Joran Noordewind deur Lilli Thal: ’n vars en verbeeldingryke fantasievlug

  • 0

Joran Noordewind
Skrywer: Lilli Thal
Vertaler: Amelia de Vaal
Uitgewer: Protea
Genre: Jeug
Prys: R160,00
ISBN: 978-1-86919-762-9

Koop Joran Noordewind by Kalahari.net

Joran Noordewind (2012) is ’n aangrypende fantasieverhaal geskryf deur die bekroonde Duitse jeugboekskrywer Lilli Thal. Dit is meesterlik vertaal deur Amelia de Vaal, wat in 2012 op plaaslike bodem die Elsabé Steenbergprys vir Vertaalde Kinder- en Jeugliteratuur ontvang het. Dié Afrikaanse vertaling behou die magiese misterie, die skerp humor, die interessante benaming en -taaltoertjies en die meevoerende plot van die oorspronklike verhaal. Dit verleen aan die roman ’n universaliteit, omdat dit net so herkenbaar met die Suid-Afrikaanse leser kan resoneer en, soos die agterblad dit stel, “die leser sal meesleur na ’n wonderwêreld wat bes moontlik vlak onder ons neuse bestaan”.  

In die eerste hoofstuk, getiteld “Ontmoetingsdag”, word ’n groepie bloutjies voorgestel wat pas hulle metamorfose tot skoenlappers voltooi het. Aan die hoof van ’n avontuurlustige viermanskap is Joran Noordewind, wat op pad is na sy eerste Ontmoetingsdag en reeds in vervoering dink aan die skoenlappermeisies wat daar op hulle wag. Soos die skoenlappers na die plek van ontmoeting aangevlieg kom, word die atmosfeer tasbaar geskets: “Uit alle rigtings kom bloutjie-ouens en -meisies aangefladder na die dal onder die Glasgordyn. Tussen die rotshange dans ’n vibrerende, flikkerende skare, ’n wolk van hemelblou opwinding en afwagting.” (9)

Die Glasgordyn is die insekte se benaming vir die enorme waterval wat die ruimte waarin die skoenlappers sorgeloos kan vlieg en baljaar, skei van die Klipkoninkryk wat agter die Glasgordyn bestaan. Die Klipkoninkryk word beskryf as “’n gruwelike onderwêreld waar gewetenlose kewers die septer swaai, [en] skoenlappers en motte soos slawe werk”. Dit is na dié koninkryk waarheen Joran op die Ontmoetingsdag ontvoer word deur drie slinkse perdebye.

Met Joran se aankoms in die Klipkoninkryk word hy na die slawemeester geneem, ’n oorgewig harlekynkewer, wat daarvoor sorg dat elke nuwe skoenlapperslaaf se posbeskrywing deur “lesende luise” in die skoenlappers se vlerke uitgevreet word sodat almal dit kan lees. Só word Joran die koningin se stom borsspeld – ’n gemene truuk omdat hy juis so baie van geselsies hou.

Joran se intelligensie, sin vir avontuur en bravade veroorsaak gou dat hy ook die koningin se boodskapper word – hy leer die blomkode aan waarmee die geheimsinnige Eksodus-beweging kommunikeer en word sodoende ’n belangrike skakel in dié beweging se doen en late. Joran se karakterisering illustreer ’n interessante en geloofwaardige balans tussen dapperheid, arrogansie, naïwiteit en sensitiewe intuïsie. Skerp, sarkasties en vreesloos in sy op- en aanmerkings, sorg hy vir ’n groot deel van die boek se heerlike humor. Hy het ’n mond wat dikwels veel vinniger werk as sy brein – iets wat hom telkens in die moeilikheid laat beland én hom ook daaruit help.

Die ruimtes in Joran Noordewind is bekend dog magies. Dit word met geoefende vakmanskap en verbeelding geskets sodat die bekende werklikheid van die leser afgespeel word teen die sekondêre fantasiewerklikheid in die verhaal. In die Klipkoninkryk is daar die Glasgordyn wat die kewers, spinnekoppe, motte en skoenlappers gevange hou in ’n nat rotswêreld. Daar is die ruimtes van die paleis, die Geurige Kwartiere – waar die koningin en haar bediendes woon – en die kroeg/weddery. Dan is daar die gevreesde labirint – die tronk waarheen kewers gestuur word wat die koning teëgaan – en die kragtige ravyn, wat ’n insek se dood kan beteken. Die offa-myne speel ’n belangrike rol in die verhaal, omdat offa deur die koning en sy gewetenlose kommandant, genaamd Klipsteen, gebruik word om insekte te manipuleer en af te pers. Die offa “laat jou dae lank versadig en tevrede voel” (17) en die insekte sal bykans enigiets doen om daarvan in die hande te kry.

Die manier waarop daar in Joran Noordewind ’n hele nuwe insektewêreld tot in die fynste detail geskep word, herinner aan die towerwêreld van die Harry Potter-reeks. Dit is egter kleurryk en kreatief in die skep van ’n outentieke fantasiewêreld: Daar is, om enkele voorbeelde te noem, die stekeltor wat larweliedjies komponeer; die speletjie brommerboemel; die kommandant se rang, wat met ’n bloedsuier op sy linkervlerk aangedui word; die naaldekokers as die koning se huursoldate; die verwysings na “wonders [wat net] gebeur in sentimentele sonbesietreffers” (226) en die groot gebeurtenisse van die Dag van die Verdwynende Water en die Triomftog, wat in sommige kringe die Peswurm genoem word. Die Geheime Polisie staan in diens van die koning en bestaan uit die Steeloë – gemene kewers met ’n pragtige metaforiese benaming. Daar is ook geheime roetes, misterieuse profesieë, die dapper Eksodus-beweging en die Verskriklike Misdadiger, die opperste vyand van die koning.

Dit is juis dié charismatiese Verskriklike Misdadiger wat ’n sleutelrol in die verhaal speel en by wie Joran leer dat dinge nie altyd is soos dit lyk nie. Soos Sias, die Helper, dit stel: “In die Klipkoninkryk is alles nie soos dit met die eerste oogopslag lyk nie.” (99)

Kritiek kan gelewer word oor die lengte van die boek, wat wil-wil neig na omslagtigheid en herhaling en daarmee saam die spanningsdrade plek-plek laat val. Hierteenoor sorg Joran se verknorsings vir asem-ophou-oomblikke en die groot byeenkomste word met sterk spanning gelaai. Enkele dele en sinne is té uitgebrei en ’n aantal toevallighede speel ’n rol in die ontwikkeling van die plot. Die uitstekende karakterisering en skep van ’n fantasiewêreld vol intelligente humor oorskadu egter hierdie kritiek.

Op ’n baie subtiele manier word sosio-politieke konsepte, byvoorbeeld klasverskille, magsug, propaganda, tirannie, asook die revolusionêre stryd om vryheid en die strewe na gelykheid en menseregte (insekteregte), deel van ’n lekkerleesstorie. As leser word jy ingetrek en betower deur die magiese wêreld wat voor jou oë ontvou. Die boek bly jou by en laat jou met die lees daarvan, én daarna, dink aan hoe bekend dié fantasiewêreld tog eintlik is en hoe baie daar van die alledaagse werklikheid geleer kan word uit die insekte se gesamentlike stryd. Soos die leier van Eksodus die universele waarheid stel: “Elke generasie bring sy eie, nuwe Klipsteen na vore.” (180)

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top