WF 2012: RIP – moderne selfmoord

  • 0

Swart gevlekte voete skuifel deur die asbes. Die lug hang swaar en somber oor die suurreënverteerde geboue. Die blomkoppe hang laag, onbewus van lentetyd. Gedemp en gedwee sloer die wesens in die teerstrate rond. Voedselbronne is skaars; uitgeroei. Rooi is die wolke soos die son ’n bitter stryd voer om vitamien D aan die hulpeloses te voer.

Maar vanuit die vergane wêreld het ’n nuwe stad verrys – bewoon deur óns skeppings ...

Blink gepoets, stralend staan hy: NX108. Hy kyk uit, af na hulle daar onder: die swakker spesie – die sterflinge. Apaties dink hy terug aan die dag toe hy aangeskakel is, in die lewe gebring is deur die wetenskaplikes wat hul eie skepsels so onderskat het.

Met beheerste opgewondenheid het doktor König die mikroskyfie met die geprogrammeerde persoonlikheid ingeplant en geaktiveer. Die bioniese oë het oopgeskiet en die masjien het begin lewe. Hy sou die toekoms van tegnologie vir ewig verander. As hulle maar net geweet het ...

RIP, anders bekend as Robotics Institute Poland, geborduur in rooi letters, pryk op die dasse van die dertien wetenskaplikes teenwoordig. Die projektor flits tussen skyfies. Die voorstel word duidelik: Verhoog die maatskappy se winste deur die werkers met robotte te vervang. Die uitdaging sal egter wees om hulle so te programmeer en ontwikkel dat geeneen sal weet dat die werknemers vervang is nie. Met ander woorde, daar word gesoek na ’n onsterflike, mensgemaakte masjien gekamoefleer as ’n Godgeskape menslike wese – ’n androïed.

“Die laboratorium is tans besig met die behandeling van die gasheerliggame.”

“Gasheerliggame?”

“Die lyke wat gebruik sal word om die tegnologiese gees te huisves.” Professor Stark laat sy vingers oor die vloeibare stikstofkoue staaltafel gly. “Doktor König is natuurlik verantwoordelik vir die ontwikkeling van die meer sielkundige tegnologie.” Doktor Stark beduie na König.

König maak sy  keel ongemaklik skoon. Dit is die eerste keer dat daar direk na die omhulsels van die robotte verwys word.

“Die sielkunde van die mens is kompleks – dit weet ons, maar om van nuuts af ’n menslike siel te skep wat op ’n mikroskyf geskryf kan word, is ... wel, amper onmoontlik. ’n Ontbloting van die vele fasette van emosies en denke moet gedoen word ten einde ’n wese te skep wat dink, reageer, dóén. Ek kan julle verseker dat ek die taak kan afhandel binne die volgende drie maande. Die basiese program is klaar; die finale verstellings moet net gemaak word om dit ... aanpasbaar te maak.”

Die twaalf mans om die tafel knik. Dit impliseer dat die finale produk min of meer oor ses maande voltooi sal wees, gereed om te implementeer net voor die piekseisoen.  Perfek.

Stark gaan staan voor die venster en kyk uit oor die hemelstad – die oplossing tot die oorgroot bevolking waarmee die Japanese vorendag gekom het. Die lugruim bestaan as’t ware uit geboue van ultraligte staal wat op supergewapende betonpilare rus. Die aarde word steeds deur die onbevoorregtes wat vir die voedselproduksie sorg, bewoon.

Die lugstad het vele sosiale en politieke probleme opgelos. Geweld is ’n ding van die verlede, aangesien diegene verantwoordelik daarvoor uitgeskakel is. ’n Moderne weergawe van die Berlynse Muur is geskep – die nuwe wêreld het gefloreer, terwyl die natuurlike stadigaan vergaan het.

Oor die verloop van ’n paar maande het die droom ’n werklikheid geword. Die bioniese vesels is bedek met die menslike velpak en ’n kunsgeraamte het vir die behoud van ’n menslike fatsoen gesorg. Niemand sal die egte en die nagemaakte meer uitmekaar kan ken nie.

Na die suksesvolle aktivering van die eerste androïed het nog 299 mikroskyfies hulself volledig beliggaam in lewende weefsel. Soos die een na die ander tot lewe gebring is, het die maatskappywinste ver verby verwagtinge gestyg. Vir die statusgedrewe geldgieriges was dit egter nog nie voldoende nie.

Dit was met die skep van die “opgegradeerde” weergawe waar die probleme begin het. Doktor König het die nuwe mikroskyfie in die liggaam geplant – roetinewerk. Dit is sorgeloos geaktiveer en die nuwe wese se oë het met ’n skerp beweging oop geflits. König het besef: Hy het ’n monster geskep.

Daardie aand het König  spoorloos verdwyn – sy ontdekking saam met hom verlore ...

Dit was eers na twee maande wat die oorblywende twaalf direkteure van hul probleem bewus geword het, maar teen dié tyd was dit reeds te laat. Vyfduisend androïede het reeds in die samelewing gefloreer. RIP moes ingryp.

’n Geheime polisiemag is gestig om die robotte te agtervolg en te vermoor. Die vernaamste teiken was die eers geskape NX108 – die leier van die robotbevolking.

Na ’n deeglike ondersoek van vyf dae was die RIP-polisiemag vasbeslote dat hulle NX108 opgespoor het. Om 02:00 het hulle die afgeleë gebou aan die agterkant van die lugstad binnegeval. Hulle kon hulle egter nooit voorberei op wat hulle sou vind nie. Rustig agter sy lessenaar het ’n bekende gesig hul gegroet: doktor König.

Stom en gevries het die polisiemag gestaan. Soos een man het hulle hul gewere gelaai, reg om te skiet.

“König, staan op en sit jou hande agter jou kop,” beveel kolonel Wang.

König staan rustig op en volg getrou.

“Menere, dis regtig onnodig. Ek kan verduidelik waarom ek die afgelope tyd so skaars was. Ek moes tyd afvat. Ek moes asem skep. Ek werk aan ’n nuwe model. ’n Beter weergawe. Ek moes egter net myself distansieer van die samelewing, sien. ’n Wetenskaplike is ’n baie private mens.”

“Jy kon laat weet het, König.”

“Ek weet, ek weet, maar jy weet hulle sou my nooit die kans gee nie, Wang.”

Vir lank het niemand beweeg nie. Dit was asof die toneel gevries het. Wang laat sak sy geweer en maak homself groot.

“Laat sak, manne,” sê hy met gesag.

König glimlag skelm. Skielik gryp hy Wang vas en binne sekondes is sy woonstel oortrek met gewapende lyke. Die elektriese seine pomp deur sy staalvesels.

Hy kyk af na die wydgespreide, lewelose oë van Wang.

“Speletjie verby.”  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top