio in Italia", is Steve Coogan en Rob Brydon se "The Trip to Italy".
     
     'n Heel aangename reis. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top