Saamstaan

  • 2

Afrikaners word dikwels daarvan beskuldig, deur mede-Afikaners nogal, dat hulle nie kan saamstaan nie. Dit is debatteerbaar; kan ek die Afrikaners wat DA stem byvoorbeeld beskuldig dat hulle dwarstrekkers is omdat hulle nie saam met ’n klomp van ons vir die Vryheidsfront stem nie? Of andersom; kan die DA-ondersteuners die Vryheidsfronters dwarstrekkers noem omdat hulle nie die DA ondersteun nie?

Natuurlik nie; daar is politieke partye die wêreld deur en geen land se inwoners word as hardkoppig beskou omdat almal daar nie vir dieselfde party stem nie. Miskien, dan, word bedoel saamstaan in besigheid. Kyk maar, word daar gesê, hoe staan die Grieke of Portugese saam. Dit is ook onsin; hulle staan saam in hierdie opsig waar hulle ’n minderheidsgroep is, soos hier in Suid-Afrika. Grieke en Portugese staan nie saam in respektiewelik Griekeland of Portugal nie; dit maak nie sin nie, want daar is niemand waarteen jy moet saamstaan nie.

Miskien kan Afrikaners saamstaan in Londen of in Sydney, ek weet nie, mens kan verder daaroor praat. Waar Afrikaners wél nie kan saamstaan nie, anders as, sê die Engelse of die Franse, is waar dit die handhaaf van hulle taal betref. In die eerste plek kan Afrikaners byvoorbeeld nie spel nie. Kyk maar na webwerwe waar die brief of die kommentaar direk na versending verskyn. Dis ongelooflik; hulle kan maar net nie die een-begrip-een-woord-storie onder die knie kry nie. Verder word f's en v's omgeruil, dubbele oortreffende trap is algemeen en ook anglisistiese sintaks soos byvoorbeeld "doen" te gebruik soos dit in Engels gebruik word.

Behalwe verkeerde en gebrekkige taalgebruik is daar ook die uiters slap houding van Afrikaners ten opsigte van hulle taal. By die werk móét hulle Engels praat en dit doen hulle maar alte gewilliglik (jy gaan byvoorbeeld geen Engelsman kry om in te stem om slegs Afrikaans by sy werk te praat nie; hy sal die baas en die hele bestuur in hulle moer stuur). So, by die werk praat die Afrikaner Engels, by die plekke waar hy betaal vir goedere en dienste praat hy Engels (wat op aarde het geword van "die klant is koning"?) en, gaan hy op vakansie, is alles ook Engels – karavaanparke, wildsplase, restaurante, oral, al is 90% van die klandisie Afrikaanssprekend. En soos die osse van Jan F val hy maar gedweë in.

Verder word Afrikaanse plek- en straatname met verdrag verander na allerhande volksvreemde name; g’n mens weet meer waar jy is as jy in Noord-Transvaal rondry nie. Om watter rede? Was die dorpstigters van daardie plekke almal swart? Dis mos uiters uittartend; ’n duidelike teken dat Afrikaans en Afrikaners lingua en persona non grata is, of hoe?

Wat verbysterend is, is dat die Afrikaner dit so goedsmoeds aanvaar (tot so’n mate selfs dat hulle hul kinders Engels grootmaak en o, is hulle tog nie te trots as die kleingoed bedrewe in Engels is nie).  Om die waarheid te sê, sou jy dit waag om jou misnoeë oor hierdie toedrag van sake uit te spreek, word jy skeef aangekyk deur mede-Afrikaners, kan jy glo; hoe kan jy nou so naam weggooi deur vies te wees oor Afrikaans en Afrikaners afgejak word, a-nee-a, wat moet die Engelse van ons dink?

Hierdie gedienstigheid gaan verder: In Afrikaanse teks word Engelse woorde links en regs gebruik, so asof Afrikaans ’n gebrekkige uitdrukkingsvermoë het. Om die braaivleisvuur is dit klaar erg genoeg, maar ek het nou net sit en luister na RSG waar Christine Wessels met ’n ene Jeanette du Toit oor biosfere of so iets praat en laasgenoemde kan nie een sin sê sonder Engelse woorde nie. ’n Walvis noem sy byvoorbeeld ’n whale, waar in jou lewe. Op die oomblik sing daar ’n ou op Fritz se gospelprogram en hy praat van Dzjiezas in plaas van Jesus. Wat de fok gaan aan!?

Die gevolg van hierdie slapgathouding is dat Afrikaans kwyn. Selfs FW de Klerk het nou die dag dieselfde te kenne gegee toe hy een of ander prys ontvang het. Dit help ook nie om die teendeel kamtig te bewys deur die feeste aan te haal nie, almal van hulle word in elk geval al hoe meer Engels. Op-die-koppie is al amper heeltemal Engels en dit lyk my sy tema elke jaar is al lankal Engels.

Luister maar na die radio. Gaste, en selfs omroepers, praat al hoe swakker Afrikaans. Daar is uitsonderings; Derrich Gardner het byvoorbeeld nie daardie uiters irriterende gewoonte om Engelse woorde in Afrikaans met daardie swak 'r' uit te spreek nie. Arme Amore knoop omtrent elke keer haar tong as sy 'Red River Rock' sê. Hugo, die sanger, het ook nie daardie nare aanwendsel nie; hy praat van Roy Rogers, nie Woy Wodgers nie.

Ek moet groet, my brief is seker al oor die 600 woorde (maar goddank daar is nog mense soos Dan Roodt en Steve Hofmeyr)

Jan Rap

NS Is daardie Maria du Toit op die tuisblad nou nie ’n absolute godin nie.

  • 2

Kommentaar

  • Jan Rap

    As Steve Hofmeyr aangewys gaan word as die grootste Afrikaner ooit sal dit darem nou water op die meul wees van daardie groepe wat die onsmaaklike karikatuur van die Afrikaner geskep het.

    Ek sal nogtans nie soos Ruda Landman bedank as Afrikaner nie – ek sal bloot ’n skaam Afrikaner wees.  

    Groetnis

    Thomas

  • Thomas

    Die karikatuur van die Afrikaner is die handwringende askiesvraende pateet en hulle is ’n geweldige verleentheid. Hierdie handeling van hulle maak die Afrikaner veragtelik in die oë van die grootste deel van die bevolking want die verskonings en strewe na kamtige versoening kom nadat hulle nie meer in beheer is nie; hulle brandmerk hulself dus as huigelaars. Niemand hou van huigelaars en verloorders nie; almal hou van wenners, veral die grootste deel van die bevolking.

    Hierdie huigelaars is gevaarlik in dié opsig dat hulle dat hulle wraak uitnooi; mense pik op swakkelinge en trap op dié wat lê. Steve Hofmeyr is genadiglik ’n bewys ons is nie almal so nie.

    Groetnis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top